Die treurmare van loperige tamatiesous

Liewe Persoon

Daar kom ‘n tyd in elke mens se lewe wanneer jy moet opstaan vir dit waarin jy glo. Party mense verwys na dit as wysheid. Ander sien dit as arrogansie.  Die sulkes wat reeds oor dié gawe beskik meen dit is salig. Ek en ‘n paar ander people pleasers droom van die dag dat ons ook met selfvertroue vorentoe sal tree.

Daar is diegene wat meen dit kom met die ouderdom saam: ‘n soort vrede wat jou vryskeld van die boeie van middelklasgeit en tevrede-wees-met-alles. So asof jy ‘n right of way of ‘n opgeskorte vonnis saam met jou dertig (plus) verjaardag gekry het. Wel, ek dink vandag is DIE dag waarop ek my trots moet sluk en my vuiste moet bal. Wat genoeg is, is genoeg! Ek is al lank in die tand en het al te veel deurgemaak (veral in 2017) om tevrede te wees met dié spulletjie.

Waarvan praat ek? Ek praat van verdunde tamatiesous! Die lewe is eenvoudig té kort en té duur vir loperige tamatiesous. En stilbly is nie die antwoord nie. Hierdie is ‘n euwel wat met wortel en tak uitgeroei moet word.

Vanoggend bespring ‘n belustigheid my (en synde die kafeteria reg langs ons kantoor is), hoef jy nie te wik en weeg as die (skyn)hongerpyne knaag nie. Ek besluit op ‘n klein pakkie slaptjips (asof dit in minder olie gesmoor word as ‘n groot pakke). Ek betaal my 50c ekstra vir tamatiesous (ja, 50c!) en voor ek nog behoorlik my grip om die bottel kon kry, toe loop die waterige spulletjie al oor die toonbank. Van die 36 ryp tamaties wat dit vat om ‘n botteltjie All Gold vol te maak is daar nie sprake nie…

En net daar wil ek my 50c terug hê – uit beginsel! Dit gaan nie oor die geld nie, maar eerder dit waarvoor die geld staan (of in hierdie geval NIE staan nie). Die kassiere is onmiddelik ongemaklik. Shame, sy werk ook net hier. Ek trippel rond soos ‘n diva, terwyl die tamatiesap spat!

Needless to say. Hierdie people pleaser kort nog baie tantrum-oefening. Ek is terug kantoor toe met my pakkie slaptjips in tamatiesop…

Ek ken nie iemand wat nie deur ‘n ernstige tamatiesous-fase was nie (behalwe miskien vir Ma, sy is meer ‘n Mrs Balls-aanhanger).  Die Juffrou het kleintyd selfs tamatiesous op brood gesmeer en het dit op byna alles behalwe hawermoutpap probeer (lees: sy het selfs tamatiesous oor tamaties en groenmielies gegooi).  Ek self hou ook van regte-egte tamatiesous. Dié wat aan die begin stadig-stadig uit die bottel loop totdat jy dit ordentlik skud (soos wat ‘n Staffie met ‘n ou buiteband maak) en dit dan in ‘n stroom (en tot groot vermaak van ander) uit die bottel spring. As jy daardie bottel in die kafeteria onverskillig rondskud kan mense seerkry… iemand kan straks verdrink!

Hoekom word ek kwaad oor verdunde tamatiesous? Vir my is dit soos voorgee. Pretend. Dit is net so goed asof ek voorgee dat ek ‘n nommer 8-rokgrootte dra en dan by die werk opdaag met ‘n stukkie lap wat nie verder as my kennebak kan kom nie. Of nog erger: voorgee om ‘n Blou Bul-ondersteuner te wees by Wimbledon (en dan soos ‘n Blou Bul-ondersteuner daar te sit met my Afrikanerbul mapareka (lees: helmet met bulhorings) ,my koue Kasteeltjie en ‘n sakkie lemoene. Ek en my Isuzu-trokkie met die paar blou dingemaleries (wat onseremonieël aan die tow-bar hang) sal ‘n sorry sight wees.

Fake. Soos vlooimark-parfuum.

