Annerlikheid

Liewe Persoon,

My wieletjies is pap – en nee, ek praat nie nou van die tuna-wieletjies wat ek gisteraand gepleeg het wat meer soos plaatkoekies gelyk het nie. Ek praat van my innerlikheid… ek het skoon ‘n bewekoors!  In Griekwaland-Wes praat die mense van ‘n ‘dikbomeman’ as hulle na ‘n spietkop verwys, en met hierdie woeling in my binneste kan ek my amper verbeel hoe ‘n ‘dikbomeman’ moet voel: so oorbodig soos ‘n volgesuipte muskiet by n Vrydagaand-braai. Jy sien, dis die geneuk met annerlikheid.  Jy is óf êtepetête (aanstellerig en vol fiemies), ‘n randfiguur wat jouself stom hou en onopsigtelik probeer oorleef, óf ‘n Blink Stefaans vir wie die lewe afspeel met ‘n glas vonkelwyn in die hand, ‘n goue ketting om die nek en ‘n Bles Bridges treffer as agtergrondmusiek.

Annerlikheid sit nie aldag lekker aan die lyf nie, en dit veroorsaak ‘n ellendige geween en gekners van tande. Die met geld soek meer. Die sonder geld maak planne. Die met Duitse motors koop Continental en die met oorle’ pa se 1971 Datsun – die een met die roesplek op die bonnet,  soek naarstiglik na ‘n stel decent rethread tyres.

Annerlikheid laat party mense soos ‘n million bucks voel, terwyl ander bid vir pouse. Party mense is gemaklik in hul annerlikheid; hulle loop te koop daarmee, stig komitees en rade ter ere van hul annerlikheid en sommiges vier selfs hul annerlikheid met ink op hul lywe en ringetjies op plekke waar die son nie aldag skyn nie.  Daar is diesielkus wat hul annerlikheid ten alle koste wil bedek. Wegsteek. Selfs ontken. Ek worstel soms met my annerlikheid. Dis nie aldag maklik om heeldag te smile and wave nie: ek dra my hart op my mou en my nerf is dunner as dié van ‘n polonieskil.

Paasfees is op hande – en skielik saai die duiwel annerlikheid in my gemoed: twyfel, kommer en hartseer. Dit terwyl die annerlikheid van Jesus juis in hierdie tyd vir ons elkeen tot seën moet wees. ‘n Salwing wat alle verstand te bowe gaan. ‘n Fees van ‘n annerlike liefde wat geen verstand kan begryp nie.

Annerlikheid is ‘n doringkroon. Dit is ‘n kruishout op Golgota.

Annerlikheid oorwin die dood.  Dit is ‘n leë grafkelder.

Annerlikheid is genade. Genade onbeskryflik groot.

Dit is my gebed vir hierdie Pase: ‘n gees van God-vervulde annerlikheid. Vandag. Môre. En al die dae van my lewe.

A-crown-of-cruel-thorns

Advertisements

Stortswemmers!

Liewe Persoon

Herfs is hier, maar somer klou vir al wat sy werd is. Net gistermiddag hoor ek hoe die water spat in die buurvrou se plaspoeletjie en hoe haar kleinkinders van plesierigheid jil. Dit is mos skoolvakansie.

Dié swemmery het my laat terugdink aan die jaar 1987 toe ek en die Juffrou in Sub B (nou graad-2) was, en ook begin het met swemlesse by die skool. Nou laat ek jou eers storie: in daardie dae het alle mynhuise in Virginia dieselfde gelyk – almal was met draad omhein en niemand (behalwe die mynbestuurder en miskien die burgermeester) het ‘n properse gat-in-die-grond- swembad gehad nie. So jy het drie keuses gehad as dit by swem gekom het: (1) hardloop deur die sproeier, (2) gaan versuip in die myn se klubswembad of, (3) wees tevrede met die blou-draadraam opslaanswembad agter in die erf. Laasgenoemde het nooit langer as twee seisoene gehou nie (ons Blikore is mos nie water gewoond nie… en het vir die beker baljaar)!

Nou. In daardie jare het Virginia Volkskool ook nie ‘n swembad gehad nie en daarom het ons op ‘n baie unieke manier leer swem. Eenkeer ‘n week, in die somer, moes elkeen sy/haar baaibroek skooltoe bring asook ‘n handoek, stortkappie, ‘n strootjie, ‘n stukkie spieël en die belangrikste van alles: ‘n groterige skottel. Ek en die Juffrou het sommer elkeen ‘n enamel skottel gehad – daai soort wat oumas gebruik om beskuitdeeg in te laat rys. Nou op swemdae was almal baie opgewonde.  Juffrou Annemie, juffrou Bessie en juffrou Bekker se klasse het beurte gemaak om op die rugbyveld te gaan swem. Ek was in juffrou Annemie se klas. Ek het ‘n geel skottel gehad met ‘n groen randjie. My baaibroek was pienk en blou.

Swem op die rugbyveld werk as volg: gedress in jou baaibroek en stortkappie en gewapen met jou handoek, strootjie en spieël kniel jy voor die skottel vol water. Ek wonder of swemkappies eers later ontdek is, want stortkappie-se-kind slurp water op soos ‘n spons – veral as jy jouself in so ‘n kop-na-onder posisie bevind…

Eers druk jy net jou kop in met jou oë styf toegeknyp. Dan oefen jy om jou oë onder die water oop te maak en vir jouself in die spieëltjie te kyk. Ek is nie seker wat die strootjie ons moes leer nie? Miskien was dit ‘n (baie) basiese inleiding tot snorkel? Nou terwyl jou kop onder die water is, dan het ons geleer om ons arms soos windmeule langs ons sye te swaai.

En siedaar: ons swem op droë land!

Tot vandag toe is ek en die Juffrou nie groot op swem nie – al het ons intussen geleer om water te trap, op ons rug te dryf en te hondjieswem. Ek begeef myself nooit verder as die rotspoeletjies op die strand nie, en om eerlik te wees: ek besit nie eens ‘n baaikostuum nie! Laasgenoemde het egter niks met my swemvaardigheid te make nie, maar meer met my vermoë om as smulpaap nie sommer ‘n roomys van die hand te wys nie (maar ek wil nie verder hieroor uitwei nie. Dit maak my en my heupmaat ongemaklik).

Vandag leer babatjies al van doekdae af swem. Nêrens in hierdie geweste sal jy ooit ‘n rugbyveld vol kinders in baaibroeke en stortkappies sien nie. En nog minder enamel skottels vol water.

As ek so terugdink aan dié geswemmery (wat eitnlik meer van ‘n ghoef was) dan beteken dit mos dat ek eintlik net kan swem as my kop onder water is, of hoe? So ek is tegnies, eintlik ‘n stort-swemmer?

Ek is bly die winter is op pad – sodat almal, soos ek, stortswemmers kan wees!

918fce815b3119ca238da283f83ae719