Hiep! Hiep!

Liewe Persoon,

Pa verjaar môre. Hy sou 70-jaar oud geword het. Hy en ma sou ook so aan die 50ste huweliksherdenking begin raak. Maar ek het jou mos vertel, Pa is weg. En hy kom nie weer terug nie.

Ons gaan nie vroegoggend bel en al die versies – ja, tot dié wat ons self opgemaak het, van “Veels geluk liewe maatjie” sing nie. Daar gaan nie tjoklitkoek wees nie. Ook nie persente nie. Die ode wat ek aan Pa geskryf het – as ‘n mylpaal-verjaardaggeskenk, is nog nie klaar nie.  Die naweek weg wat Pilletjie gereël het, is ook nie meer op die kaarte nie.

Ek skryf vandag vir jou, want môre gaan amper so swaar wees as toe daardie wit bussie van Avbob om die hoek van die kerk weggedraai het… terug dorp toe. Weg. Dit gaan amper so swaar wees soos  toe ons die houtkisse met die goueplaatjie wat lees: Sebastiaan Jacobus Willemse, 1947 -2017, moes gaan haal het. Liewe Persoon, ek dink dit gaan ‘n verskriklike lang dag wees! Papier is geduldig – jy luister en praat nie terug nie. Môre gaan mense wil praat. Hulle gaan dit goed bedoel, maar hulle gaan praat en krap en ek weet verseker dat nie een van ons sal kan kophou nie.

Pa het van verjaardae gehou, nes ek. Dit was oor meer as die geskenke, want face it, wat koop jy vir ‘n super hero? Hierdie jaar sou ‘n viering van die lewe wees – van die soet én die suur. Ast’ware ‘n tyd van rolstoel-rumba, lag-tot-jou-maag-pyn, ‘n onthou-jy-nog van toeka se dae. ‘n Fees van liefwees en dankbaar wees…

Ek is eerlik. liewe Persoon, ek is bang vir môre.

Hoe werk dinge nou?  Bel ek vir Ma en wens haar geluk met haar huweliksherdenking? Brand ek ‘n kersie ter nagedagtenis aan Pa? Wat sê jy vir jou hartsmense – wat nes jy, met ‘n streepsak vol leegheid in hul siel sit? Miskien sal ek Pa se t-hemp – die een met die blou-en-wit-strepe, môre uit die sakkie haal en sy reuk, gemeng met dié van Aqua Velva, indrink. Miskien sal die Juffrou na die geraamde foto van haar en Pa op haar gradeplegtigheid kyk en, sy sal die liefde in sy oë sien blink. Miskien sal Pilletjie na haar eie troufoto’s kyk en sien hoe trots hy langs haar in die paadjie afgestap het. Miskien.

Wat gaan Ma doen? Hoe keer jy ‘n stortvloed van herinneringe van meer as 50 jaar?

Almal sê dit: die verlange raak beter. Ek soek nie beter nie, liewe Persoon, ek soek leefbaar. Ek wil aan my pa dink sonder om te wil verstik aan die werklikheid.

Sal ek en jy weer lekker lag oor vervloeë dae? Ek dink so. Ek weet egter nie wanneer dit sal wees nie, liewe Persoon. Op die oomblik bons daar ‘n eggo in my binneste rond wat dreig om my by tye van my voete af te stamp!

Maar ek maak jou ‘n deal: as jy my toelaat om my Hiep! Hiep! Hoera! hier by jou te los, dan sal ek vir nou my trane afvee. Ek sal rustig raak en vir Ma bel. En vanaand, op die vooraand van DIE verjaardag, sal ek op my knieë gaan en dankie sê vir ‘n man soos my pa: Sebastiaan Jacobus Willemse, 69. birthday_cake_by_littlefantasy1

Advertisements

Pa is weg

Liewe Persoon

Ons het lanklaas gesels. Jammer.

Jy sien, sedert ons laaste geselsie is die wêreld, soos ek dit ken, op sy kop gedraai. En nee. Dit is nie as gevolg van die stand van die Rand nie. Politici – hoewel (meestal) aandadig, is ook nie die rede nie. Ek wens ek kon die blaam voor die Ontnemer (SARS) se deur lê, maar helaas nie.

