Confessions van ‘n klotter-Klaas

Liewe Persoon

Ek is ‘n klotter-Klaas. Daar is dit nou: ‘n openbare bekentenis. Ek confess.  Miskien het ek hulp nodig.

Miskien? Ja en nee.

Ja, want om te verhuis is vir ‘n klotter-Klaas erger as om ‘n tand te laat trek. Dit is kompleet asof jy (mede klotter-Klaas) hulpeloos – soos ‘n lam ter slagting, in die tandarts se stoel neergepen word, jou kakebeen oopgerek word en jy daar met jou droë lippe – sonder seremonie óf verdowing, vir ‘n teregstelling wag.

Nee, want hoe anders vang jy ‘n bietjie van die magic van gister vas? Klotter-Klase troetel momentos. Ons bêre foto’s en kaartjies en kwitansies van vervloeë vakansie-joligheid. Ons  bêre dit totdat die lettertjies van al die vat-en-onthou begin om van die papier te kwyn. Totdat ons die woorde en sinne van elke kaartjie kan resiteer. Totdat ons die saligheid van elke onthou weer vir ‘n wyle kan ervaar.

Totdat ons forseer word om te trek!

Pa het altyd gesê dat hy vrees vir die dag as iets soos ‘n aardbewing of ‘n stormwind my nessie sou tref. Jy sien, hy was bekommerd oor my veiligheid en of reddingswerkers my onder die hope goetertjies sou vind. Neem nou maar die kombuis. Ek ken nie ‘n enkele klotter-Klaas wat nie ‘n blik of twaalf bo-op die kombuiskaste uitstal nie.  Ek self het omtrent ‘n morg blikke. My en Pa se siening oor dié versameling het soos dag en nag verskil. Pa was tot met sy dood daarvan oortuig dat die versameling niks anders is as ‘n stof trap was nie. Hy het selfs per geleentheid laat val dat hy van mening is dat daar meer stof op daardie blikke rus as in ‘n droë mielieland.

Pa weet dit nog net nie, maar my nuwe moderne nessie se kombuiskaste strek tot teen die plafon en ek het daarom nie ‘n ander keuse as om my geliefde (maar effens stowerrige) blikversameling vir Ma te stuur nie.

Dan was daar my versotgeid (daar behoort so ‘n woord te wees) met draadkuns. Dié aardigheid het op universiteit begin met die onskuldige aankoop van ‘n draadtassie by ‘n vlooimark. Jy kan maar sê dit is waar die gogga (nie ‘n vlooi) my gebyt het. Ek het draad kershouers, seepbakkies, blomme met gekleurde kraletjies, ringe (wat jou vingers grasgroen vlek) en selfs ‘n draaddonkie. Ek het ‘n draadkat, ‘n draadkrokodil en jou waarlik ook ‘n stel draadtarentale. Pa kon nie verstaan hoe enige “geleerde” persoon soveel op bloudraad kon spandeer nie. Vir my was dit elke sent werd…al is dié modegier al amper 20 jaar iets van die verlede.

Klotter-Klase is wandelende nostalgiese-wrakke. Ek kan letterlik binne minute oor iets nostalgies raak – en dit is dan wanneer die gevaarligte moet begin flikker, want dan koop jy boeke omdat die voorbladkuns jou aan jou laerskool juffrou laat dink. Jy raak opgewonde oor Checkers se mini collectables  want dit herinner jou aan die plastiek teestel wat jy tydens ‘n vakansie in Pearly Beach as geskenk ontvang het. Jy koop sommer twee China shop-handsakke omdat dit ‘n prentjie van ‘n Foxterrier op het – en jou eerste hond was mos ‘n Foxterrier (nevermind die feit dat dié eintste hondjie in die Ooste iewers op ‘n spyskaart saam met kapokaartappels pronk).

En so word ‘n klotter-Klaas se wêreld al voller en voller. Die gisters se onthou wil in die hede uit hul nate bars. En skielik is jy as klotter-Klaas baie benoud: waar gaan ek heen met vandag se onthou? En wat van môre?

