Fiasko-kwadraat!

Liewe Persoon

As dit kom by naamslaan het ek ‘n spesiale talent. In fact, ek dink mense noem my al die Rowan (of is dit Riana) Atkinson van sentraal Suid-Afrika! Ek is (teen my sin) ‘n eietydse Mev Bean!

So is vandag ‘n baie besige dag op kantoor met ‘n halfdosyn vergaderings en ‘n belangrike werksfunksie (nogal saam met die Kampusrektor) op die koop toe.Ek is daarom gepoeier en gepaint soos ‘n kandidaatprokureur wat vir die eerste keer oor die landdroskantoor se drumpel moet trap. Die look moet vir die hele dag hou. (Lees: ek het so baie haarsproei in my hare dat ek straks as ‘n brandgevaar geklassifiseer kan word, ek het my mooiste – maar ongemaklikste paar skoene aan en genoeg eyeshadow om Madonna die skrik op die lyf te jaag).

En net as dit lyk of ek alles bymekaar hou, dan begin die spreekwoordelike sparks vlieg en kom my alter-ego, Mev Bean, na vore. So teug ek vanoggend aan ‘n botteltjie borreltjie-water en in gedagte draai ek die prop toe en knyp sommer die bottel onder my arm vas – my hande is immers vol. En net hier begaan ek die grootste flater ooit: ek konsentreer nie wat ek doen nie, en besef nie dat ek NIE die bottel se prop reg opgedraai het nie.

Kom ek dit agter? Nee.

Ek hou vergadering dat dit so klap, salig onbewus van die OOP bottel water onder my arm. Toe ons so halfpad met die agenda-items is, toe begin ek onraad vermoed: my voete is yskoud! Synde ek ‘n tipe-1 diabeet is, is ek gewoond aan ‘n naalde-en-spelde-prikkel in my voete, maar hierdie skielike koudgeit het my sommer dadelik in panic mode! Steeds kom ek nie agter dat die bottel (wat nogsteeds onder my arm is) besig is om soos ‘n natuurlike waterbron oor my te vloei nie.

Nee. Ek weet net dat ek skielik vreeslike koue voete het – veral my regtervoet.

Dadelik onthou ek dat Ma gesê het dat hierdie einste paar skoene nie die mees praktiese óf gemaklike keuse is nie. Ek onthou dat die suster by die kliniek gesê het dat diabete hulle voete mooi moet oppas, want dit kan groot probleme veroorsaak. En hier het ek dit nou: Groot Probleme.

Net daar in die vergadering toets ek my suiker, want hier het die (mediese) ellende my nou letterlik aan die voete beet. Die telling is average. Ek wonder of ek my skoene moet uittrek? Ek wonder of ek myself nie dalk moet verskoon nie? Ek wonder of iemand nie straks die ambulans moet bel nie? Is dit my einde hierdie, so onseremonieël langs ‘n konferensietafel?

Dit is toe dat ek dit sien; die waterdruppels op my rok (…of eerder my “gewaad” soos Ma dit sou noem). En net daar onthou ek van die bottel borreltjiewater onder my vlerk! Needless to say teen dié tyd het die laaste druppels soos ‘n ou stoommasjien uit die bottel geproes. Paniek omhels my hart en skielik kry ek regtig nie asem nie… maar my voete is darem nie meer koud nie.

Hoekom sê niemand iets nie? Kom ek regtig so eksentriek voor dat ‘n bottel water onder my arm vir die duur van ‘n vergadering as normaal gesien word? Wat gaan ek doen as almal opstaan om te loop? Ek, die stoel, die mat en my voete is papnat – om nie eers van my gewaad te praat nie…

Ek het maar bly sit. Gevra of ek vir ‘n oomblik of wat die raadsaal kan gebruik om my notas agtermekaar te kry. En daar sit ek met ‘n fiasko-kwadraat: deurdrenkte klere (vir ‘n 350ml botteltjie was daar merkwaardig baie water in die bottel), glibberige (onpraktiese) skoene en… van al die angstigheid het die haarsproei verdamp, en my full volume bob  lyk nou baie soos ‘n army helmet.

Groete,
Mev Bean

cold-feet.jpg

Advertisements

Vergeet van VVVs en pasop vir PPPs!

Liewe Persoon,

Waar is die dae toe ons enigste (ernstige)  worry ‘n Vreemde Vlieënde Voorwerp (VVV) was? Onthou jy die X-files en hoe die Huisgenoot altoos berig gelewer het oor vreemde sirkels in koringlande. Praat van ‘n eksistensiële krisis! En voor jy opgewonde raak (en wonder of my kop raas), ek praat nou van etlike jare terug.

Deesdae is die PPPs op almal se lippe ( asook beursies, kuite en verhoogde mediesefondstariewe). Ek praat van Peste, Plae en Potholes!  Net gister skrik ek my asvaal toe ek sien dat ‘n harige wurm (spesie: Grootgril) besig is om ‘n yslike gat in een van my orgideë se blare te vreet! Ek het terstond gereageer en wurm-se-kind het (vinniger as gewoonlik) by sy voorsate aangesluit. Elders in die land is die Herfs-kommandowurm besig om totale oeste op te vreet. Letterlik!

