Deadlines is baie soos spandex

Liewe Persoon

Deadlines is baie soos spandex.

Jy weet; daai rekkerige materiaal waarvan baaikostuums en gym-klere gemaak word…  Dink ‘n bietjie daaroor: klim jy nou na die winter in jou swart figuur-vleiende baaikostuum (ja, die een met die lae rug en die valletjies om die heupe) en kyk wat kan daai stukkie spandex alles bymekaarhou! Sommer so met eenslag omvou dié stukkie wonderlap drie maande se comfort eating en twee mislukte banting diëte.  En vir ‘n wyle is die wêreld ‘n beter plek… tot jy jouself op ‘n foto sien en terstond (weer) ophou eet.

Nou in die korporatiewe oerwoud sal jy ver moet soek om ‘n Jane SONDER ‘n spandex-pakkie propvol deadlines te vind. Ons verkies spandex, want jy kan letterlik net aanhou inprop – die een deadline op die ander. Almal weet mos (van die huisvrou, tot die student op varsity, tot die uitvoerende beampte van ‘n multi-miljoen rand maatskappy) dat ons eintlik ons beste werk lewer net so ‘n uur voor die tyd uithardloop. Dis in hierdie benoude minute voor die spreekwoordelike klok slaan dat ons soos Superwoman van ouds die dag red met ʼn perfekte souflé, ʼn uithaler opstel of ʼn knock-out Excel spreadsheet.

Die enigste nadeel van hierdie spandex-pakkie, soos met die berugte swart baaikostuum, is dat maande se inprop en vasdruk nogal vir ʼn verrekte affére kan sorg. En dan tref dit jou skielik op ʼn dag: my spandex-pakkie hang al ver oor my kniekoppe… en pleks daarvan dat dit vashou en vasklou is dit nou net ʼn ekstra stuk baggasie wat saamgesleep moet word. Dit is dan wanneer dinge regtig dreig om te lol. Die telefoon wil nie ophou lui nie, die kinders sukkel al weer met loopneuse en die dosent wil net nie verstaan nie…

Eers dan, in retrospeksie kom die besef dat spandex nie die antwoord is nie. Altans nie op die langtermyn nie. Ek sien al die koerantopskrifte in my kop: “Deadline-killer strikes again!” of nog meer dramaties: “Deadline denail drives Jane down” Nee!

Ek sal beter moet beplan. Lysies maak. Vroeg opstaan.

“Jy eet ʼn olifant stukkie vir stukkie” meen my vriendin – en ek kan nie anders as om saam te stem nie. En anyway, ek wil nie by wees as daai olifant se spandex-pakkie se naat skeur nie…

imsis261-006

Advertisements

Vrydag-oggend blues

Liewe Persoon

In die dae toe ek nog op skool was, het ons regte-egte LO gehad of is dit nou gehaat? (laasgenoemde is mynsinsiens meer gepas). LO menende Liggaamsopvoeding.

Ons moes altoos elke week vir een of twee periodes in die reeds beknopte skoolbadkamer inhardloop, van ons groen skoolrokke ontslae raak en soos blits ‘n kortbroek en t-hemp aan ons bas kry. Dan het almal op die rugbyveld bymekaar gekom.Die LO-juffrou het altyd soos Michelle Bruce – Mej SA 1989 gelyk – met sulke spiral-perm hare, ‘n scrunchy en een van daai sweetpakke wat van valskermmateriaal gemaak was.

Daar was altyd die atlete – met die bruingebrande bene, die ‘cool’-girls met die geverfde toonnaels (en per geleentheid ‘n toonring) en dan… dan was daar Annette. Dit het permanent gelyk of ek oppad melkstal toe was – so wit was my bene. Maar dit daar gelaat.

Dan moes daar spanne gekies word. Ek was toentertyd al bekend vir my gebrekkige hand-oog-koördinasie, met die gevolg dat ek altyd laaste gekies is. LO-periode was ook ‘n ewigheid lank…. en van al die gehollery en rondspringery en bal misvangery het ek kort voor lank soos ‘n verstekeling op ‘n vragskip gesweet…

Ek onthou tot vandag toe hoe my longe gebrand het en my mond so droog was dat ek my wange krummels gebyt het!  Vrydae-oggende is baie soos die wete dat die LO-periode nog net een klok ver is: jy moet deurdruk, hyg-en-sweet en per geleentheid jou skoenveters vastrap MAAR as dit verby is, dan is jy verlos vir ‘n week!

Nog net ‘n paar uur, dan is die naweek hier! Vasbyt, vriende!

womens-80s-height-of-fashion-suit

Hop, hol en huppel!