Jy hiperventileer, jou oë kyk oormekaar en jy gryp kort-kort na ‘n bruin kardoessakkie. Jy koop nog uitstalbokse en belê in bubblewrap. Jy kyk oor-en-oor na Oprah se Home makeovers om ‘n paar tips te kry oor hoe en waar jy jou skatte kan vertoon (en selfs vir ‘n wyle tot ruste kan bring). Jy droom oor huisbou en van muur-tot-muur boekrakke.

Intussen het jy reeds vier nuwe tydskrifte gekoop om idees te kry. En vanaand as jy in die bed lê en lees, dan ruik jy aan die bladsye en jy oortuig jouself (noudat jy op ‘n drukkersink-high is) dat daar tog nog plek is vir ‘n stel koffiebekers met James Dean se gesig op.

5605852128_f42cba7a12_b

 

 

 

 

Advertisements

Supergom en die raad-op appy

Liewe Persoon

In Hollywood-flieks is die status-quo lief daarvoor om te sê: “You made your bed, now you have to sleep in it!” Dit is net ‘n fensie manier om te sê dat jy nie jou probleme myne moet maak nie. Maar wat as jy nie net figuurlik die bed gemaak het nie, maar dit ook sommer letterlik gebreek het?

Met die trekkery het die Juffrou se houtbed – die mooi kooitjie met die grend kopstuk- en voetstuk, ‘n aandiensbesering opgedoen. Die aard van die besering: krities, maar stabiel. En nou weet jy al hoe die wind waai: ek het die trek gereël so daarom is die beseerde kooi nou my probleem (en behoort dit volgens die Juffrou ook my nommer een prioriteit te wees). Sy het dit duidelik gestel: “You had your fun, now you are going to pay!” (…so asof trek niks anders is as ‘n oordadige koek-en-tee-jolyt nie).

Gelukkig vir my – en ongelukkig vir Pa, het ons nie boeties nie. Dit is net ons drie dogters: Pilletjie, die Juffrou en die uwe. Die gevolg was dat ek die aangewese garage appy was.  Danksy Pa is ek ‘n liberated woman wat die verskil tussen ‘n shifting spanner en ‘n socket wrench ken. Ek kan self ‘n plug bedraad, onderskei tussen sementboorpunte en staalboorpunte, hout saag én skuur en selfs – in uiterste gevalle die wasgoedpaal se armpies vas-weld. Met die afwesigheid van ‘n boetie moes ek inspring om die tricks of the trade te leer, want Pa was immers ‘n vakman (en wat is ‘n vakman sonder ‘n appy?). Ek was nie altyd gelukkig met my appy status nie, want dit het beteken dat ek meeste naweke van kop tot tone besmeer was – en dit is mos juis dan wanneer ongenooide gaste  by hul hordes hul intrek neem.  Maar om terug te kom by die kooi…

Pa my geleer dat ‘n mens nooit-ooit sonder ‘n nommer 10 spanner moet wees nie. Ook nie sonder ‘n stel ordentelike allen keys, ‘n tang, ‘n hammer en ‘n matmessie nie. Toe dié kooi daar in boude en blaaie lê soos ‘n slagskaap, toe weet ek: vandag is ast’ware my praktiese eksamen as ‘n appy-wannabe.  Ek het eers die nommer 10 spanner probeer sonder enige geluk. Die allen keys in die rooi Snap On-sakkie het my amper in sang laat uitbars, maar dit was ook van korte duur.

Vir ‘n oomblik het ek daaraan gedink om die kooi – nogal ‘n erfstuk, met die hammer flenters te slaan – maar dan sou ek (in dié koue) op die bank moet kiep terwyl die Juffrou haar in my bed tuismaak. Ek het ook daaraan gedink om ‘n stapel boeke onder die een poot te pak, maar ek kon dit nie oor my hart kry nie. Ek is baie lief vir lees.

Met die Juffrou se geduld aan die kwyn en my moed in my skoene, vee ek die sweet van my voorkop en steek my trots in my sak (synde ek my Appy Proficiency Test met lof gedruip het) – dit was tyd vir plan D: supergom. So jaag ek soos ‘n besetene na die eerste hardewarewinkel wat ek kan kry en ek koop nie minder nie as vier buise industriële-sterkte supergom. Dit kos ‘n fortuin. Ek bely my kleingelowigheid en bid vir genade en uitkoms.