Op Facebook (of “Vleisboek” soos my pa dit noem) is daar weer die een waarskuwing na die ander oor vleisetende kewers wat skielik uit Meksiko op ons neerdaal.  Een byt en jy het blykbaar ‘n BBP-toegang tot enige ongevalle-eenheid in die land.

So van byt gepraat.

Hier langs die Vaalrivier – veral na die goeie reën, is die kans groot dat jy ‘n muskiet vir ‘n Foxterrier kan misgis. En nou oordryf ek nie: jy kan enigiemand in ons kantoor vra (ons leef met die jeukerige evidence op ons lywe)! Ons sit die heeldag en waai en krap. Krap en waai.  Inteendeel, ek is amper seker dat iemand jou eerder met ‘n blik Doom sal kan help as met ‘n bloupen.

En dan is dit die gespook met potholes. Slaggate – soos dit in Afrikaans heet, is eintlik ‘n baie goeie en beskrywende woord. Dit is voorwaar ‘n slagting met al die gate op die paaie. Die uwe het reeds twee nuwe bande se skoolgeld betaal. Deesdae weet mens wraggies nie waar jy moet ry nie: langs die pad of op die middellyn. Beide hierdie opsies gee natuurlik probleme.

As jy langs die pad ry tref jy dalk (terselfdetyd) ‘n entrepreneur wat opblaas aardbolle verkoop, ‘n bedelaar met ‘n MacDonalds-bekertjie en, ‘n hoenderkop bachelor wat op trou staan en daarom in feëtjievlerke by die verkeerslig vir footjies sing. ‘n Menseslagting.

Ry jy in die middel van die pad is die kans statisties baie goed dat jy in ‘n onderonsie met ‘n leerlingbestuurder betrokke gaan raak. Dié verskrikte siele voel mos die nodigheid aan om – ter wille van selfbehoud, in die middel van die pad te ry.  En ja, ek weet. Ons het almal as leerlingbestuurders begin, maar ter saakverswaring: die paaie was in ‘n beter kondisie. I rest my case.

Wat staan ons te doen, liewe Persoon? So tussen die jeukery en krappery, die voorkoming en vergiftiging en, die pad-vol-ryery hou die PPPs ons bitter besig!

Kotwicki-pothole-fun-main-art-1024x912

Die stand van die rand…en oom Pravin se hart

Liewe Persoon

Bokke, blare, moollatjing, pitte, cash, ponde, dollars, euros… Geld.  Noem dit wat jy wil, maar wees verseker: dit groei NIE aan bome nie (soos Ma en Pa hoeveel keer dramaties verduidelik het as daar skielik ‘n Landsdienskamp na die Allemanskraaldam of ‘n groepsdruk-geit vir Doc Martens opgeduik het).

So sit ek verlede week en luister na ‘n top ekonoom se uiteensetting van die Suid-Afrikaanse begrotingsrede, en skielik tref dit my: ek kan nie die groeikoers van die wisselkoers onderskei nie! En dan is daar nog toegevoegde waarde, bruto binnelandse produk en konsensusraming. En blykbaar staan die afkorting: KTV lank reeds nie meer vir Kids Television op M-Net nie! Dit staan nou vir: Kapitaaltoereikendsheidverhouding.

My ouma Cielie het altyd gesê: “Ek ken moeilikheid en ek ken pampoen, en hierdie is nie pampoen nie!” Net so, ouma! Ek verstaan nou eers wat jy bedoel het.

Ek probeer my bes om my kop op die regte plekke instemmend te knik en my asem op te hou as die spreker histeries raak oor die land se lopende rekening, maar ek kry net nie die kloutjie by die oor nie. Vir my klink die woord ‘staatskoffer’ baie soos die trommel wat al my lewe onder Ouma Jannie se katel gestaan het.

En so hou die spreker net aan swets: likiedebeleggingsgraadeffekte-indeks, omgekeerde verhoudingsverkoopsverspreiding, risiko-openbaringsooreenkoms en wag vir dit; vaste-investeringsbesteding. Ek maak notas soos ‘n besetene, maar die ekonoom probeer die landspoedrekord breek (ek reken daar steek waarheid in die sê-ding: “Time is money”). En lets face it, as jou uitveër opraak voor jou potlood dan het jy ‘n probleem.

