Skoolsiekte

Liewe Persoon,

Ek en die Juffrou was nooit (ooit) laat vir skool nie. Vir twaalf lange jare was ons elke oggend presies betyds. Of dit nou reën, hael, sneeu (wat dit wel eenkeer in Virginia gedoen het) of die son bloedig skroei, die Willemse-tweeling was betyds. Altyd.

Skoolsiekte het nie in ons huis nesgeskop nie – ten spyte van desperate pogings deur die uwe en die Juffrou. Lets face it: daar is dae wat liefs vermy moet word. In daai jare was dit veral hoofrekeningtoetse by meneer Grobbelaar of aardrykskunde by juffrou Van Heerden wat ernstige gevalle van skoolsiekte laat posvat het. Iewers tussen die somtotaal van ko-binnehoeke en die samestelling van Cumulonimbus-wolke  (ook genoem stapelwolke) het jou maag begin draai. Sweetdruppels het op jou voorkop gepêrel en jou mond het kurkdroog geword.

Ma wou niks van skoolsiekte weet: sy het geglo dat dit wat jou nie doodmaak nie, jou vir die toekoms sal voorberei. Wat sy nie toe geweet het nie, is dat dit wat nie doodmaak nie aanleiding gee tot vreemde en ongesonde coping skills. Vandag nog glo ek dat Woollies Chuckles en vanilla roomys vir bykans enige skeet werk. Ek kou per geleentheid my naels en ek suig met soveel passie aan potlode soos ‘n strawwe roker aan ‘n sigaret na ‘n nagmaalsdiens.

Maar waar dwaal ek vandag rond?

Ek dink skoolsiekte is soos die kiem wat koorsblare veroorsaak. Dit bly in jou gestel vir altyd en vir ewig (en herinner jou klokslag voor ‘n groot en fensie affêre van sy teenwoordigheid, want niks is mos so aantreklik soos ‘n Angelina Jolie-bolip wat glinster van antibiotikasalf nie). In latere jare word die skoolsiekte-kiem ‘n werksiekte-virus. Simptome sluit in: ‘n traagheid om uit die bed te klim (Lady Gaga skreeu my – en die bure, elke môre wakker), ongekende lompheid (oppad kombuis toe stamp jy jou toon klokslag teen dieselfde stoel in die gang en trap jy met jou kaalvoete op ‘n Lego-blokkie – of Ounooi se blapsie), ongeduldigheid (want, hoe lank kan ‘n pakkie instant oats nou vat om gaar te kom?) en, laaste maar beslis die gevaarlikste simptoon: ek-het-niks-om-aan-te-trek-nie!!

Laasgenoemde was al menige vrou se ondergang.

Vra maar vir enige werksiekte-lyer, hulle sal my dit beaam: op werksiekdae loop die tyd so stadig soos ‘n tuinslak oor skuurpapier. Kollegas voel jou frustrasie aan en is sommer ook skuins befoeterd. Sperdatums skuif roekeloos rond en skielik wil die telefoon nie ophou lui nie. Teen lunchtime het jy al vergange jou broodjies geëet en jou long lasting lipstiffie klou lankal nie meer nie, nee: daai Fiery Red-lippe kleef nou aan jou koffiebeker soos ‘n Bloubul-ondersteuner aan seisoenkaartjies op Loftus.

Ek is nie skaam om dit te erken nie. Ek het vandag ‘n ernstige toeval van werksiekte. Dit is ontsettend tragies dat daar nie ‘n kuur of boereraat vir dié toestand is nie.  Dis nog te vroeg vir ‘n Tjok-99 roomys met ‘n flake. Dit is nog te vroeg om my kantoorlaai dramaties toe te slaan (lees: hier is nog niemand in die kantoor om dit te waardeer nie), en mense (selfs in Vanderbijlpark) sien neer op jou as jy sommer net – sonder rede, aan ‘n kollega klap…

april-fools-day

Advertisements

Hospitaalstories

Liewe Persoon

Die Juffrou is in die hospitaal. Plat op haar rug, ‘n drup in die arm en ‘n bloedklont in die been. Sy het bed hair, bosse blomme, boksies vol tjoklits en jou waarlik selfs ‘n stresballetjie met ‘n groot geel glimlag op (‘n emoticon, jy sien).  Dié situasie duur nou al langer as ‘n week.