Terug by die huis pleister ek die kooi van hoek tot kant (die aanwysings op die buisie belowe plegtig om deurskynend droog te word). Alles is naderhand taai – my hande, my kuif, my pajamabroek (mens moet gemaklik wees as jy jou met sulke hardebaard DIY-projekte besig)  terwyl die duiwel  my wys maak dat hierdie Destroy-It-Yourself  projek my nie net baie geld uit die sak gaan jaag nie, maar ook my eie bed se welstand in gedrang bring  (lees: besetting en oorname deur die Juffrou). Toe die bed uiteindelik staan toe sit ek die lig af en trek die deur toe – ons sal wel môre weet of die gom sy plak werd was. Needless to say, ek het daardie aand nie ‘n oog toegemaak nie.

Raai wat? Daardie gom klou soos ‘n Vrystaat-ondersteuner aan ‘n wen! Ek moet noem dat die bed nou met die waardigheid van ‘n ou dame behandel word (sy is immers al besig om aan ‘n tweede generasie diens te lewer). Ek het my toolbox teruggepak en gaan nou nêrens sonder ‘n  nommer 10 spanner,  ‘n stel ordentelike allen keys, ‘n tang, ‘n hammer, ‘n matmessie en ‘n buisie (of drie) supergom nie.

Tye verander Pa. Vakmanne soos jy is skaars.

Deesdae se appiess moet met supergom en gebed die wêreld aanmekaar hou.

1_21.jpg

Trek is nie vir sissies nie!

Liewe Persoon

Ek is kisboude. Dit is ‘n geval van lippe teen die klippe. My gô is uit. Die rede? Ek was tot na middernag besig met die Groot Trek. En nee, ek praat nie nou van kaalvoet-oor-die -Drakensberge nie (alhoewel dit vir my voel asof ek eiehandig ‘n kakebeenwa uit die drif moes trek)! Ek praat van die migrasie van een huis na ‘n ander, nuwe, huis.

Eers was daar die inpak van die ou huis.  Noem dit ast’ware Stap 1

Dié stukkie van die trekproses was nogal aangenaam, en opwindend. Jy sien, ek is ‘n versamelpaap en elke boksie vol briewe, kaartjies, fototjies, ou fliekkaartjies en selfs die bywoningsertifikaat wat ek nog destyds by die Kinderkrans gekry het, hou vir my ‘n unieke bekoring in. Vanweë dié bekoring (nou sommer genoem: skuinsgeit) het stap een van die trekproses hopeloos te lank gedraai. Ek het oor letterlik alles gesit en tob – van die kwepers wat oorle’ Ouma Cielie in die glasbak met die goue randjie bedien het, die HAT wat ek op universiteit by die Skryfskool losgeskryf het, die foto van Biebie (my geliefde foxterrier) waar sy – toe nog ‘n klein hondjie, saam met Pa op die lazy-boy lê en slaap tot, die string skulpiekrale wat ek met ons laaste gesinsvakansie in Jeffreysbaai gekoop het.

En van weggooi was daar mynsinsiens nie sprake nie. Dit is toe dat die Juffrou haar stem dikmaak. “Jy moet minder maak, daar is nie plek in die nuwe huis vir al dié goeters nie!”

Gmph!

“Goeters!” Met een enkele woord tuimel my nostalgiese kaarthuis inmekaar. Sy verstaan nie. Maar hoe kan sy? Sy glo aan “less is more”. Ek glo aan “more could be more”. Vir ‘n tweeling is ons nogal ‘n vreemde paar. So begin sy weggooi met ‘n ywer wat ‘n Comrades-atleet na sy asem sal laat snak. Nadat ek twee pilletjies gesluk het, toe gooi ek ook maar hier en daar ‘n ietsie weg: ‘n kous met ‘n gat op die hak, die skelrooi lipstiffie wat ek eendag in ‘n tydskrif gekry het en die ge-chipte koffiebeker met die landsvlag – wat ek in 1994 (standard 7) by ‘n vriendin gekry het.

Stap 2 behels die vervoer van jou aardse besittings van punt A na punt B.