Ek het egter drie dinge goed verstaan – en fokus nou maar op dié pêrels van wysheid:

  1. Minister Pravin Gordhan het nie ‘n maklike werk nie. Daar word van hom verwag om soos MacGuyver van ouds ‘n begroting te laat klop deur net gebuik te maak van ‘n haarnaald, die binneband van ‘n ou fiets en ‘n sakkie take away tamatiesous. En dan moet hy boonop soos Clark Kent (Superman) nog ‘n voldag by die kantoor spandeer. Shame. Ek kry hom baie jammer.
  2. Oom Pravin (ek los nou die titel, want hy is ook maar net mens) het ons almal se gebede nodig. Terwyl hy spook om die boeke te klop, die wolf van die poskantoor se deur te hou én die Guptas te side step is ons besig om kredietkaarte te swipe  en die drumpels van winkels deur te trap met (te) duur skoene en leë beursies.
  3. Ek is dankbaar dat ek nie R1.5 miljoen ‘n jaar verdien nie, want Jan Taks loop rond soos die spreekwoordelike brullende leeu. In alle eerlikheid: die land raak te duur vir sy eie mense! Seker die dat so baie gesinne hul potjies elders gaan krap.

As jy vandag jou beursie oopmaak, dink tog aan oom Pravin. Aan sy stresvlakke. Die feit dat hy sekerlik die hele dag met sooibrand loop én dat hy ‘n hele trek staatskoffers met hom moet saamsleep.

16991874_10155123248824031_1967251189100998393_o

Die payday paartie

Liewe Persoon

Ek het jou mos al vertel van my ma-hulle se nuwe bure? Ja man, van Devon* en Bokketjie* met die off-white Opel Kadett en die rooi 250cc motorfiets.

Anyway. Toe ek vanoggend met my ma praat het sy baie moeg geklink, blykbaar het die Lotters* ‘n payday-paartie gehou wat almal in die kompleks nou na kalmeerpille laat gryp. Dit was glo ‘n rumoer soos nog nooit tevore nie. Jy sien, Pietie* – dis nou die oudste Lotterskind, gaan op die oomblik deur ‘n ernstige musiek fase (en almal het gedink sy piercing phase was rof. Shame. Hy lispel nou nog, al is daardie knoets van ‘n tongring onder narkose by die Klerksdorp Hospitaal verwyder). Hy reken die wêreld verstaan hom nie en dat sy emosies slegs deur die lirieke van Nirvana, die Foo Fighters, Kurt Darren en die Campbells verwoord kan word. Raar,maar baie waar (en uiters tragies).

Miskien gryp hy na die wyshede van Nirvana en die Foo Fighters as die lewe druk (lees: ‘n onooglike puisie op die voorkop, geen vooruitsig van ‘n metgesel vir die matriekafskeid en as die Bulle op Loftus verloor). Ek kan dit verstaan. Ek self kan vir ure na Bon Jovi en R.E.M luister. Ek reken Pietie luister graag na Kurt en die Kaptein as hy die naweek feeling kry. Dié gevoeltenis bekruip ons almal mos so op ‘n Donderdagoggend reeds. En as jy eers dié feeling het is daar geen keer nie – dan is dit Voorwaarts Mars en Hemel op Tafelberg, selfs al bly jy saam jou ouers in ‘n aftree-oord in Klerksdorp. Ek verstaan nie sy beheptheid met die Campbells nie. Ma reken dié musiek help hom met sy skoolwerk: hy leer om te leer deur middel van herhaling. Sy reken hy ken reeds al die woorde van al die Campbells-treffers.

Ma sê al wanneer dié Cowboy-broers ‘n ruskans kry is wanneer Pietie* skooltoe gaan – hy is nou (weer) in matriek. Vir die payday-paartie het hulle sommer die Kadett se draadloos gebruik, so dit was so ‘n mengelmoes van Jim Reeves, Britney Spears, Dozi en Touch of Class. Iewers in die vroeë oggendure het my ma glo ook vir Min Shaw gehoor.

Net voor maandeinde het Bokketjie* glo aan die deur kom klop met die nuutste uitgawe van die Spoegdoekie-kleuterskool se jaarlikse resepteboek. Dié resepteboek word as deel van ‘n fondswerwingsprojek aan onskuldige grootouers, bejaardes en die susters van die kerk voorgehou as ‘n belegging in die jeug van môre se toekoms. Net jammer dat daar elke jaar, so twee weke na die groot smous-en-verkoop ,’n sms uitgestuur word waarin die kleuterskool dit duidelik stel dat hulle nie verantwoordelik gehou kan word vir die gevolge van reseppies wat voor publikasie nie na behore beproef is nie.

Pa het soos ‘n klip geslaap – dwarsdeur die hele affêre. Daar sak mos vir hom ‘n salige stilte neer as hy saans sy fountjies uit sy ore haal. Hy sal egter – in die gees van goeie buurmanskap, vandag saam met oom John (van die woonstel op die hoek) gaan om die Lotters* aan te spreek. Ek hoop nie daar speel dan nog steeds musiek nie, want netnou is dit ‘n Joe Dolan-liedjie en pa hou baie van Joe Dolan…

* Skuilname is gebruik, want sonde met die bure kan liederlike gevolge inhou…

boombox_man_by_nikogdesign-d58oaip