Lady Di, my pa se royal sweetheart

Liewe Persoon

Die 31ste Augustus 1997 was ‘n Sondag. Ek onthou dit soos gister. Ek en die Juffrou was in matriek en het die volgende dag Biologie-eindeksamen geskryf – in die saal van die NG Moedergemeente in Virginia.

My ma was in die bad en my pa is vroeg reeds myn toe.

Ek en die Juffrou het soos twee zombies voor die televisie gesit in ‘n desperate poging om van die Biologie te ontsnap. Dit was nog in die jare van KTV (op MNet). Dié oggend was Lady Di Princess of Wales op al wat ‘n stasie is. Ek onthou nog hoe ek en my sussie gegrap het oor daai trourok en die afdraande uitdrukking op Prins Charles se gesig (wat na jare blyk om inderdaad die Ware Jakob te wees… dit was toe nie net ‘n uitdrukking nie). Ons kon (of wou) eenvoudig nie glo dat ‘n prins met so ‘n bakkies (om nie eens van sy ore te praat nie) so ‘n gelukkie kon raakkyk nie – en dat die gelukkie (Diana Spencer) sou terugkyk nie!

My pa het die tyding gebring. Hy het van die werk af gebel om te hoor of ons die “verskriklike” nuus gehoor het. Op daardie stadium het ons nog nie van Lady Di, die tonnel en die wit Uno geweet nie… maar wel gewonder hoekom sy op elke moontlike televisiekanaal pronk. Shame. My pa se stem het skoon gebewe, so asof Lady Di net hier bo in die straat op bly en Vrydae met die kinderkrans gehelp het. Hy het nog altyd ‘n soft spot vir die royals gehad. Tot vandag toe kan hy nie verby ‘n Huisgenoot loop met prins William of hertogin Catherine nie. “Sulke mooi kinders…”

Dit was hartseer – gegewe, nie so hartseer as wat dit vir pa was nie. Die hele gedoente daar in Frankryk het ook vir Ouma Sielie (aan moederskant) vreeslik omgekrap.  Om die waarheid te sê, die hele Vredefort-distrik was in diepe rou gedompel.

Om te dink 19 jaar het al verloop sedert daardie Sondag-oggend.

Haar begrafnis is wêreldwyd gebeeldsend en ja, in Margaretstraat 12 in Virginia, het die Willemses ook sedig op ‘n ry gesit en kyk hoe William en Harry voor hul ma se kis aanstap. Toe Elton John lostrek met English Rose moes ek myself verskoon (want ek kan my ‘n emosie mos vreeslik aantrek) en ek onthou hoe Ouma vir die Juffrou gevra het vir ‘n sakdoekie. Pa het nie gepraat nie, selfs nie eers toe Ma onderlangs ‘n lagbui probeer onder bedwang bring nie. Jy sien, Ma meen Lady Di was mens – nes ek en jy, en sy kon bloot nie verstaan waarom Pa so diep geroer is deur die gebeure nie. As ek nou daaraan terugdink dan moes ons ‘n aardige site gewees het: Ouma met haar hartverskeurende snikke, die Juffrou wat swaar sluk en ek met my snot-en-trane-vertoning – als op die klavierklanke van Elton John.

Ek wonder of Pa weet dat dit vandag sy royal sweetheart se herdenkingsdag is?

Princess_Diana_wedding_dress

 

 

 

 

Advertisements

Die Hongkong-hoenderpiep!

Liewe Persoon

‘n Dooie hond blaf nie. En so ook nie ‘n gekrokte Samsung nie. In fact ek wil dit waag om te sê dat NIKS  vandag na behore wil werk nie!

Ek het ‘n dom ding gedoen: ek het Saterdag my slimfoon laat val. Ek staan steeds verstom oor hoe so ‘n geringe val (van die tafel na die vloer) die hele skerm in ‘n spinnekopweb van glas verander het. En net so is driejaar se goeters ook na die maan: name, nommers, selfies en kiekies van bekendes; bemindes; vreemdes en vromes. So kom Pilletjie gister tot my redding met ‘n “nuwe-ou”foon (nuut vir my, maar oud vir haar) en my bolip hou op bewe.