Nou dat Pa nie meer hier is nie, is dit nie sommer net ‘n geval van alles in ‘n waentjie laai en Bob’s your uncle nie. Nee. Ek moes ‘n properse treklorrie huur. Weet jy wat kos dit om ‘n treklorrie te huur, liewe Persoon? Toe ek daardie kwotasie in my hande het toe weet ek skielik hoekom die Juffrou so gretig en vol passie kan weggooi! Wat kon ek doen? Ek het maar die kwotasie met ‘n bewende hand afgeteken en dadelik van nog ‘n paar “goeters” gaan ontslae raak (skielik sonder enige wroeging).

Toe die treklorrie gister die meubels kom laai, toe wil ek sommer aan die grens gaan: ek het aan daardie kleintyd televisie-advertensie gedink waar ‘n klavier en ‘n tafel sommer so in die ry uit die lorrie val (met Elvis se “There goes my only possession” as agtergrondmusiek) en, ek het skielik baie na Pa verlang.

Niks kan jou egter na behore voorberei vir Stap 3 nie. Die uitpak-en-wegpak-aksie.

Ek het (onwilliglik) baie lesse (lees: nederigheid) by Stap 3 geleer. Ek deel graag ‘n paar (en hoop om hiermee ook vir ander van hulp te wees):

  • Merk jou bokse duidelik. Moet onder geen omstandighede woorde soos “allerlei”, “gemeng” of “sorteer” op dit skryf nie.
  • As jou krale, borsspelde en armbande meer as twee bokse vol maak, dan het jy ‘n probleem. Hou dadelik op om krale te koop!
  • Net omdat ‘n CD by Pick ‘n Pay vir R30 te koop is (wat ‘n absolute winskoop is), beteken dit nie jy moet dit koop nie. Sit dadelik daardie CD neer!
  • Jy kan letterlik net een handsak op ‘n slag gebruik. Belê in ‘n rooie, ‘n swarte en ‘n bruine. Skenk die twintig ander vir liefdadigheid! Dieselfde geld vir serpe. Gaan staan voor die spieël en kies dié serpe wat die beste pas. As jy onseker voel oor ‘n serp dink aan Hilda van 7de Laan en gee weg.
  • Maak tog seker jy gebruik ‘n stewige boks, want daai boks met die ondergoedjies, die roll-on, die twaalf buisies gesigroom  én die potjie blusher sal soos Einstein se appel van ouds die grond met ‘n spoed tref.
  • Nadat ek tweekeer my arme rumatiek wysvinger aan die linkerhand met die hammer raakgeslaan het, is ek nou ‘n voorstander van kaal mure. Op die einde van die dag is dit net nie die pyn werd nie.

Stap 4 is op hierdie stadium nog net ‘n droom: om wakker te word in ‘n spiksplinternuwe huis waar daar nie ‘n enkele boks/roomysbak/mandjie of sportsak sonder “goeters” rondstaan nie. Ons sal daar kom, die Juffrou en ek. Wanneer is egter nog nie duidelik nie.

6-tips-to-overcome-moving-day-stress

Stroopoomblikke

Liewe Persoon

Ek het dit (al)weer gedoen! Ek het gepraat sonder om my verstand te gebruik. In teen deel, ek dink nie my mond en my verstand was eers in dieselfde vertrek nie. Noem jy dit maar ‘n outer body experience, want ek het nie ‘n verduideliking vir wat gebeur het nie. Ek pleit bewusteloos. Wat het ek gedoen? Ek het my naam met ‘n plank – vir ‘n ses, geslaan, en toe ek eers begin toe is daar geen keer nie – die blapse het soos stroop geloop.

Jy weet mos hoe die buisligte in lang en donker gange in rillerflieks altyd so aan-af-flikker – amper asof daar ‘n permanente bedradingsfout is? Nou ja, dit wil voorkom asof ek ook ast’ware met ‘n langtermyn bedradingsfout sukkel.  Anders as in rillerflieks wag ek nie my slagoffers in met ‘n hanswors-gewaad en ‘n kombuismes nie, maar eerder met ‘n mondvol tande en onvanpaste sinne.