In die tyd het die Juffrou reeds twee kamermaats gehad.

Nou verstaan my mooi – ek is een van die mees simpatieke en empatiese mense wat jy ooit sal raakloop. Op troues is ek altyd die eerste een wat snik as die bruid die paadjie afstap.Op begrafnisse treur ek soos ‘n begeesterde Brumilda van Rensburg destyds op Egoli (toe Chris die kat in die donker geknyp het). Ek kan nie eens na  Dr Phill kyk sonder om in simpatie saam te snik nie. Ek is een van daardie mense wat my laaste Rolo met jou sou deel (nota: ek is mos nou ‘n Tipe 1 diabeet en as ek nou my hande op ‘n Rolo sou lê, vreet ek hom op – vinniger as wat jy kan sê: “insulien!”)

Bogenoemde was nodig, want wat ek jou nou gaan vertel sal jou hare laat rys – en jou laat dink dat ek my verlekker in ‘n ander se borrie. Dit is geheel-en-al nie so nie. Ek is, bloot, ‘n fyn waarnemer van die mens en sy dinge. Hiermee ‘n paar van my observasies:

In elke hospitaalsaal is ‘n first timer. Iemand wat óf nog nooit in die hospitaal was nie, óf in haar prille jeug laas die binnekant van ‘n hospitaalsaal gesien het.  Dié pasiënt is die ene smiles –  al is sy besig om haar longe voos te hoes. Sy dra splinternuwe pajamas (met ‘n bypassende kamerjas) en pienk pantoffels met hasie-ore.  Sy staan vroegoggend op om haar hare te kam en grimering op te sit. As sy lê, dan doen sy dit so asof sy besig is met ‘n oudisie vir ‘n matras-advertensie: verfris dog verslaap. Op-en-wakker dog doodmoeg.

Dan kry jy die hardcore hospitaal aanhangers. Hierdie pasiënt draai elke ses maande in die hospitaal. Toonnaels word uitgetrek. ‘n Verwaarloosde verkoue . Twee verstandtande wat moet uit. Onooglike moesies wat pla (en laerskoolkinders bangmaak). ‘n Boob job vir manlief se verjaardag. En ja, liewe Persoon, ek was ook al ‘n lid van dié klub… ek en my ongekontroleerde diabetes (maar ons praat nie nou van my nie). Die Juffrou se eerste kamermaat is ook ‘n lid van die klub. Sy dring aan op ander kussings, want tydens haar vorige besoek  was die kussings nie so vol knoppe nie. Sy bestel alles op die spyskaart en begin dus elke ete met ‘n bakkie sop. Sy weet presies hoe om – drupstaander en al, pajamas sommer so in die kooi te ruil. Sy ken die matrone op haar voornaam. Sy weet om oorfone in te pak, want dis mos al hoe jy kan televisie kyk in die hospitaal. Haar pantoffels se memory foam ken hul plek – reg vir aksie (veral as dit tyd is vir ‘n dampie maak).

Kuiergaste is ook soms vreemde wesens. Daar is diegene wat letterlik nie weet wat om te sê nie – moet hulle simpatiseer of goeie wense toedig? Hoeveel emosie word dan aan ‘n ingroei toonnael gekoppel? Party pasiënte het op enige gegewe tyd soveel kuiergaste in die kamer dat dit vir ‘n buitestander lyk of daar ‘n nagwaak gehou word. Ander bring hulle kinders saam vir besoektyd – en in minder as ‘n uur se tyd het klein Brandon of Melissa al tweekeer op die tannie in bed 36 se suurstofpyp getrap, bykans al die handseep uitgespuit en met ‘n bloupen op die wit deken geskryf. Needless to say, die vroue in beddens 35, 36 en 37 is teen dié tyd al reg om huistoe te gaan – desondanks die feit dat daar tussen hulle ‘n knievervanging, ‘n historektomie en ‘n galblaas operasie is.

Besoektyd, oppad na die Juffrou se saal, loer ek na die mense in die ander sale. Party is bleek. Party is naar. Party snork – uiters onvroulik, van die narkose. Die tannie in die pers jurkie waai vir my – ek sien haar so – sy soek ‘n paar vars ore om na haar ongewone mediesegeskiedenis te luister. Sy laat my vir ‘n oomblik aan ‘n Telly-Tubby én die Koningin-moeder dink: die manier waarop sy vir my waai is baie dieselfde; so met ‘n slap gewriggie en vingertjie-vir-vingertjie asof sy ‘n harp bespeel.