Dit is tyd dat ek en jy praat. Dit is tyd dat ek probeer om die rots wat in my binneste lê, net vir ‘n wyle van my hart af te rol. Hierdie is ‘n moeilike briefe maar, liewe Persoon, dit is nodig. Skryf is al wat ek ken.

Pa is weg. Vir altyd.

En net voor jy vra, ek is seker. Hy sit nie meer saam met sy opgeskote pekingese, Steve, op die stoep nie. Hy is nie meer doenig in die garage nie.  Die wilde voëltjies in die tuin roep na hom, maar hulle kosbakkie bly leeg.

Die laaste keer toe ek hom gesien het, was in isolation in die waakeenheid van die hospitaal. Hy was omring deur ‘n see van monitors en liggies en drupsakkies. Die steriele stank van siekwees het aan hom geklou. Die dokter en verpleegsters het gesê dat hy ons kan hoor, maar ek weet nie so mooi nie. Die laaste ding wat hy my dan gevra het was om nuwe batterye vir sy fountjies te onthou. En daar in die waakeenheid het hy nie sy fountjies aangehad nie. Ook nie sy bril nie.

Snaaks hoe die paadjies van die lewe kronkel. As jy jonk en onervare is dan neem jy aan dat jou ouers vir altyd daar gaan wees, dat Allan Donald vir altyd vir die Proteas gaan boul en dat jy en Prins William gelukkig voor die kansel gaan staan (dit is immers net ‘n kwessie van tyd). Dan vang jy graad, koop ‘n kar, raak verlief en koop (willens en wetens) ‘n huis wat eintlik ver bo jou begroting is. You have arrived. En eendag – sommer so, sonder seremonie, staan jy op en sien dat jou ma en jou pa besig is om oud te word…. en jy skrik jou boeglam.  Jy werk harder, meer ure en oorweeg selfs om ‘n nòg groter huis te koop – een waar hulle ook in kan bly, want jy wil ‘n ogie hou.

Skielik kom lê die stekelrige realiteit van doodgaan in die krop van jou maag. Jy is naar. Jou hart klop  vinnig. Jy sukkel om te sluk, want skielik is jou mond kurkdroog. Die Bybel sê self dat as jy gelukkig is, ‘n lang lewe  80 jaar lank is. Maar net 80!  Pa  word aan die einde van die maand 70. Jy probeer om nie daaraan te dink nie. Jy dwing jouself om al rondom dié verskrikking te dans (eintlik meer ‘n geval van bokspring). Jy lag. . Jy bederf met geskenke. Jy doen moeite met elke kuier. Jy besluit dat jy hulle regop sal hou.   En dan?

Dan gebeur dit.

Onverwags op ‘n Vrydag-oggend in April.

Daar in die waakeenheid het ek baie met die Here ge-bargain. Seblief, bring hom terug! Vat eerder vir my! Daar is nog so baie wat hy wil doen, die tyd is nie reg nie! Wys hom die hemel, maar stuur hom terug om te getuig.  Hoekom hy? Die trane wat jy in die waakeenheid stort, brand jou wange bloedrooi. Jou neus is later so toe dat jy naar word. Jy kry nie asem nie, want daar sit ‘n reus op jou borskas. En as alles verby is, en die masjiene ophou om te raas… dan weet jy dat die Here in beheer is. Sy tyd is nie ons tyd nie. Die skop-en-baklei maak dan plek vir berusting en ‘n belofte: Hy sal sorg.

Terug by die huis staan ‘n leë rolstoel. ‘n Huweliksmaat van 47 jaar draai haar troupand om-en-om terwyl sy begrafnisreëlings tref. ‘n Hartseer pekignese lê op sy oubaas se bed.

Ma se ons moet en mag treur, maar dit moenie wees soos mense wat nie hoop het nie. Ons weet waar Pa is. Hy was reg om te gaan. Eendag sal ons mekaar weer sien.

Intussen survive ons . Ons verlang. Ons huil snot en trane… sommer enige plek, en sonder waarskuwing. Ons eer die lewe van ‘n merkwaardige man: ons Pa.

18034251_10155300630444031_4000238903036251695_n