‘n Veldskooljaar

Liewe Persoon

Ek dink daar is iets in die drinkwater! Jy sien, dié jaar is nog nie eers behoorlik uit die wegspringblokke nie, en almal is reeds skuins befoeterd. Dié met titels gooi dit gevaarlik rond; dié sonder titels is net bloot roekeloos by tye en, dié wat aan hul titels (moet) werk het nog nie kom registreer nie!

Dit is voorwaar ‘n nodelose situasie.

Dit laat my baie dink aan ons veldskooljaar in Standerd 7. Hier vroeg in herfs is ons almal in ‘n bus geboender om “leierskapsvaardighede” en “kameraadskap” te gaan bemeester op Zastron.Shame, dié eindste veldskool het mos ‘n paar jaar terug tot op die grond afgebrand…

Anyway. Ons was nog nie eers uit Virginia nie toe het daar al ‘n bakleiery agter in die bus uitgebreek, ek het besef dat ek vergeet het om ekstra tissues in te pak, en die veldskool-voogde (die nuwe jong onnies wat vriendelik verplig was om die trippie mee te maak) het bleek om die kiewe gelyk. En onthou ‘n bietjie: dit was voor die dae van selfone. Ons moes noodgewonge al die pad tot in Zastron sing om die tyd om te kry (en die veglustiges in die agterste sitplekke besig te hou). Ek raak nou nog tranerig as ek “Saai die waatlemoen” hoor – om nie eens van Mariah Carey se “Hero” te praat nie!

Nou in Standerd 7 is jy nog nie eintlik mens nie – jy verlang na jou ma, jy het nog nie ‘n gepaste haarstyl ontdek nie en klein-en-fyn brilrame was nog nie ‘n craze nie. Jy (lees: ek) val lomp oor jou eie voete, giggel is aan die orde van die dag en almal is heimlik verlief op James Van Der Beek van Dawson’s Creek.

Tragies, ek weet.

Daardie veldskooljaar – 1994, was ook rof – amper soos 2017 dreig om te wees. Ons moes almal op die grond (op vreeslike dun matrasse) slaap, brood met rooikonfyt eet en twee-twee probeer om ‘n sloot vol water oor te steek terwyl ons enkels aan mekaar vasgebind was. Snags het ons met ons skoene aan geslaap – deels oor ons (lees: ek) bang was vir goggas en omdat ons soms om middernag (!) ‘n lantern moes bekruip. Tot vandag toe weet ek nie wat dié oefening my geleer het nie…

Tydens die veldskool het ‘n oud-junky ons vertel van die gevare van dwelms. Ons het nie ‘n woord gehoor wat hy probeer sê het nie: sy tattoos en piercings het ons soos soutbeelde laat verstar.

My sussie (die Juffrou) het op die foefie slide vasgesit (hoogtevrees) en ek het my nerwe weggeval toe ek oor my eie voete geval het tydens ‘n nagwaak. In kort: ons tydjie in Zastron was onvergeetlik – vir al die verkeerde redes.

Ek hoop regtig nie 2017 gaan ‘n veldskool-jaar wees nie….

3d6f8ade081098f139a0d940b49801d9

Advertisements

Voet in die hoek met Ta’ Meisie en Habakkuk

Liewe Persoon,

“Third class riding is better than first class walking!” Met dié woorde het oom Charlie Kavanaugh, ons buurman in Virginia, baie keer ast’ware die skaamte oor ons drie meisiekinders se hoofde gewerp. Jy sien, as jou pa ‘n 19-voertsek Fiat  ry dan gebeur dit dikwels (lees: altyd) dat jy eerder skooltoe sal stap as om voor die skoolhek afgelaai te word – maak nie saak hoe die weerstoestande lyk nie! Dit was op geleenthede soos hierdie wat oom Charlie met groot erns sy mening oor dié netelige situasie gelig het.

Maar laat ek julle eers voorstel aan die Fiat ter sprake: Habakkuk (ja, ons het name vir al ons karre, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag). Sy  was ‘n 1974 128 model. Sy was wit en groot.’n Tweedeur. Haar vensters was nog groter. Die term “blikkerig” kom in my gedagtes op. Hoewel sy in prime condition was, was sy eenvoudig nie die sagste op die oog nie – al was sy pure Italianer. Ek het altyd gedink as ons haar swart verf dan kon ons soos die Adams-familie in ‘n lykswa ry. As jy – soos ek, ‘n (oor) aktiewe verbeelding het kon sy jou terstond ook aan die glaskis van Sneeuwitjie laat dink (net met blik en vier wiele). My pa het met haar myntoe gery. Ons het ook baie maklik ‘n kleinerige wasmasjien én ‘n fiets vir Pilletjie universiteit toe karwy óf ‘n maand se tuinrommel – in een rit, na die stortingsterrein geneem.