Die Juffrou was nog net tweekeer in haar lewe in die hospitaal – toe ek en sy ons mangels destyds laat uithaal het – nog daar in Virginia, en so drie jaar terug toe sy haar blindederm vir mediese navorsing geskenk het (grappie!). Siestog. Sy verlang huistoe.

…en ek verlang na haar!

9aa2b9224f08ccb5192c24ef065e6900_needs-child-for-a-hospital-children-in-hospital-clipart_600-350.jpeg

Vaaltyn en Kenny Rogers se Lucille

Liewe Persoon,

Vandag slaat dit my soos ‘n tien pond hammer teen die kop! Ek weet nou – na al die jare, waarom Kenny Rogers se Lucille haar cowboy die trekpas gegee het: dit was, sonder enige twyfel, te danke aan Valentynsdag.

Daardie einste cowboy wat so kla oor Lucille se swak tydsberekening en die vier honger kinders by die huis, het sweerlik gedink ‘n nuwe stel oondhandskoene óf ‘n Verimark Floor whizz wondermop was genoeg om die liefdesvlam aan te vuur. En juis daarom is ek bly sy het boots and all die pad gevat.

Ek het met dié liedjie grootgeword. My pa is in sy wese mos eintlik’n boerseun. Cowboy is eintlik die regte woord, dit spreek tot iets meer as net ‘n boerseun op ‘n mielieplaas in Bothaville. As ek aan cowboys dink, dan wil-wil my hart so effens vinniger klop. Ek sien in my verbeelding hoe wilde perde in grasvlaktes staan (al is ek so bang vir ‘n perd ek kan vrek!), hoe ‘n klinknaelbroek en ‘n stetson soos ‘n handskoen pas en ‘n rooi Chev-trok met groot ‘n bull bar.

Maar om terug te kom by Lucille. Ek wil my verstout om te sê dat met vier kinders, ‘n cowboy, ‘n boerdery én ‘n oes op die lande die arme vrou met hart en siel na Valentynsdag uitgesien het. Een dag uit 365-dae waar sy op die hande gedra word (al is dit skurwe, cowboy-hande).En wat kry sy? NIKS (behalwe miskien die opdrag om ‘n paar kouse te stop, die kinders se kuiwe te sny en die hansmak boklam uit die groentetuin te hou.)

In die liedjie sing Kenny Rogers: “In a bar in Toledo, across from the depot, on a bar stool she took off her ring. I thought I’d get closer. So I walked on over. I sat down and asked her name. When the drinks finally hit her she said I’m no quitter, but I finally quit livin’ on dreams! I’m hungry for laughter. And here ever after. I’m after whatever the other life brings.”

Met Valentynsdag vars in ons geheue, leer dié ou liedjie ons beslis ‘n les: dit is nou maar so: ‘n mens kan nie net van liefde en kouewater leef nie! Iewers langs die pad moet die spreekwoordelike liefdesakker omgespit word; en daar moet hard gewerk word om die droom van verliefwees (en verlief bly) aan die gang te hou. Ek is bly Lucille het haar ring afgehaal. Nou moet sy dit nog net aan die verkeerde vinger dra – dit blyk mos asof sy met die verkeerde man getroud is!

Om ‘n lang storie kort te maak – en sonder om dit soos ‘n cliche te laat klink: elke dag behoort ‘n liefdesdag te wees. Vergeet van langsteelrose en tjoklits (dit gaan sit net om die heupe). Praat met mekaar. Skryf ‘n brief – met die hand. Hou haar hand vas. Sê die woorde: Ek is lief vir jou!

kenny-rogers

Versagtende omstandighede!

Liewe Persoon

Hoe is dit menslik moontlik dat ek drie – ja, DRIE,spoedboetes in dieselfde maand in dieselfde straat kan kry? Miskien moet ek eerder vra:  Hoe is dit moontlik dat dieselfde spietkop my driekeer beboet? Hy kon my mos na die tweede boete herken het – vir my én vir Vlam!