Vanoggend help ek omtrent die spannetjie by die selfoonwinkel om die deure oop te sluit, want ek moet DADELIK weer op die lug kom (jy weet, vir werk en so…). R600 later stap ek uit die winkel gewapen met die “nuwe-ou” foon en verskeie produkte om die impak van ‘n  toekomstige groot val teen te werk. Net voor ek terugry kampus toe, stop ek by Woollies vir iets om aan te knibbel… en net hier begin my tegnologie-nagmerrie (mediese term: Hongkong Hoenderpiep): my foon lui en ek vroetel in my handsak na die foon (wat baie dunner is as my oorle’ Samsung)… ek kry dit raakgevat en tot my skok besef ek dat ek met ‘n Karen Zoid CD teen my oor staan (foon steeds skreeuend in die handsak). Turns out ek het misgevat. Ek sal nooit die mense om my se gesigsuitdrukkings  vergeet nie (en ek sal nie gou weer by daardie tak van Woollies kan koop nie).

Terug by die kantoor bekyk ek al my nuwe gadgets vir die “nuwe-ou” foon. Onder andere die Combo Adapter vir die Samsung A5… net jammer ek het die boksie gevat – en betaal, wat lees: “For iPad 4”. AAAAAAGH! Teen hierdie tyd het ek besef dat ek straks die ergste graad van die Hongkong Hoenderpiep het wat nog in die moderne tyd uitgebreek het.

‘n Kollega van my – dierbare mens en skeinbaar immuun teen die Hongkong Hoenderpiep, het my een kyk gegee en die foon gevat. Sy het verder met die updates aangegaan. Ek skuld haar ‘n groot tjoklit (…of ‘n iPad 4 Combo Adapter). Jy sou dink dat my techno-challenges nou iets van die verlede is, maar helaas… Ek maak my epos-kalender oop en skielik het ek – tot en met die 31ste Desember 2016, nie ‘n enkele afspraak of vergadering nie! Ek skrik my in ‘n toestand… net om deur ‘n ander kollega daarop gewys te word dat ek ‘n filter op my epos het. Sy druk een knoppie en skielik word daardie kalenderblokkies voller as Loftus Versfeld tydens ‘n tuiswedsryd.

Ek is gedaan! Die Hongkong Hoenderpiep is nie vir sissies nie…

 

635861232409175268-764752028_6-cropped-Do-you-have-Technophobia1.jpg

 

As die knormoer lol en die silence(r) pla

Liewe Persoon

Ek word verwoestelik kwaad as iemand sommer so met die intrapslag meen dat ek g’n A van B ken nie! Dit is net hier waar ek my opwip soos ‘n voordanser by ‘n  Cosatu-rally nie kan droom om te doen nie…

Neem nou maar my galbitter ondervinding onlangs met die adamsgeslag van ‘n sekere voertuighandelaar wat meen vroue behoort hulself liefs met vrouedinge besig te hou – jy weet, wêreldvrede; kosmaak; koek-en-tee-oggende reël en volunteer by die plaaslike DBV . Vlam was in vir haar 30 000km diens en die oomblik toe haar agterwiele oor my drumpel ry, toe begin die spreekwoordelike poppe dans (of is dit nou spark-plugs spark?).

Jy sien. My pa, Basjan, is geseën met drie dogters – ‘n Apteker, ‘n Juffrou en die uwe, en daarom moet een van ons noodgedwonge altyd in die garage uithelp. Ek is daardie helper. Synde my pa ‘n vakman is – en daarom baie hands on is, hou ek ondervindingsgewys ook my vinger op die spreekwoordelike pols -en as dit moet is ek  tot onder my gorrelgaatjie vol ghries of houtsaagsels! So beloer ek en my pa vir Vlam van alle kante en my hart swel sommer van trots: Vlam, my eie bloedrooi vuurwa. So word die enjinkap ook oopgemaak – en wat ons daar aantref maak my pa so kwaad dat hy amper uit sy rolstoel opstaan (hy is ‘n parapleeg)! En op die plek kook my Basjanbloed ook. Die kragstuurvloeistof  se prop is MIA (Missing in Action), die ruitveërwaterhouer lek, die aircon se gas is op en wat my pa die meeste onstig het: die enjin is nie eers gewas nie! (Nota: my pa was nou nog sy eie kar – rolstoel en al).

Nou. Stilbly is en was nog nooit vir Basjan Willemse ‘n opsie nie – meer nog as dit kom by sy vrou, sy kinders, sy pekingese Steve en sy karre (my pa glo slegs ministers en miljoeners ry motors) . Die feit dat ons dié traumatiese ontdekking op ‘n openbare vakansiedag gemaak het (Vrouedag) , het hom ook nie in sy strewe na reg en geregtigheid gepooitjie nie. Dit was nie lank nie toe daag daar ‘n man met ‘n blou overall op. Dis sorry hier en please forgive me daar. Lang storie kort: hulle kon die kragstuurvloeistof se prop vervang.