Gisteraand – tydens ‘n laatmiddag vergadering, stap die voorsitter van ‘n sekere komitee (universiteite is versot op komitees en werksgroepe) die raadsaal binne en soos dit maar sy gewoonte is, groet hy almal vriendelik met die hand. So kom hy by my en sê: “Goeienaand, hoe gaan dit?” en net daar spring my bedradingsfout – soos ‘n voorbarige voordanser by ‘n Sun City extravaganza, uit die kassie ( kompleet met vere en fishnet-kouse) vir die hele wêreld om te aanskou. Ek spring orent, gryp die arme man se hand en uiter – in Engels no less,  die volgende woorde: “Pleased to meet you!”   Die oomblik toe die woorde oor die drumpel van my tong  trippel, toe wéét ek. Wat gevolg het was ‘n baie vreemde (selfs verskrikte) uitdrukking op die voorsitter se gesig – so asof hy my wil vra of ek dan nou straks aan geheueverlies ly (persoonlik dink ek hy wou my vra of ek nou skielik begin gomsnuif het).  Dit was verskriklik. Die res van die vergadering het ek net op my asemhaling gekonsentreer… en oogkontak ten alle koste vermy. Ons werk al immers vir langer as ses jaar saam!

Dit is toe – in my tamatiestraat-oomblik, dat ek terugdink aan vorige blapse wat ek al gepleeg het. En weet jy wat, liewe Persoon? Ek vermoed ek is terstond die eksentrieke soort. Mense gaan eendag van my praat as die tannie met die knee highs en die rooi polvye. Ja, die een met die yl bottelblond hare met die voorliefde vir surconia-ringe, fluweel aandsakkies en Vinolia-seep. Ek sidder as ek dink wat mense mag kwytraak oor my versameling plastiekeendjies en die plakboek vol nuusknipsels oor Allan Donald.

‘n Hele klompie jare terug neem ek in Mafikeng aan ‘n vasvra-kompetisie deel (raar, maar waar). En heaven behold ek wen R10 000 vir my departement. Op daardie dag het die stroop ook geloop, want toe Katlego (ja, die outjie van die TV) my vra hoe ek voel, toe sê ek: “I am fine, thank you. And you?”. Jip. Dis ekke daai.

Of wat van die keer toe ek as jong joernalis in V-town amper twee ure vir ‘n fiksheidsinstrukteur moes wag? Die man was laat (lees: besonders laat), maar dit was ‘n belangrike storie. En wat kom uit my mond toe hy (uit)eindelik daar opdaag met ‘n “jammer ek is laat”? Ek gee jou ‘n raai… “Dit is my plesier!” 

My grootste stroopstorie het egter in Checkers se groente afdeling gebeur – so tussen die boerpampoene en die oorryp (gedrukte) tamaties. Jy sien, toe ek as groentjie by die universiteit begin werk het, het al die titels  my vreeslik senuweeagtig gemaak. Dit was amper soos volksverraad as jy ‘n doktor ‘n proffie noem, of nog erger, ‘n proffie vir ‘n mevrou aansien. En daar tussen die groente bespring een van dié hogere geleerdes (met ‘n baie senior posisie) my en vang my hopeloos onkant met ‘n “Gaan dit goed?” Presies op daardie oomblik slaan ek so toe soos ‘n eerstejaarstudente tydens ‘n mondelinge eksamen en, al wat ek uitkry is: “Jammer, ek kan regtig nie nou gesels nie. Ek het ‘n vreeslike kopseer!” Ek dink ek het daardie dag op my maag uit Checkers geseil, en vir jare daarna het dié betrokke proffie my nog aan daardie dag herinner. Ek het nie regtig kopseer gehad nie, my woorde het net skielik stage-fright gekry.

Stroopoomblikke.

Dit kan met enigeiemand gebeur.

26diana-1

 

 