Ek weet wat jy dink… “dis jou verdiende loon, jy gaag mos in die straat af asof dit die straight by Kayalami is!” Dit is egter nie die geval nie. Belowe. Ek pleit versagtende omstandighede:

Een. Weet jy hoe presies jou timing moet wees om betyds te wees om soggens die rush by die universiteitshek  te mis? Die beste tyd is net so voor half agt. Om presies half agt breek totale chaos los. Die spreekwoordelike ark gaan oop. Behalwe vir die stroom karre, is daar dan diesulkes sonder flikkerligte, dié wat met hul selfone besig is, dié wat nog  maskarra probeer aansit en, jou wrintiewaar, ‘n Jannie of Sannie wat nog probeer om vir oulaas diep in hul geliefde se oë te kyk (terwyl  hul hande die kar in heel die verkeerde rigting stuur).

Twee. Taxi’s. Need I say more?

Drie. Ek wonder of meneer Spietkop besef hoe kosbaar die stil tydjie in die oggend is. Geen telefone wat skel, geen histerie, geen geklop aan die deur… Wys my die persoon wat nie voet in die hoek sal sit ter wille van stilte nie? Dié stilte stem jou hele dag… ‘n Boete op jou nugtermaag is moeilikheid soek.

Vier. Dit is nou maar so: as my gemoed nie deur my daaglikse stil oomblik (sien ‘Drie’) gestreel en gestem word nie, dan kan daar nie van my verwag word om die heeldag te grin nie. Jy weet: ‘n fake smile opsit en soos die Koningin van Engeland te smile and wave nie. So. Ter wille van volgehoue goeie kliëntediens behoort meneer Spietkop sy speedtrap-streke eerder later in die dag te pleeg.

Vyf. Vlam is rooi. Ek kan mos nou nie ry asof ek parkering soek nie! En, my dae van 1000cc karretjies (of “padpuisies” soos my pa hulle noem) is mos nou verby. Nie dat daar enigiets fout is met klein karretjies nie (ek het immers twee gehad: Bekkie en Betsie).

Dit klink dalk vir jou of ek vol verskonings is. Dalk is ek. Ek dink nie so nie. Ek dink daar is versagtende omstandighede.

ba2559a78a25bcaa860aaaf55376c14b.jpg

 

 

 

K(l)itsgras!

Liewe Persoon

Ons leef in ‘n kitswêreld, wat mynsinsiens soos klitsgras aan ons vasklou. Ons is ongeduldig, gefrustreerd en uitgehonger vir regte-egte samesyn.

Dit vat net een koppie kookwater om jou oats gereed te hê. Twee minute en jou noedels is gaar. Spring op die web en luister dadelik na Pentatonix se nuwe album. Neem ‘n selfie en deel dit binne sekondes met jou neef op De Aar, jou suster in Pretoria en ‘n skare onbekendes al die pad van Durban tot Alaska. Lus vir pizza? Laai ‘n toep af, plaas jou bestelling (met ekstra kaas) en betaal met jou slimfoon.

Noem dit en daar is (heelwaarskynlik) ‘n kitsmanier om dit in die hande te kry. My vraag is net: verkoop ons nie dalk ons siel in die proses nie? Dink ‘n bietjie daaroor.

Sopkook is iets wat al my lewe ‘n hele vooroggend gevat het. Die groente is geskil, gekerf en saam met die soplvleis gekook. Die hele huis het later na groentesop geruik. Vandag koop jy na werk ‘n pakkie sop by Woollies (30 minute, as jy die soek na ‘n parkeerplek en die ry by die betaalpunt byreken) wat jy vir tien minute op die stoof gaan warmmaak en bedien saam met winkelbrood (20 minute van die kar na die pot na die tafel).

Ek onthou hoe my oorlede Ouma Jannie altyd met ‘n skotteltjie water by die tafel gesit het om boontjies te kerf. Daardie boontjies was perfek gekerf. Dan is dit opgekook terwyl sy die kerriesous vir die boontjieslaai gemaak het. Vandag koop jy sommer ‘n boksie kerrieboneslaai by die kafee. My Ouma Dorp het weer haar eie vrugterolle gemaak. En laat ek jou sê – dit was ‘n proses wat nie aangejaag kon word nie.

Maak mense nog gemmerbier? Wanneer laas moes jy jou wekker stel om die vrugtekoek in die middernagtelike ure uit die oond te haal? Ja, die een met die chellies en die brandewyn. Wat van fudge – op die ou manier, gekook op die stoof met iemand wat se arm lam is van die aanhoudende roer.

