Oor ruiters, ridders en rillings

Liewe Persoon,

Wat gaan ek doen? Iewers daar buite is ‘n ridder op ‘n witperd oppad hierheen, en ek is banger vir ‘n perd as vir die badkamerskaal. Trues bob! Perde gee my die rillings. En met ‘rillings’ bedoel ek nou nie dat ek gril nie, maar eerder dat ek op ‘n (baie) verkeerde manier hoendervleis kry. Dit slaan binnetoe… ampers soos masels.

Verstaan jy?

En ek het probeer… om my vrees en gepaardgaande rilling to oorkom. ‘n Vriendin van my – ‘n ruiter van formaat, het my jare gelede vir ‘n piekniek by haar ryskool genooi. Ja. So tussen die perde waar hulle wei. Wei perde?  Anyway. Daar sit ek en sy toe met ons driehoek-toebroodjies en kraffie koffie. Ek het maar swaar gesluk – nie omdat die brood droog was nie, maar omdat dit wrintiewaar gevoel het of die perde ons omsingel het. En toe? Toe gaan staan my hart amper!

Toe ek weer sien toe is perd-se-kind se kop hier neffens my en eers gee hy ‘n nies wat ‘n grondverskuiwing in Noordwes na kinderspeletjies laat lyk, en toe hap hy – so oor my skouer, my hele toebroodjie! Ek weet nie wat die ergste was nie: die perdesnot in my nek (en oor) of die opgetrekte bo-lip en gekners van tande terwyl hy die broodjie smul.

Later jare het ek, Pilletjie en die Juffrou besluit om die grootmens-ding te doen en alleen – as susters, vakansie te hou. Ons is sak en pak na ‘n (gesogte) wildsplaas in Mpumalanga.  Daar aangekom besluit Pilletjie en Juffrou dat ons terstond ons stadskoene moet uittrek en ons name moet opgee vir ‘n middernagtelike wildbesigtigingstoer en ‘n ekskursie die vlaktes in…te perd.  Ek het woes wal gegooi oor laasgenoemde, maar the tribe had spoken.

So daag ons drie – wat nie een die titel ‘ ruiter’ eers behoort te uiter nie, op vir die ekskursie. Ons en omtrent die res van Gauteng (ek kan mos nie naam weggooi sonder ‘n behoorlike gehoor nie).  Die toergids wil weet of almal ‘gemaklik’ is met perdry en of daar straks iemand is wat ‘leiding’ gaan nodig hê. Net daar besluit ek dat ek nie my einde – al geloppende, op die rug van ‘n perd wil nader nie. Ek steek my hand op en erken ruiterlik dat ek nie ‘n ruiter van ‘n muiter sal kan onderskei nie.  Pilletjie en die Juffrou – wat heimlik in dieselfde bootjie as ek was, gryp elkeen ‘n perd en maak of hulle my van geen kant ken nie. Skielik is dié twee mos so bekend en bedrewe met ‘n perd soos twee Durban July jockeys.

Wat volgende gebeur sal vir altyd in my geheue inge-ets wees. Die toergids lei ‘n blinkswart perd nader wat soos iets uit ‘n Harry Potter-film lyk. Dit is maklik die grootste perd wat ek in my hele lewe gesien het. Paniek pak my beet. Hoe op aarde gaan ek op dié perd (ek sou eers later leer dat dit ‘n Friesperd was) se rug kom? Ek sê jou , liewe persoon, daardie perd was huge. Ek dink tot vandag toe dat hy my nie eens gesien het nie: sy kop het bo myne uitgetroon en ek was ooghoogte met sy knieë. En asof almal nie al reeds vir my gestaan en wag (lag) het nie –  en ek geen idee gehad het hoe die Juffrou en Pilletjie op hul onderskeie perde se rue gekom het nie (lees: elke vrou en wannabe-ruiter vir haarself), word ek toe sonder seremonie na ‘n klein verhogie geneem vanwaar ek my perd vanuit ‘n hoogte moes bestyg.