Liewe Persoon,

Die wêreld is aan die verander – en nou praat ek nie net van global warming en die vooruitsig van ‘n Wallmart in Vanderbijlpark nie!
Hier waar ek vandag sit het ek wraggies ‘n kolletjie én strepie kombinasie aan, ek besit (meer as een) string pêrels en ek ken die woorde van minstens twee Robbie Wessels-songs.
So ry ek vanoggend die kampus binne en word begroet deur ‘n klomp drawwende studente – nou dit is op sigself nie vreemd nie. Fisiese oefening is mos goed… maar in jou pajamas?! En moenie dink die betrokke persone is selfbewus nie… hulle hop, hol en huppel vir die beker! Ek ry amper oor die randsteen toe ek een in ‘n onesie (groot “babygrow”) sien draf – darem met die nodige tekkies aan!

Wat is volgende? Vreemder as fiksie…

1076705015_492

 

…en dit is hoe ons (af)rol!

Liewe Persoon

Dit is ‘n Silky Shine Sheer Black-Arwa-Maandag! (Vertaling: mooi om na te kyk, maar ondraaglik om te beleef).

Vir die wat nou ‘n bietjie kopkrap – ek praat van pantihose / broekieskouse. Dit is ‘n vroue-ding (of altans, dit was altyd).  Dié ding van broekkieskouse wat óf hopeloos te groot is en dan om jou enkels in sulke rolle bymekaarkom, óf broekkieskouse wat belaglik groot gelyk het (so met die eerste skatting) en dan uiteindelik net tot bo jou knieë kan rek.

So. Ongeag of jou broekieskouse te groot of te klein is, jy sit met rolle. Rolle wat dreig om af te rol (en afhangende van watter van die bogenoemde lot jou getref het, sal die rol-aksie natuurlik óf blitsvinnig óf sleepvoet-stadig plaasvind). Daar is net twee dinge wat erger is as só ‘n rollende Silky Shine Sheer Black-Arwa-Maandag: ‘n properse tandpyn en skoene wat druk. Genadiglik is ek dit vandag gespaar.

Het jy al agtergekom dat ‘n mens nie ‘n seer tand of ‘n skoen wat druk kan ignoreer nie? Jy kan probeer om ‘n pose te hou, maar dié is ‘n pyn wat sommer dadelik in jou oë kom sit. Die wroeging kan ‘n myl ver bespeur word. My oorle’ Ouma Cielie het baie rate gehad vir tandpyn – want sien, in haar-dae was tandarts-se-kind mos nie net ‘n klipgooi ver nie én die pyn het nie altyd gewag vir die maandelikse opruk-na-die-dorp -vir- Nagmaal nie.

Jy kon, byvoorbeeld, jou mond met louwarm-Engelse Sout uitspoel (moet net onder geen omstandighede sluk nie, want dan gaan haal jy weer ‘n ander ellende agter die bult), op ‘n besope naeltjie (probeer) byt en die dapperes kan ‘n lappie deurdrenk met pyp-olie vasbyt.  Die raat om bruin skoenwaks aan jou wang te smeer klink vir my ‘n bietjie dik vir ‘n daalder…

Maar om terug te kom na my Arwa-Maandag…vandag is dit vergadering op vergadering, dit kom aangerol (of is dit nou afgerol?) soos ‘n vloedgolf. Eerlikwaar, ‘n begrotingsvergadering op jou nugtermaag? Dit was dan ‘n paar uur terug nog naweek?

Ek dink al wat nog gesê moet word is: “…and this is how I roll!”

6001304092535

 

Om knolle as sitroene te verkoop

Liewe Persoon

Hulle sê dit is die laaste strooihalm wat die kameel se rug breek, maar dit is beslis goeie bedoelinge wat ‘n vrou se moed breek.

Dink ‘n bietjie daaroor: jy koop vir iemand ‘n tjoklit – met die beste bedoeling ter wêreld, net om uit te vind hy/sy is op ‘n streng dieet. Jy koop ‘n bossie blommie en die ontvanger word op die plek oorval met ‘n hooikoors-aanval. Jy probeer jou ma se lekker groentesop maak (waarvan die resep terloops nêrens op ‘n stukkie papier neergeskryf is nie), en eindig op met ‘n pot vol bredie waarvan die sous so dik is dat die houtlepel sommer-so regop in die brousel bly staan…

Die werksplek wemel ook van goeie bedoelinge, maar dit is asof die angel so ‘n bietjie meer brand in die korporatiewe oerwoud. Amper soos wanneer een van daardie klein rooiperdebytjies jou bydam – ek sê jou wat daardie perdebye in grootte te kort skiet maak hulle op met ‘n hotter-as-hell steek!