‘n Hippie met ‘n pistool, ‘n ou staalkatel en ‘n flenter Honda

Liewe Persoon,

Daar het ‘n hele nuwe wêreld vir my oopgegaan… en ek staan verstom! Gister (Sondag) wou-wou die dwarsgeit (wat altyd die laaste paar ure van ‘n naweek vergesel) in my binneste nesskop. Ek was op die punt om wéér die foto-albums van “me-lee-we” (soos Ouma Jannie altyd gesê het) nader te hark toe my oog op ‘n inskrywing op Facebook val: “Disassembled Honda CBR 900 1997 model for sale bike is complete just has to be put together” Ja, net so. Alles in een lang sin sonder enige leestekens. En ja, jy het reg gelees: die bike  is in ‘n duisend stukkies ampers soos een van daardie 2000-stuk legkaarte met die Groot Vyf op.  Die prys is ook net reg: R7 000! Ek vra jou, met trane in my oë: “HOEKOM?” En as ek ‘n tweede vraag toegelaat word: “WAAROM?”. Hoekom sal jy die bike van sy flikkerlig tot sy brieklig uitmekaar vroetel en dan dink iemand anders sal dit koop? Ek ken niemand wat so uitermatig lief is vir puzzles nie!

En daar gaat ek! En skielik is dit weer asof ek en Pa in ‘n stowwerige pandjieswinkel iewers rondsnuffel. Ons het nooit iets gekoop nie, net lekker gekrap. Want face it, dit is mos wat jy in ‘n pandjieswinkel doen, of hoe? Ek onthou een so ‘n pandjieswinkel in Potchefstroom…daar was van uitgedroogde koukies tot geroeste tuinvurke en geraamde Tretchikoff-posters (daai een met die balletdanseres en die swaan met die asemnood). Om elke hoek en draai was daar ‘n nuwe ontdekking geklee as ‘n tweedehandse vonds. In Parys (die een hier neffens die Vaalrivier) het ons eenkeer op ‘n pandjieswinkel vol weermagvoorraad afgekom… dit was net blik helmets, geroeste trompette en ‘n hektaar kose. As ek nou daaraan terugdink dan is dit met ‘n groot gegiggel, want dit wou lyk asof die ou-sêding tog ‘n bietjie aangepas moet word. In plaas van: “An army marches on its stomach” is dit eerder – of so het dit in daardie pandjieswinkel voorgekom, “An army marches because of its stomach!”

Maar terug by my Sondagaand-lekkerte. ‘n Paar kliekke verder en ek ontdek ‘n bladsy waar mense items te koop of te ruil aanbied – amper iets soos Nikie van den Berg se  “Ditjies en Datjies”. En my tone krul van pure lekkerkry. Jy sien – ek is nie opsoek na ‘n bargain nie, maar eerder die storie agter die item(s) wat aangebied word. Miskien is dit die nuuskierige joernalis in my. Ja, ek weet baie van dié items het ‘n hartseer skaduwee – nood en dood. Baie van die goed is deur jare bymekaar gemaak en vertroetel. Party van die aanbiedinge het ‘n paar Rand gekos, en ander het net bloot eenvoudig hulle betowering verloor (soos byvoorbeeld die Honda CBR 900).

Ek deel graag – sonder oordeel, ‘n paar van die vondse waarop ek afgekom het (en ek noem hulle hier nes hulle daar in die wêreld van sosiale media aangebied word)

  • “Ek het oud tydse bed se staal bys… Maak my ‘n prys maar nie minder as R200”
  • Onder die hofie, “Biki van als” : pre-loved boeke moet self afhaal kort tlc. En daar gewaar ek dit:’ Die Hippie met ‘n pistool ‘- ‘n roman deur Gerhard van Vuuren
  • “Ford Cortina V6 fully restored kort net papiere”
  • “Ingevoerde matriekafskeid rok net 1 keer gedra. Size 38-44”
  • “Extra set of balls” (ek dink hulle verwys na snoekerballetjies)
  • “Koi pond motor en filters kort net’n bietjie aandag”
  • “Ek’t 3 baba katjies wat liefdevolle huise soek. Hul is hand groot gemaak met ‘n tietiebottel. Gewoond aan honde en gebruik ‘n sandbak. Die swart katjie is ‘n mannetjie”

En dan my absolute gunsteling en wenner van die dag:

  • “Ou orrel te koop speel ni meer maar in goeie kondisie”

pawnshop-by-Kamal-H

 

Ongevalle

Liewe Persoon

Ek voel soos ‘n grootgebroeide hoendereier midde ‘n huiloorlog! Ja, net soos in die rebellie van 1914 voel dit vir my asof daar deesdae meer trane as bloed gestort word.