Ek het my amper doodgeskaam.

Met almal (die uwe inkluis) in ‘n saal, het die eksursie begin en so ook een van die lekkerste lag-dae van my lewe. Nee. DIE lekkerste lag-dag van my lewe. Sien, terwyl ek en my swartblink reus kop en skouers bo die res uitgetroon het (en omtrent tot in die volgende week kon sien), het  Pilletjie en die Juffrou se perde vir groot sports gesorg.  Ek glo tot vandag toe dat dit ‘n klassieke geval van jungle justice was – omdat hulle my gelos het en blootgestel het as die enigste sot sonder perdry ondervinding.

Die Juffrou se perd was doodgoed en goed dood. Sy het hom in die lieste ge-nudge en gewoel dat ek naderhand benoud was hy trek met haar weg en ons sien haar nooit weer nie. Maar het hy gereageer? Nee. Dié perd – wat seker die roete al met toe oë kon aanpak, het hom glad nie laat aanjaag nie – in fact, hy het sommer op die plek rus gekry. Elke paar meter moes die toergids vir die Juffrou en haar hings loop haal. Ek het natuurlik onbevange en soos ‘n versteurde gekraai van die lag (en skoon van die res van die toergroep – wat hulle aan my verkyk het, vergeet).

Pilletjie het weer ‘n aweregse merrie gehad. Heel gepas, het ek gedink. Dié perd het weer heeltyd alternatiewe roetes probeer volg, met Pilletjie wat soos ‘n Chappie aan ‘n skoolromp aan die teuels klou. Ek onthou dat ons almal by ‘n Salpeterboom gestop het om die sout van die blare te bekyk (ek kan nie onthou of ons die blare belek het nie), en wat doen Pilletjie – ten aanskoue van die toergroep? Sy en haar perd stap doodluiters verby ons almal en stop ‘n paar meter verder met hul rugkant na die groep. Met die aanskou van hulle boude en blaaie – letterlik, gaan ek mos so aan die lag dat ek amper die twee verdiepings van my perd se rug af val. Pilletjie het hier en daar en oral aan die leisels getrek en met haar tong geklik, maar die merrie wou niks weet.

Ek kan nie veel van die res van daardie vakansie onthou nie, maar ek giggel steeds kliphard as ek oor daardie dag dink. Is ons na dese ruiters? Nee.  Sal ek side saddle ry saam ‘n ridder? Ek twyfel. Ril ek steeds as dit kom by perde? Ja… maar ek smile al die pad.

funny-horse-quotes

Advertisements

Die ‘sebien’

Liewe Persoon,

Het jy geweet dat ek al my hand aan die skryf van ‘n verhoogdrama gewaag het? Ek kry gister – toe ek my kas regpak (ek weet, op ‘n Saterdag, dit is tragies) die dramastuk in een van my memory boxes. Laasgenoemde is ‘n eufemisme en ‘n troetelwoord in my woordeskat, want dit klink net soveel beter as ‘n boks vol gisters met ‘n plakker op wat lees: Allerlei.

Maar om terug te kom by die verhoogdrama. Ek deel dit graag met jou, want nes my memory box vertel dit ook die storie van ‘n gister – of soos Laurika Rauch dit so mooi besing in die liedjie, ‘The old folk’.

Dramatis Personae

  • Ouma Petronella
  • Ouma Henna
  • Ouma Mien
  • Fiena
  • Boetie Lodriet

Verhoogaanwysings

Drie oumas sit op hoë regop stoele op ‘n stoep voor ‘n skakelhuisie. Hulle is besig om te brei. Skuins agter hulle staan ‘n tafel met ‘n verblykte platiek tafeldoek oor. Op die tafel staan ‘n verskeidenheid van geroeste koffie-blikke, met ‘n varing, ‘n wandelende Jood en ‘n malva steggie daarin. Veraf in die huis begin a ketel wat kook te fluit, en Ouma Petronella sukkel om haar kierie by te kom.