Dit was regtig okay as ‘n nutsvoertuig – en baie handig, maar dit doen nie veel vir jou reeds brose selfbeeld as Pa jou op ‘n Vrydag reg voor die hoofhek inwag nie. En my pa… hy is ‘n regte platjie. Daar was vir hom niks lekkerder as om juis dan óf die toeter te druk óf die petrolpedaal te terg nie… ek bloos nou nog as ek net aan dit dink!

Waar vandag se renmotors ‘n groot rooi knop het vir die nitro boost het Habakkuk ook ‘n rooi knop gehad – ‘n ekstra choke. Ai, lekker lag ek nou! Die Vrystaatse winter is nie ‘n man – of ‘n kar, se maat nie. Eintlik het almal mos in daai jare ‘n bietjie ekstra juice gebruik.

Dan was daar Ta’Meisie. Sy was ‘n goudkleurige 1972 Datsun 1600 Deluxe model. ‘n Sedan. Ons het haar gehad vandat ek my verstand gekry het. Sy het wit leersitplekke gehad en boeta, as sy vir so ‘n halfuur in die son gestaan het kon jy lelik verbrand (maar ai, die leersitplekke het so lekker geruik)! Ek onthou hoe ons eenkeer R5.00 se petrol ingegooi het om by my oorle’ Ouma Dorp in Viljoenskroon te gaan kuier. Ta’Meisie het ‘n uitsonderlike kenmerk gehad: jy kon haar in latere jare óf sonder haar sleutel óf met enige sleutel bestuur. Ek onthou hoe benoud ek was toe ek op ‘n keer – tydens eerste pouse, met ‘n skok afgterkom dat ek vir een of ander rede haar sleutel in my sak het! Turns out, toe my ma haar afskakel om die bos sleutels vir my te gee om die posbus oop te sluit, het sy bloot net aanhou loop. Ons lag nou nog oor hoe my ma –  met groot verbasing en sukses, haar kantoorsleutel gebruik het om dié dame in haar spore te stuit!

As ek vandag terugdink aan my kinderdae dan mis ek vir Habakkuk en Ta’Meisie. Ek mis die honderde kilometers wat ons in daardie twee veterans afgelê het.  Oom Charlie was tog reg – maar ek dink hy moes bygesê het dat “third class riding” vir die beste herinneringe sorg!

datsun-bluebird-1600-deluxe-sss-shape-1

WolHAARstories

Liewe Persoon,

‘n Vrou se hare is haar kroon, maar dit kan baie vinnig ook in haar grootste nagmerrie denkbaar ontaard- en dit kan jy maar vir enige lid van die Evasgeslag vra. Dit is juis hieroor dat ‘n vrou se haarkapper nie net ‘n haarkapper is nie: sy is ‘n engel met ghd haartang en ‘n blinkmooi skêr!

Ek het grootgeword in die jare van tuishaarkappers – jy weet, Salon Priscilla-Jane of Salon Beauty Queenie. Dit was altyd so ‘n double barrel naam en die salon was ingerig in die buitekamer of die motorhuis. Die kamme en skêre het op die spieëlkaste gestaan in sulke glase met geel vloeistof. Oral teen die mure was prente van ‘n jong Karen Botha (in daai rok), Jani du Plessis, Prinses Diana en die immgewilde Meg Ryan. Daar was hope Huisgenote (waarvan al die blokkiesraaisels ingevul was) en fotoverhaalboekies.

My eerste regte herinnering aan ‘n haarkapper was iewers in Sub B (nou se graad 2) toe my pa vir my en die Juffrou na ‘n manshaarkapper gevat het om ons boksterte af te sny. My ma was in Bloemfontein vir opleiding (sy het mos by die bank gewerk) en hy het gereken die bakleiery elke oggend oor die rekkies en knippies sou hom na waansin dryf. Daardie jaar het ek en die Juffrou met ‘n short back and sides op die klasfoto gepryk. Dit was baie traumaties.

Dan was daar die ‘Perm van 1989’ – ook genoem Pilletjie se Perm. Met ‘n agtjaar ouderdomsverskil tussen ons was Pilletjie nog al die jare my en die Juffrou se stylikoon. Sy was eerste om met grimering te eksperimenteer, eerste om French Connection-klere te dra en helaas ook eerste om ‘n perm te kry.  Sy was in matriek en ons was in standerd 5, en ek onthou dié perm soos gister.  Ons het in die kar gewag – saam met ma, en toe Pilletjie uit die salon stap toe stop die verkeer behoorlik. My ma het – sonder om haar lippe te beweeg, gesis: “Julle sê NIKS. Nie ‘n woord nie!”. Pilletjie het – vinniger as gewoonlik, in die kar gespring en in trane uitgebars. Die reuk van perm lotion het swaar in die lug gehang en Pilletjie se nek was bloedrooi gebrand. Jy sien die soft spiral perm (soos dié van Meg Ryan) was toe meer soos ‘n very tight potskuurder perm. Sy het dit egter met grasie (en baie gebed) oorleef.