Om terug te kom na die korporatiewe oerwoud en goeie bedoelinge. Elke oerwoud het een of meer van die volgende karakters:

Mededeelsame Martie. Dis nou daardie kollega wat daarop aandring om almal in die kantoor, senior bestuur én die uitgebreide lede van die kabinet op hoogte te hou van hul doen en late. Met goeie bedoeling natuurlik: om te spog, om sy/haar mond oor iets uit te spoel, om japtrap-resepte te deel (raar, maar beslis waar), en dan natuurlik om verantwoordelikheid te ontduik. Laas genoemde is ongelukkig die meeste van die kere die culprit , want sien ‘n gedeelde las is mos ‘n ligter las!

Jammer-om-te-pla Jannie. Hierdie kollega wil nie sommer pla nie. Nooit nie. In die geval van ‘n paw-paw strike die fan oomblik sal Jammer-om-te-pla Jannie gewoonlik sy verskyning maak. As dit te laat is. As die skade en skande reeds gepleeg is. Dit is egter belangrik om te onthou dat hy dit goed bedoel het toe hy jou nie van die sperdatum vir die jaarverslag of die vergadering met die direkteur vertel het nie.

Klara Kommentaar. Klara Kommentaar is van kleins af geleer dat ‘n mens altyd net die waarheid moet praat – wat opsigself nie ‘n probleem is nie, dis net dat sy nooit geleer het dat as jy werklik niks opbouend het om te sê nie, jy liefs maar jou smoel moet sluit. “Ek sien jy het jou hare gekleur, ek is bly. Die blonde strepe het jou baie soos ‘n ou ooi wat haar lyf lamsvleis hou laat lyk”  of nog beter “Jou artikel is seker nie te sleg nie, maar ek dink tog jou invalshoek moes meer trefkrag gehad het”. Praat van break em’ down to build em’ up…maar ten minste was haar bedoeling goed.

Never a dull moment sou party mense seker sê.

Ek dink egter egter daar steek baie waarheid in die ou gesegde van “The road to hell is paved with good intentions…“, en dan wat baie mense vergeet: “… but heaven is full of good works!”  Dit is tyd dat ons dade harder praat as ons bedoelinge… want in die meeste gevalle is ons bedoelinge so ver verwyderd van ons dade soos perdevye van sitroene!

b4998d3901d77f366424d4c2fbb37284

…wiele en wysheid

Liewe Persoon

Stel jou voor: ‘n dag sonder drama (of eerder melodrama)!  Ek hoor jou vra of voorspelbaarheid dan ‘n gesogte tydverdryf is? Ek dink nie so nie, maar op ‘n dag soos vandag sou dit ‘n welkome alternatief gewees het.

Om my oorle ouma Cielie – aan moederskant, se wysheid aan die dag te lê: ek ken moeilikheid en ek ken pampoen, en hierdie is nie pampoen nie! Die dag het net verkeerd begin: eers kon ek nie ‘n enkele kledingstuk kry wat nie óf gestryk moes word óf my nie soos ‘n swak gestopte stuk boerewors laat lyk nie. Toe ek uiteindelik  (met’n effens vreemde ensamble ) uit die huis stromplel, toe begin die spreekwoordelike sparks die wêreld vol te spat (ja, spat!).

Ek klim in Vlam,sit my sitplekgordel aan en ry agteruit – net om te besef dat ek nooit die motorhek oopgemaak het nie! Van pure skrik gly my voet toe van die clutch en Vlam ruk-ruk dood, amper soos ‘n gekweste buffel. My hart klop in my keel en so maklik as wat dit was om die sitplekgordel vas te maak, so moeilik word dit om net die knoppie te druk om uit my geforseerde omhelsing te kom.

Snaaks hoe ek altyd in sulke situasies aan my pa dink! Hy was nog al sy lewe baie erg oor sy karre – van daardie eerste Renault Dolphine met die sunroof in 1961  tot die donkerblou Ford Cortina, die wit Datsun Bluebird en jou wrintiewaar ook die rooi Skyline. Tot kort voor sy kennismaking met die rolstoel en die lewe as ‘n parapleeg het hy elke Saterdag nog self sy kar gewas – om die waarheid te sê, ek kan die kere wat hy ‘n kar na ‘n wassery gevat het op my eenhand aftel! Trots.