… soos loperige tamatiesous.

potatoes-ketchup-murder-blood-111130

 

 

 

Advertisements

Skuinsgeit

Liewe Persoon,

Dit het alles begin toe ek gister met ‘n skok agterkom dat dit nie vandag Vrydag is nie. Dié wete, wat my eers lank na etenstyd bekruip het, het my nou behoorlik skuins gestem. En hier sit ek nou vandag so skuins soos die leunende toring van Pisa

Hoe bedoel jy, jy weet nie hoe ek voel nie? Ek voel kompleet soos ‘n BMX-fiets met ‘n puncture in sy voorwiel. Soos ‘n opblaas kampmatras sonder ‘n pomp. Soos ‘n verstopte stofsuierpyp. Soos ‘n string Krismis lights waarvan net die helfte van die liggies flikker. Fisies makeer ek niks. Dit is meer ‘n geval van tydelike mood poisoning.

Ek sal weer beter word. Miskien so vroeg as môre-oggend, sodra die wete dat dit (uiteindelik) Vrydag is na behore nesgeskop het. Miskien mope ek die hele naweek lank. Wie weet. Dalk bel Allan Donald… of nie. Dalk  stuur iemand blomme… of nie.  Dalk besluit die enigste oorlewende lid van die Bee Gees om in Suid-Afrika te toer. Dalk wen ek ‘n vakansie en verf my toonnaels rooi.

Dié gevoeltenis kom altyd so teen die middel van die jaar in my binneste lê. Ons hardloop so rond om te oorleef en te beleef dat ons soms skoon verby onsself hardloop en dan uitasem iewers langs ‘n snelweg  vir onsself moet wag. En nou ken jy my: ek en hardloop is nou nie juis best buddies nie. So teen die tyd dat ek agterkom dat ek vir myself weggehol het, dan brand my longe al soos kole vuur. My milt steek soos turksvydorings en my voete is oortrek met blase.

Daar is nie ‘n kuur vir  of teen mood poisoning nie. Puppy breath help, maar ook net tot genoemde klein hondjie ‘n blaps op die mat maak of die koerant verskeur. Vanilla-roomys verlig die simptome, maar ook net vir ‘n wyle (en dan sit jy met ‘n puisie op jou ken… of nog erger: twee puisies op die punt van jou neus!). Ek het al geleer om nie aan die koop te raak as die skuinsgeit pla nie, want dis dan wanneer jy skoene koop vir die mooigeid en nie vir die loopbaarheid daarvan nie. Dis mos hoe ek aan daardie paar pienk Chinese slippers gekom het met die seepglad-sole… en ook die rooi fluweelpolvye.  Nee. Die beste is om jouself eenkant te hou, amper soos ‘n drukpot. Of ‘n landmyn.

As jy nog nie van tevore met skuinsgeit gesukkel het nie, consider yourself lucky. Jy is seker ook een van daardie mense wat hulle trommeldik aan brood en pasta kan eet en nie eens ‘n enkele gram sal optel nie.Ek blameer my skildklier , dié dat my heupmaat protesteer elke keer as ek verby ‘n bakkery loop. ‘n Stadige (of geheel afwesige) metabolisme, jy sien.

Maar soos ek sê, môre sal ek dalk  beter voel.

im-suffering-from-mood-poisoning-quote-1.jpg

Liksens(ie): ‘n perd van ‘n ander kleur

Liewe Persoon

Ek het Donderdag my bestuurderslisensie laat hernu, en laat ek jou vertel: dit was ‘n epiese stryd en alles – van sel tot selluliet, moes in die voorste linies inval. Ek oordryf nie as ek sê dat dié oefening baie durf en mannemoed gekos het nie, om nie eens van geduld en verdraagsaamheid te praat nie! En net voor jy my in die rede val, vra jouself die vraag af: Wanneer was jy laas by die lisensiekantoor? I rest my case.

Miskien was dit roekeloosheid aan my kant. Ek bedoel, uit bittere ondervinding weet ek dat Donderdae liefs met groot omsigtigheid benader moet word. Daar is immers ‘n rede waarom dié dag na DONDER(weer) vernoem is. Maar die spreekwoordelike kalf was in die put (of is dit pothole?) en daar was nie omdraaikans nie. Gewapen met afskrifte, vier uiters onvleiende ID foto’s, ‘n ekstra swartpen en ‘n halwe Alzam-pilletjie durf ek die rye aan.