Terug by die werk skryf ek ‘n swaar bewoorde e-pos na die dienssentrum bestuurder, en dit is hier waar hy my toe vir ‘n eendvoel aansien (soos ouma Sielie sou sê). Want vroue weet mos niks van karre, rugby, die stand van die Rand òf Dolly Parton af nie. Ek kla oor die lugverkoeling en hy meen ek moet laat iemand (verkieslik ‘n Adam) ook net doodseker maak dat daar ‘n fout is. Ek stuur ‘n tweede e-pos, hierdie keer aan sy lynbestuurder. Die woorde nog meer gelaai as in die eerste boodskap. Die bestuurder bel terug. Maandag kom iemand vir Vlam haal en dan sal sy (weer) deeglik bekyk word. Ek hoop heimlik dat hulle meer sal doen as bloot kyk – iewers sal iemand sy moue moet oprol en aan die vroetel raak… Vir nou is die knormoer se gemoed gesus, maar ek kan niks belowe oor die silence(r) nie!

Dankie pa! Jou Basjanbloed bruis in my are en ek kan my vrou staan – selfs in die garage.

women_driver_stranded

 

 

Krulle, koringlande en krisistye

Liewe Persoon

As iets te goed is om waar te wees, dan is dit gewoonlik ook so: TE goed. End it is juis dan wanneer jy  op jou pasoppens moet wees…

Een van die dinge op my wenslysie is om krulhare te he. Elkeen van ons loop mos met so ‘n lys rond in ons koppe – om maer(der) te wees, meer geld te maak, op ‘n bootreis te gaan of om vir Allan Donald te ontmoet.  Die probleem met die wens – soos in die geval van meeste dagdrome, is dat die realiteit amper altyd ‘n spreekwoordelike spanner in the works gooi.

So is ek is nie van nature geseën met ‘n welige bos hare nie, en die hare wat ek wel het is so dun dat die geringste briesie (selfs net ‘n gewone waaier) veroorsaak dat my kopvel skaamteloos vir die wêreld bloos. My pa meen ek trek na sy ouma Sarah…(en my ma het vir my twee bottels kafeïen-sjampoo gekoop om haargroei aan te wakker).

Maar die hoop beskaam nie.

Heatless curls is die nuutste neiging – almal se so: Pinterest, Facebook, Instagram en YouTube (en wie is ek om met die virtual village te stry?).  So koop ek vir my ‘n stel buigbare reënboog bendy sticks, want ek wil terstond ook spog met beach waves (al bly ek in die hartjie van Gauteng). Die instruksies is maklik genoeg: was jou hare, maak dit handoekdroog en kam uit. Laasgenoemde is ‘n groot stryd vir iemand soos ek met min en dun hare want dit is ‘n gekoek wat ‘n kraaines tot skaamte sal dryf. Iedergeval – it is painful to be beautiful.

Ek volg die aanwysings tot op die letter. Vir groot los krulle moet mens die dikste bendy stick gebruik. Ek verdeel my kop in vier kwarte en begin om sliertjies (te) styf om die sponsstokkie te draai. Vir die eerste keer in my lewe gaan slaap ek toe met ‘n kopdoek en curlers…

Nou wat jy op hierdie stadium nog nie weet nie, is dat die beach waves bedoel was om almal te beïndruk by ‘n fênsie werksfunksie… Die volgende oggend spring ek uit die bed soos een van daai modelle op die Special K advertensies: reg om die dag met ‘n wip in my stap te begin (om nie eens van my bonsende krulle te praat nie). Maar dit is net hier waar slim sy baas vang, of in my geval die krulle collapse! Jy weet hoe die Huisgenoot altyd berig oor vreemde sirkels wat oornag in koringlande verskyn? Wel ek kan nou uit persoonlike ondervinding getuig dat daardie sirkeltjies nie net tot koringlande beperk is nie! Toe ek daai kopdoek afhaal toe het ek sulke snaakse ronde sirkeltjies op my kop – sewe van hulle om presies te wees! Dit blyk toe dat ek die sponsstokkies verkeerd opgewen het en boonop hopeloos te styf gedraai het.