Dan was daar my highlights vir die matriekafskeid. Dit was in die dae voor tinting foil en die haarkapper – baie bekwaam, het die plastiekkappie gebruik. Alles het goed gegaan totdat ek met die kappie en ‘n lappie onder die droër gaan sit het. Die reuk van die amoniak het omtrent my korneas geskroei! En toe die oomblik van waarheid: toe daai vrou die kappie afhaal toe beswyk ek amper net daar in die stoel! Die gebleikte slierte het soos die gras onder die hondehok gelyk: dit kry net sonlig as pa grassny. Vir ‘n highlight newby was dit ‘n groot skok.

En wie kan die groot gentian violet-tragedie van 2008 vergeet?. Toe ek by die universiteit begin werk het, het ek besluit om my hare vir ‘n wyle platinumblond te kleur. Die resultaat was ‘n bietjie te geel na my sin en dit is toe dat my ma vir my ‘n botteltjie gentian violet koop. Eerstens: dié skrif op dié botteltjie is so klein dat jy ‘n mikroskoop nodig het om dit te lees, tweedens: nog voor jy die botteltjie behoorlik oop het is alles pers – van jou hande, die wasbak tot jou brilraam en derde: daar is geen waarskuwing op die bottel van presies hoe sterk dié druppeltjies is nie. Einde van ‘n lang storie: daar spog ek vir my eerste week met ‘n lavender blonde!

Die jare het intussen gevlieg en ek (en Pilletjie) het ons haarkapper-ritme vervolmaak. Verby is die dae toe ons met prentjies haarkapper toe gaan. Ons weet nou wat ons van hou, en wat by ons pas. Die dae van wolHAARstories en ander -nagmerries is verby. Vandag lig ek my hoed (ja, daar is nog bad hair-days) vir haarkappers oral oor. Hulle is ast’ware die goeie feë in elke sprokie. En as jy soos een van die lelike stiefsusters voel, dan kom hulle tot jou redding sonder die hulp van muise, pampoene óf ongemaklike (glas)polvye!

Elke wolHAARstorie (behoort) nou ‘n gelukkige einde te hê!

hairraising-1

Op jou merke. Gereed. Tjank!

Liewe Persoon

Die vakansie én die Krismiskoek is klaar! Laasgenoemde sal egter nog ‘n rukkie op my heupmaat verwyl, en  kiekies is al wat van die langverwagte vakansie oor is…

Ek moet bieg: ek het (alweer) soos ‘n brak getjank toe ek my ma-hulle moes groet na die vakansie. Dié snot-en-trane vertoon kom ‘n ver pad en as dit kom by totsiens sê  kan ek, sonder twyfel, enige sepiester onder die tafel in huil – en dit SONDER fyngekapte uie of oogdruppels!

Soos die  dag toe Pa en Ma my – as ‘n eerstejaartjie, by die studentehuis in Presidentstraat in Potchefstroom afgelaai het. Jong, ek het daardie dag vir die beker gehuil. Ek dink die huisouer is nou nog bewoeë oor my hartstogtelike vertoon van rou emosie. Ma het darem ook ‘n traan in die oog gehad, maar het met die groetslag net ‘n handvol tissues in haar vuis gefrommel en in my oor geprewel “...die Here sal jou seën” en sonder seremonie die kardeur harder as gewoonlik toegeslaan. Pa het gesê ek is te oud vir grens en dat ek op varsity is vir ‘n geleerdheid, en nie om te huil nie. Hy het ook gesê dat ek asseblief nie elke dag moet bel nie en dat ek eers my voete behoorlik moet vind (ek dink dit was sy weergawe van tough love).

“Jy trek jouself dit aan!”, het my tweelingsussie geraas. Sy was reg. Ek is altoos die aantreklike soort (‘n nalatenskap van oorle’ Ouma Jannie se kant van die familie. Ons emosies ken net eenpad en dit is hartlangs).

As joernalis het dié gehuilery ook gelol. Ek onthou ‘n begrafnis wat ek – in my hoedanigheid as joernalis moes bywoon, waar ek so aan die ween geraak het dat mede begrafnisgangers met my gesimpatiseer het (dit terwyl ek die oorledene van geen kant af ken nie)!

Toe een van my besties ‘n paar jaar terug die paadjie kansel toe aandurf, toe gaan ek en haar pa so aan die huil dat ek – wat ook as die seremoniemeester opgetree het, skoon die bruidegom se naam vergeet het! En dan praat ek nie eers van my skeelhoofpyn en my rooi gehuilde gesig op al die troufoto’s nie…

Hoekom huil ek? Eerlikwaar… ek weet nie. Dit is iets wat ek nie in woorde kan beskryf nie. Dit is asof ek kopseer, dronkverdriet en sooibrand gelyk kry. My keel trek toe, my hartklop hardloop weg en, my verbeelding gaan op hol. Dramaties!

So. Voor die trane loop en die tissues te min raak: dankie Pappie en Mammie vir ‘n lekker vakansie. Liefnis en ‘n stywe drukkie!

if-tears-had-color08