Sonde met die bure

Liewe Persoon

My Ma-hulle het nuwe bure. Hiermee haar beskrywing van die Lotters*

Elke môre half ses dan brul Devon* se 250cc motorfiets straataf. Dit is ook dan wanneer Bokketjie* (sy bekoorlike wederhelf) haar pienk night gown stywer om haar skouers trek en haar eerste sigaret van die dag aansteek. Hulle toiingrige poedels rek en strek en steek ook dan hul blinkswart neusies by die voordeur uit, net om reguit hek toe te hardloop en die hele kompleks se honde aan die blaf te sit.  Dit, my liewe mens, is ons nuwe bure, oorkant in oorlede tannie Visagie se huis.

Hulle is nie meer piepkuikens nie, as jy my vra, maar lyk my hulle het ‘n ding oor motorfietse: Devon* het so ‘n rooi gevaarte en Bokketjie* het ‘n pienk Pasola-bromponie. Hulle off-white Opel Kadett staan onder die likwartboom.

Ek het maar koffie en beskuit oorgeneem toe hulle intrek, en soms is ek sowaar spyt ek het dit gedoen! Dis darem ook nie aldag lekker om die regte ding te doen, of om die regte geluide te maak nie – soms kry jy ‘n lelike hou oor jou snoet vir al jou moeite. Bokketjie* drink net decaf  en volg die Banting-dieët so sy sit nie haar lippe aan beskuit nie. Sy het egter die bordjie beskuit gevat en nog nie my kleinbordjie teruggegee nie! Ek hou nie my asem op nie.

Ek dink nie ek en Bokketjie* sal saam na die boekklub kan gaan nie, sy is glo nie een vir lees nie, sê sy, prentjies kyk is lekkerder en minder moeite (verbeel jou!). Jare terug toe was daar sulke fotoboekies met die minimum byskrifte, my oorle’ Ouma het altyd gesê daar is twee dinge wat nooit in haar huis sal wortel skiet nie; fotoverhale en kougom. Nou dat ek daaroor nadink, dit was ook nooit in ons huis nie.

Jy weet hoe heilig Pa op sy gereedskap is, en Devon* het knaend iets nodig uit ons buitekamer, ek dink hier kom groot moeilikheid, want leen is een ding, maar glad nie haastig om terug te bring nie, dit is ‘n anderste gedierte.

Hulle het twee kinders, ‘n seun Boeta* en ‘n dogter,  Goggatjie*. Goggatjie* is ‘n jong meisie met ‘n wilde boskasie en min, maar stywe kleertjies. Ek dink Boeta* moet nog op skool wees, alhoewel hy definitief nie die prys sal kry vir getroue skoolbywoning nie! Hy vroetel tot laat in die aand in die garage aan ‘n stuk motorfiets (wat vir my baie soos ‘n ou Honda help-my-trap lyk. Onthou jy hoe Oupa Willemse altyd van ‘n “Piskriek” gepraat het?”  Goggatjie* swot iets soos skoonheid en haarkappery, want sy oefen op Bokketjie* om hare te kleur. Genadiglik het sy nog nie geleer perm nie, want dit sal net ‘n toestroeming van mense na ons straat veroorsaak. Jy weet mos hoe lief ons mense vir perms en purple rinses is. En in vandag se tyd kan mens nie versigtig genoeg wees nie…

Die nuwe bure stem vir Steve skuins. Dié arme Pekignese het al – skoon teen sy natuur, ‘n behoorlike voetpad tussen my kannas langs die heining uitgehardloop. Maandeinde word die poedels gebad en gestrik. Weet jy my kind, ek was yslik groot voor ek die eerste keer ‘n poedel gesien het, in my kindertyd het ons net groot honde op die plaas gehad…

* Skuilname is gebruik, want sonde met die bure kan liederlike gevolge inhou…

896561_m

Advertisements

Op julle merke. Gereed. BAK!

Liewe Persoon,

Krismis is om die draai, en Ma is reeds besig om lysies op te trek. Daar is ‘n lysie vir die gebak. ‘n Lysie vir die vleis. ‘n Lysie vir die slaai. En dan natuurlik lysies om dié lysies te onthou.

Die lysie waarin almal in die Willemse-huishouding belangstel is die een met die soetgebak op.  Bo-aan die lysie is Ma se (swaarhand) Brandewyn Kerskoek. Dié koek neem twee dae om te maak en Ma vat nie kanse nie. Jy sien, een van drie dinge kan paniek veroorsaak: (1) daar word te veel geproe aan die vrugte wat in die brandewyn kook, (2) iemand kan aan die oond stamp, en (3) iemand kan die oonddeur in ‘n onbesonne oomblik oopmaak om te loer. Ek noem liewer nie name nie… maar “iemand” weet wie sy is.

Na die vrugtekoek gebak en afgekoel het dan word dit ast’ware in ‘n foelie-kokon toegemaak en eenmaal ‘n week met ‘n doppie skop gedokter. Ek sê vir julle, die reuk van daardie koek laat jou in ‘n tipe beswyming… (dié soort wat wêreldvrede moontlik maak, vrede tussen ‘n Bloubul- en ‘n Cheetah ondersteuner bewerk en jou waarlik vir Camilla Parker Bowles na ‘n oil painting laat lyk). Trues bob!

Die Kerskoek word opgevolg deur oorle’ Ouma Siel se soetkoekies, Hertzoggies met appelkooskonfyt en Lepelsteeltjies.  Pa se groot swakheid is die soetkoekies, en hy hou van hulle soos sy ma dit gemaak het: sonder fieterjasies. So moet my ma byvoorbeeld ‘n glas gebruik om die deeg mee uit te druk, want soetkoekies is nie bedoel om soos sterretjies; blommetjies of hartjies te lyk nie. Needless to say  maak dié soetkoekies sommer gou ‘n blik vol (synde elke koekie omtrent so groot soos ‘n handpalm is), en Pa dring daarop aan dat hy minstens tot na Nuwe Jaar moet smul.  Die Hertzoggies en die Lepelsteeltjies het ook aftrek, maar is – volgens Pa, net nie op dieselfde vlak van waardering nie.  Ek en die Juffrou het een jaar die soetkoekies met hundreds and thousands  versier en het tot omtrent middel Oktober van die volgende jaar daaraan geëet. Pa het net geweier om sy mond daaraan te sit. Soetkoekies is ernstige besigheid.

Ek onthou toe Ouma Jannie nog geleef het. Ons het altyd vla-en koffiekoekies met die handmeuletjie gemaak. Ek en die Juffrou het beurte gemaak om die deeg in die meule te voer en om die handvatsel te draai. En boeta, laat jy net té vinnig of té stadig draai…

Dié bakkery met Kersfees is so deel van my bestaan soos asemhaal, en daarom kan ek nooit verstaan hoe mense – veral oor Kersfees, met winkelkoek kan saamleef nie. Die geur van die koekies wat bak in die oond… die gaps van stukkies rou deeg… die aflek van die konfytlepel…

Oor twee weke begin my verlof, en dan is dit baktyd.

Ek kan nie wag nie!

koekies