My Ouma Cielie het altoos van ‘n ‘liksens’ gepraat (sy het ook ‘n perd met dié naam gehad – vreemd, ek weet), en terwyl ek van die koulikheid my stopsels loskletter, dwaal my gedagtes terug na Ouma Cielie en haar blou two tone 1976 Datsun. Daar het ‘n poppie met blonde krulhare aan die spieëltjie gehang en Ouma kon skaars oor die stuurwiel sien. Sy het ‘n liksens gehad, maar Pa, oorle’ Sakkie en Hanna moes later ingryp en gaan mooipraat met die spietkop in Viljoenskroon. Dit het nie baie oorreding gekos om Ouma van haar liksens te stroop nie, en ek vermoed dat die einste spietkop dalk ook ‘n noue ontkoming saam met Ouma en ‘n vierrigtingstop oorleef het.

En skielik tref ‘n benoudheid my: sê nou net ek het my Ouma Cielie se bestuurstalent geerf? Sê nou my liksens is in die gedrang? En ja, ek weet dit klink oordrewe. Maar onthou: dit het my seskeer gevat om my liksens te kry! Trues bob… (maar dit is ‘n storie vir ‘n ander keer).

Anyway. Die ry vorder (soos ‘n slak oor skuurpapier) en einde laaste is dit net die oogtoets wat tussen my en my liksens staan. En skielik trek my linkeroog skeel – Pa het ook mos altyd so ‘n nervous linkeroog gehad (op Pilletjie se gradeplegtigheidfoto’s kan mens dit mooi sien). En dit is mos maar so, as jy angstig raak dan kan jy skielik nie so mooi hoor nie. En as jy nie mooi kan hoor nie, is daar ‘n groterige kans dat jy die instruksies verkeerd kan kry. En voor jy jou kom kry dan het jy – uit pure angstigheid, uitgepass – of nog erger: die oogtoets gedop! Vyfjaar terug met hierdie einste wals het dit Pa mos amper oorgekom.

Ek sit voor die toetser (wat so besig  was met ‘n  WattsUp-kettingboodskap dat sy my en my linkeroog skaars raaksien), en ek druk my voorkop teen die masjien. Ek sien niks! NIKS! Net voor ek wil beswyk mompel die toetser dat ons nou eers gaan begin… Gelukkig vir my blyk dit of haar lewe van die kettingboodskap afhang, en ek knyp my linkeroog toe. Ek kan nou maar eenmaal nie met altwee oë gelyk fokus nie, maar soos ek sê – die kettingboodskap is soos manna uit die hemel. Loer-loer worstel ek deur die toets en ten einde laas skree die toetser “Left thumb”. Ek skrik so groot, my regteroog trek sommer ook skeel…en natuurlik reageer ek nie, want in daardie oomblik klink “Left thumb” vir my nes iemand se naam en van…

Drie skril skroue later dring dit tot my deur dat sy eintlik met my praat en ek my linkerduim moet skandeer. En so skrik-skrik is my liksens uitgesorteer vir die volgende vyf jaar.

En nou weet ek waarom Ouma Cielie die perd ‘Liksens’ genoem het… want dit is makliker om ‘n wilde perd op te saal as om kop-of-stert by die lisensiekantoor te probeer uitmaak!

driver2

Alles gaan okei wees…

Liewe Persoon

En daar loop ek haar raak – amper 30 jaar later, so tussen die inpak en uitpak (lees: GROOT trek). Sy het, nes ek haar onthou, so stil-stil haar verskyning gemaak. Sy was mos nog altyd skaam – veral toe. Met haar blou draadraambrilletjie, boksterte en haasbekkie staan sy daar op die stoep van Jukskeilaan 15 reg vir haar eerste dag van skool. 1986. Dit voel soos ‘n leeftyd gelede.

Ek weet dat sy baie nervous was.  As dit nie was vir die Juffrou – wat saam met haar deur die hekke van Virginia Volkskool moes stap nie, dan sou sy sweerlik die hasepad gekies het. Come to think of it, waarheen sou sy gaan? Haar sin vir rigting is vandag nog gevaarlik…

Ek wil vir haar sê dat sy okei gaan wees – daar waar sy met haar lang skoolrok,  nerf-af knieë en bruin skooltas met die nuwe vetkryte en Jumbo inkleurboek staan.  Dit gaan awkward wees, maar sy het 12 jaar om in haar menswees in te groei. Die skooltas gaan swaarder én groter word. Juffrou Santie – met haar blou Peugeot stasiewa (met die fluweel sitplekoortreksels), gaan – vir die duur van Sub A, haar eerste superhero wees.