Ek klink dalk nes ‘n bedorwe smulpaap, maar jy is verkeerd as jy dink dié onthou gaan net oor kos. Dit gaan oor die tyd wat spandeer is. Oor die liefdesdaad van samesyn. Jy kan mos nie alleen vir etlike ure agter die fudgepot staan nie! Nee, dit is – of sal ek sê, was – ‘n spanpoging (want as die fudge eers aangebrand het, dan was dit ‘n propperse tragedie vir oud en jonk).

In ons kitswêreld proe alles ook eintlik mos na niks.As die pakkie Two Minute Noodles nie sê dit is Thai Curry flavour nie, dan sou jy nie eens geweet het nie. Maar nou weet jy. En jy weet dat dit net twee minute sal vat om gaar te kry. Wat gaan jy met die res van jou lunch hour maak? Ek dink jy moet jou gedagtes laat gaan, en vir ‘n wyle terugdink aan ‘n stadiger pas. Soek ‘n groentesopresep en maak tyd om jou tyd te vat om dit voor te berei.

Stof die klitse van jou kitslewe af en haal asem. Jy kan môre weer by Woollies stop vir ‘n kitsete vir vier.

SONY DSC

 

 

 

Draai vir my ‘n plaatjie

Liewe Persoon

“Ek wil net graag vir my man, Varkie, en my swaer, Bulla, sê baie dankie vir die vleisie wat hulle op die kole braai en die paptert wat in die oond bak. En mamma Kraai, geniet daai glasie rooiwyn!”

Elke diertjie het sy plesiertjie, en versoekprogramme op die draadloos laat my tone krul van pure lekkerkry! Elke program het sy regulars – daardie inbeller wat klokslag elke Saterdagaand bel met ‘n versoek of ‘n boodskappie. Luister jy so na hierdie regulars is dit ook sommer maklik om te weet watter tyd van die maand dit is: payday-die-lewe-is-‘n-lied, middel-van-die-maand-leef-van-liefde-en-kouewater of; einde-van-die-maand-die-lewe-is-so-verganklik.  Miskien is dit juis waarom dié programme my so trek: dit spreek van ‘n brose menslikheid. Ast’ware ‘n spieël wat na die samelewing gedraai word en wat die ou mensdom se geite en grille soos ‘n fliek op die grootskerm terugspeel.

“Is ek op  die lug? Ek wil net vir al die Bulls ondersteuners sê sterkte, almal kon sien ons het teen die ref  en sy fluitjie gespeel!” Dood het mos altyd ‘n oorsaak. Die feit dat die Blikore van Bloemfontein beter gespeel het, is onbelangrik (lees: ‘n nederlaag op Loftus is mos genoeg rede vir die Rand om in duie te stort, die vlae halfmas in Pretoria te waai en om – sommer aspris, langs ‘n Ford Kuga te parkeer).

“Ek wil net vir almal wat my ken sê ouderdom is nie vir sissies nie. Wees lief vir jou kinders, al sien jy hulle net met Krisimis. Liefde vir almal wat luister”. Teen hierdie tyd bewe Tannie Greyling van Stilfontein se stem soos Mimi Coertse net kan droom. Die omroeper sluk ook swaar en sê dat almal by die stasie mos maar soos familie is. Almal wil maar net behoort. Ek verstaan (sonder om te judge).

“Bokkie, jy lyk baie sexy met jou  nuwe  highlights. Dankie vir die vrou wat jy vir my is en die wonderlike ma wat jy vir ons sewe kinders is”.  Ok. Ek weet: ek oordryf. Maar as daar eending is wat my dwars in die krop steek, is dit sulke taai-en-stroperige vertoon van verliefwees. Net Maandag dan sluit Bokkie vir Pappa uit die slaapkamer, die kinders moet viennas eet vir aandete en die blonde highlights vertoon nou goudgeel.

En dan, die sinnetjie wat al dié bogenoemde lief en leed die moeite werd maak: “Kan julle vir my ‘n plaatjie draai?”

Ek hoop die lewe draai vandag vir jou ‘n goue plaatjie – ‘n treffer wat jou voete laat jeuk, jou hart laat bokspring en jou – vir ‘n wyle, terugvoer na ‘n Saterdagaand   om ‘n braaivleisvuur. En ja, Skoonma kan maar ‘n rooietjie gebruik – dit is after all propvol antioksidante!

15698b60d577ffc0fa752ff6c2747454