En wat maak ek? Ek klim in my kar en ry werktoe SONDER om eers die hek oop te maak. Met bewerige bene – en met pa in my gedagtes, het ek die skade bekyk: twee strepe (eerder slote) op die buffer. Genadiglik het die slot van die hek die agterlig gemis, maar ook net-net.  Nou diegene wat my ken sal weet dat ek summier die aantreklike soort is – dit is nou my gawe om my iets (werklik enigiets) aan te trek. So onmiddelik sien ek in my geestesoog hoe mense my aanstaar en agter bakhande fluister. Ek hoor sommer ook hoe iemand (baie voorbarig) vra of ek ooit ‘n geldige bestuurderslisensie het… o, die ellende en vernedering!

Ek bel my pa. Hy moet weet. Dit is die regte ding om te doen (al is ek reeds 36 jaar oud).

“Aardse goed my kind, ons sal kyk en ‘n plan maak”. En net so haal hy die wind oombliklik uit my (gespanne) seile. “Maar pa, dit lyk of ‘n Kalahari-leeu vir Vlam met ‘n allemintige poot geklap het!” Ek hoor hy aarsel ‘n bietjie voor hy antwoord – ‘n Kalahari-leeu is immers nie jou maat nie. “Sulke dinge gebeur – en ja, dit is nou ‘n jammerte, maar dit is gedane sake. Is jy darem oraait?” Skielik brand die trane my oë en ek besef net weereens hoe maklik ons ou mensdom verstrengel kan raak in die hier-en-die-nou. Hoe maklik ons in drama – en melodrama, vasgevang word.

Ek kon doen sonder vandag se drama en Vlam sou beslis kon doen sonder die skade. Maar as vandag maar net nog ‘n voorspelbare Donderdag was, dan sou ek nooit eerstehands kon ervaar hoe wysheid wel met die verloop van die tyd kom nie. Ek sou nie kon sien hoe my pa as ‘n jong lat met ‘n 1954 Fiat Cub die grondpad van die lewe teen ‘n hele paar myl (te veel) per uur vat tot by ‘n wyse en Godvresende man van 68 jaar in custom-made Chairman-rolstoel.

Dankie pa.

12038324_10153677841044031_6540690865710724141_n

 

 

Schalkie, sy skyf en ‘n cool drink

Liewe Pesoon

Schalkie het nie n tand in sy mond nie. En ook nie n haar op sy kop nie. As jy hom so van n afstand bekyk trek hy nogal verstommend baie na Popey – veral as hy sy ken so optrek en sy onderlip feitlik tot onder sy neus trek.

Hy het nie n Olive aan sy arm nie, maar wel n kardoessakkie vol medisyne en n bloukaart met sy maandelike voorskrif daarop gedruk. Hy dra n groot silver horlosie en n ou nokia in n geel selfoonkous om sy nek. Hy wag dat die tehuis se bussie hom kom oplaai.

My oog vang sy kouse – sulke pers-en-wit-gestreepte bedsokkies van Pick n Pay. Hy is al aan die verkeerde kant van 60 – wie weet, dalk selfs 70. Hy lag oopmond vir almal in die oorvol wagkamer van die rehabilitasiesentrum en stel homself aan almal voor. Party groet vriendelik terug, een tannie hou haar handsak stywer vas en n paar mense hou hul oë gefokus op hul selfoonskerms.

Terwyl ek wag vir n beurt om een van die administrateurs te sien, vang Schalkie se oog my pa; waar hy in die kar – reg voor die deur na die kantoor, vir my wag. En met n waggel in sy stap is hy uit by die deur en reguit na my pa.

Nou almal wat al met die Staat te doene gehad het, weet dat jy nie sommer jou plek in n ry verlaat nie…so pa was op sy eie. Na wat soos n ewigheid gevoel het, is Schalkie terug. Nou sit hy langs my…hy flits daardie hemelbreë glimlag en gums vir my en sê: “Sjym, die oom in daardie ‘motour kar’ is verlam – sy bene is net kapoet! Hy het sy eie rystoel daar in die boot“.

Ek skud my kop, en voor ek iets kan sê, sê Schalkie: “Die oom rook nie, maar hoe lyk dit – het jy vir my n skyf of n cool drink?”

En daar tref dit my – ons word ontvang in die wêreld as onskuldige kindertjies en soos die jare verby vlieg word sommige van ons weer kinderlik in ons wese. Schalkie is só n “kind” vasgevang in die wip van ouderdom.

Onskuldig.

En sowaar gelukkiger as ek en jy met al ons goeters en besittings , en ons bekommernisse en frustrasies. Die Here sê ons moet glo en vertrou soos n kind…en ek weet voor die son vanaand gesak het, het Schalkie n skyf én n cool drink gekry.

Hy is gelukkig. Hy het vrede…

Love-Smile-Wallpapers-55770