Destyds wou sy nie met iemand maats maak tensy die Juffrou nie ook deel van die groep was nie. Dinge sal oor die jare ietwat verander (lees: storm-en-drang-tienerjare), maar sy en die Juffrou sal onafskeidbaar bly. Ek weet dit, vir ‘n feit.  Saam gaan hulle (tevergeefs) probeer om in die skoolkoor te sing, hulle gaan veldskool (tweekeer) aanpak en (net-net) oorleef en hulle gaan elkeen ‘n boekmerk (soortvan) borduur ten spyte van hul vrees vir Juffrou Meisie. Hulle gaan trane stort oor algebra en meetkunde, hulle gaan netbal speel (in uiters onvleiende gebreide sportdrag) en soggens oor haarrekkies en -knippies baklei. Pouse gaan hulle Oros drink en polony-toebroodjies eet. In standerd 4 gaan Meneer Mauritz hulle die  bynaam: “Photostats” gee, want lets face it: tweelinge en rooikoppe trek altyd aandag (…en byname is so deel van die skolastiese trauma soos ‘n puisie op die lip… of aardige skoolfoto’s). Sy gaan leer om Beethoven se “Fur Elise” op die klavier te speel en in kunsklas gaan haar tekening van ‘n polisieman by die Eistedfod uitgestal word.

Sy gaan R20 wen by die skool se wetenskap-ekspo met ‘n taak oor onkruiddoder. Sy en die Juffrou gaan twee cowgirls speel in die skoolkonsert en vir dié gebeurtenis gaan Ma sirkels met lipstiffie op hul wange inkleur. Blykbaar het cowgirls toentertyd vreeslik gebloos… dit het omtrent gelyk of almal in die konsert koorsig was.

Hoërskool gaan ‘n stryd om oorlewing wees – maar sy moet relax en weet dat alles okei gaan wees.  Sy gaan wéér in die groenspan wees vir huissport. Sy gaan draadjies dra – met spore en rekkies, van standard 8 tot in matriek. Bibi die baster-foxterrier gaan haar skoolskoene flenters byt en sy gaan in Juffrou Potgieter se naaldwerkklas haar maaksel (woorde kan nie begin om hierdie treurmare te verwoord nie) aan haar skoolrok vasryg. In matriek gaan ‘n cool rugbyspeler ‘n baksteen in haar tas sit en sy gaan – salig onbewus van die wreedheid van rammetjie-uitnekgeit, dié baksteen vir ‘n hele dag met haar saamdra. Sy gaan haar tas in die bus vergeet en ‘n epiese haardrama oorleef (peroxide is steeds niemand se vriend).

Varsity gaan awesome wees. Behalwe miskien vir daardie Sondag toe Ma en Pa haar by die studentehuis in Presidentstraat aflaai. Of miskien daai dag toe sy en ‘n ander student (lees: beide met ‘n ernstige gebrek aan hand-oog-koördinasie) reg voor die boekwinkel  in mekaar vasgery het. En watter vriendin sal ek wees as ek haar nie waarsku oor HTML-kodering in haar finale jaar nie?  Sy is egter meer as okei en verwerf haar graad met lof.

Na varsity vlieg die tyd. Dit is werksoek en werk hou. Sy gaan vriende maak met ongure karakters soos SARS, Binnelandse Sake, die munisipaliteit, lewensversekeringspremies en hemelhoë mediesefondse.  Sy gaan – na vele probeerslae, haar bestuurderslisensie kry (ondanks groot twyfel en die vermoede dat sy straks vir tyd en ewigheid met ‘n fiets tevrede sal moet wees).

Op ‘n dag sal haar wêreld tot stilstand kom. Sy sal ‘n langsteelroos op ‘n houtkis moet neersit. Ek wil hê sy moet weet: sy gaan okei wees.

Meer as okei.

(n.s. Groot brilrame gaan weer in die mode wees… )

IMG_20170702_180502_114