Die horlosie wys dit is 07:15 en ek het presies 45 minute oor om die grootste haarflop in Gauteng te red voordat ek laat is vir werk. My plan van aksie: probleer die spulletjie uitkam. O aarde, die besluit is toe nie so wys nie. Daar verander my koringlandsirkels in iets wat lyk soos ‘n 1985 homeperm. Wat ek met die sirkeltjies in krulle ontbreek het, het ek toe met die uitkam in volume voor opgemaak. Skielik lyk ek nes ‘ n Joolkoningin van ouds… dis net hare!

In my toestand van paniek is beach waves die laaste ding waaraan ek dink en ek besef dat ek ‘n keuse sal moet maak: of ek bel werktoe en se ek het die vorige aand ‘n verdagte hoenderpastei verorber of ek moet dadelik my kop onder ‘n kraan kry. Lang storie kort: Ek was twintig minute laat vir werk, maar my hare (dit wat na die traumatiese ervaring nog oor was) was uitgeblaas. En die aand se werksfunksie? ‘n Vriendin met ‘n lielfike bos swarthare het my sliertjies met haar krultang onder hande geneem.

Was dit beach waves? Ek weet nie. Al wat ek weet is dat ware vriendinne nie toelaat dat vriendinne heatless curls probeer op die vooraand van belangrike werksfunksies nie.  Ek is geseën met so ‘n vriendin. En op haar beurt het die Liewe Vader haar geseën met die kroon waarvan  Salomo in Hooglied skryf.

Dankie Hanlie Smuts.

bad hair

 

Goed gesout…

Liewe Persoon

Praat van ‘n rude awakening! Vanoggend besluit ek en die Juffrou dat ons – ter viering van Vrydag (hierdie was ‘n baie lang en uitputtende werksweek), die gewone Special K en volgraan roosterbrood gaan verruil vir koffie en beskuit… big mistake!

Die Juffrou drink nie suiker in haar koffie nie (en het dus borshare soos ‘n staalskropborsel…grappie), terwyl ek ‘n (oor)aktiewe soettand het. Sy brou die koffie en ek gryp die beskuitblik. Wat ‘n ontnugtering…daardie eerste sluk het omtrent my asem weggeslaan en ek was so wakker soos… wel, ‘n koliekbaba. Ek kon helaas nie my vinger (of is dit my tong?) op die fout plaas nie… maar IETS was beslis-sonder-twyfel-inderdaad baie verkeerd.

Ek sien die Juffrou hou aan drink, so my vermoede dat die melk dalk ‘af’ was is ongegrond. Ek merk dat sy nog nie ‘n beskuit in die hand het nie, en terstond begin ek aan die blik ruik en probeer (effens lomp) om die reeds (ge)doop(te)-‘n-ouma-beskuit uit my beker vis. Als lyk en ruik fine… maar jong, my koffie is hondsleg. Elke keer as ek ‘n sluk vat dan trek my slukderm vanself toe en dan sit ek soos ‘n blaasoppie met my bolwange vol koffie (voortaan genoem: brousel).  Maar ophou drink, die doen ek nie…

Na die tweede onsuksesvolle poging om die brousel met ‘n stukkie beskuit af te sluk, toe kan ek ook nie meer nie. Ek vra vir ‘n sluk van die Juffrou se koffie… sy sê nee, (trues bob, al is ons ‘n tweeling weier sy reeds van doekdae om haar kos met my te deel). Ek vra: “proe die koffie vir jou weird?” Sy skud haar kop en vat nog ‘n teug van haar Hug-in-a-mug … ek staan op en gaan gooi die brousel in die wasbak uit. Dis toe dat dinge vir my duidelik word…

Ek het onlangs nuwe glashouers vir die kombuis gekoop (onlangs soos in eergister) en een van die houers is vol sout! Die Juffrou het altoos vir my twee opgehoopte lepels sout in my boeretroos ingeroer…

Die gevolg van hierdie misverstand het my vandag agtervolg soos die knoffel in Saterdagaand se vleisbraai-sousie… en dit op die dag wat ek ‘n werksinkel moet aanbied vir ‘n groep akademici! Needless to say dit was ‘n lang en dorstige dag.

Geen wonder woestynkamele tuit altyd hulle lippe so nie –  ek verstaan! Dit is ‘n diepe dors wat ‘n mens nie vir ‘n ander kan beskryf nie.

4248260-salt.jpg