Dit is juis in hierdie huiloorlog van 2017 dat ek skielik (dog aanhoudend) gekonfronteer word met die grilling van hospitale – en meer spesifiek: Ongevalle. En vandaar my vraag: waarom nou juis die woord ‘ongevalle’? Die Engels, ‘Emergency Unit’, maak tog meer sin?

Kort en kragtig: in 2017 het die pawpaw die fên na behore geslaat. Dood. Nood.

My Ouma het altyd gesê dat vroue wat kaalbeen kerktoe gaan haar nie geval nie. Net so het rugby op ‘n Sondag en kwepers sonder vla haar ook nie geval nie. Come to think of it, Ouma het ook nie juis erg gehad aan honde in die huis of televisiekyk in Engels nie. Nou net so, geval Ongevalle my nie! Maak nie saak waar in die ou wêreld van ons jy jou voete oor ‘n Ongevalle-drumpel steek nie, dinge is orals dieselfde. Jy kan amper sê die gevoelte is standaard, dit is net die naam wat verander.

Uit my onlangse Ongevalle-oomblikke (eers met Pa en toe met die Juffrou), het ek die volgende bespeur:

  • Die bankies waarop jy jou sieke lyf moet neerplof is alles behalwe gemaklik. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek dink hulle wil die snuifendes, hoesende, bekrampte en kreupeles voor ‘n ultimatem stel: hou op kla en gaan huistoe OF kyk hoe lank jy dit op die bankie kan uithou.
  • Ja, daar staan ‘n duur Italiaanse koffiemasjien op die rak. Nee. Daar is nie suiker, koffie, water of ‘n muurprop beskikbaar nie. So droëbek sal jy bly (lees: ly).
  • Daar is altyd ‘n kindertafeltjie met stoele en jou wrintiewaar, ook ‘n emmertjie propvol pre-loved vetkryte (almal is omtrent so lank soos ‘n vuurhoutjie). Die probleem? Daar is niks om op te teken nie – met die gevolg dat die koorsige kindertjies dan maar òf die vetkryt probeer eet òf die tafeltjie bekrap.
  • Ek weet dat diegene in die mediesebedryf nie te geheg aan pasiënte moet raak nie – want dan sal die oom met die gout-knie en die jongeling-sonder-‘n-meisie die plek se drumpel deurtrap, maar wraggies: vriendelikheid behoort nie ‘n optional extra te wees nie. As jy daar sit met ‘n maag wat draai en sweet wat op jou voorkop pêrel, dan kan ‘n smile goed afgaan. Nou sit jy daar en wonder: lyk ek dan nie siek nie? Dink sy ek het ipekonders? Ek wonder of ek kan vra waar die naaste badkamer is?

  • Heelparty mense bring hulle hele uitgebreide gesin saam Ongevalle toe.  As jy tienuur die aand  Ongevalle se deur (in ‘n sieke-beswyming) oopstoot skrik jy jou boeglam, want die plek is gepak soos Loftus voor ‘n tuistoets. Eers veel later, nadat jy vir ‘n uur moes staan (in jou toestand) kom jy agter dat Jannie-met-die-gebreekte-arm sy tuisspan saamgebring het.  As sy naam genoem word, is Ongevalle skielik dolleeg!

Maar of Ongevalle my nou geval of nie, ek het ook geleer dat siekte nie kieskeurig is nie. Of jy nou oppad was na Afrikaans is Groot, ‘n langarm-sokkie by die myn se klub of bulletjierugby, as ‘n kiem jou bespring dan kan jy nie anders as om die pad Ongevalle toe te vat nie. Dit is juis vanweë dié gebrek aan kieskeurigheid dat dit nie vreemd is om in Ongevalle mense te sien in gym-klere, kerkklere, dansklere en selfs pajamas nie.

Ek het ook geleer dat terwyl jy daar sit met jou sweetpakbroek en jou uitgerekte trui (die een wat jou ma jou uitdruklik belet het om in die openbaar te dra), dan kan Brad Pitt maar langs jou sit solank hy bereid is om sy tissues met jou te deel. Mense oordeel nie in Ongevalle nie.

Dit alles gesê, hoop ek dat ek nie gou weer by Ongevalle sal moet aanmeld nie. Eintlik nooit weer nie. Dié plek geval my nie!

RS4789_111932943-630x420