Ouma Petronella: Wag, die ketel kook – ek moet gaan tee maak. Daar is vars beskuit, ek het vemôre gebak. (Die ouma staan swaar op en gaan die huisie binne).

Ouma Henna: Dankie Petronella, dit sal lekker wees. Maak my tee tog maar flou, ek het so ‘n naar kol op die krop van my maag.

Ouma Mien: (Trek ‘n paar rye van haar breiwerk los en begin te lag). Ja, ou Henna. Dis van al die tee drinkery dat jy so naar is. Drink vir ‘n slag ‘n ordentlike beker koffie, dan sal jy sommer weer krag in jou gebeentes kry.

Ouma Henna: (Sug hardop). Ja Mien, elkeen na sy aard.

Ouma Petronella stoot ‘n lendelam tee-trollie stadig en versigtig oor die onewe sementstoep.

Ouma Petronella: Kry vir julle, in die klein bekertjie is ekstra kookwater. (Sy sak op die stoel neer en skuif die kussing agter haar rug weer reg).

Ouma Henna: (Sit haar breiwerk neer en haal haar bril af) Mien, gee tog my tee aan, die ou been wil weer nie vanmôre nie. Ek dink hier is groot reën aan die kom, oorle Ma het altoos gesê ‘n mens met jig is ‘n goeie weerprofeet.

Ouma Mien: (Gee die teekoppie haastig aan) Ou Henna, as ‘n mens so na jou kyk voorspel jy eerder die groot droogte! Ek glo as die duisendpote in die huis loop is die groot reën sommer naby.

Ouma Petronella: (Skuif ongemaklik rone en vou haar hande in haar skoot) Hoor hier julle, ek wil ernstig met julle praat oor iets wat my inniglik pla.

Ouma Mien: (Gooi ‘n opgehoopte lepel suiker in haar tee en begin roer) Petronella, jy lyk hoeka vandag so bedremmeld – pla jou gal weer? ‘n Goeie skoot Levenessense is al wat sal help.

Ouma Henna: (Leuen nuuskierig vorentoe) Praat Petronella, praat – kry dit van jou hart af. Ek sê altyd, uitpraat verlig die gemoed… is dit weer jou kinders? Drink jou seun weer?

Ouma Petronella: (Doop die beskuit in die tee, en vat ‘n hap) Nee Henna, deur die genade is Paul darem nog op die reguit pad.

Ouma Mien: Het julle hom laat uitdroog? (Sy leuen vorentoe en beduie met haar hand in die rigting van die oorkantste skakelhuisie) Ek hoor ou Sêra sê so ‘n ge-uitdroog gee hulle partykeers die horries.

Ouma Henna: Mien! Wee die een met ‘n los tong… die Woord waarsku daarteen. Laat Petronella nou praat.

Ouma Petronella: Kyk, ek is nie een wat my met ‘n ander se dinge ophou nie (sy sit haar koppie op die trollie), maar dit is nou al ‘n week dat ek elke nag sien ou Piet en Fien se kombuislig brand tot waffer tyd. (Sy trek haar asem diep in voordat sy verder praat) En daar is ‘n aanloop van mense by die agterdeur.

Ouma Mien: (Baie verbaas en half geskok) Magtig Petronella, wat praat jy nou – dis hier reg langs my! Verbeel jy jou nie? Ek hoor dan niks!

Ouma Henna: (Lag lekker en wys met haar hand na Ouma Mien se gehoorapparaat) Mien, jy sal niks hoor nie, jou fountjie was seker weer af! Jy bêre hom mos al te kostelik voor jou bed, langs dai fishpyst-glasie met jou smaail in!

Ouma Petronella: Kyk, verry dit van my om my medemens te beswadder, maar ek sê nou vir julle, daar is iets onheiligs aan die broei.

Ouma Mien: (Praat skielik, asof dit wat sy wil sê haar nou net bygeval het) Weet jy, daardie twee ou siele was weke laas by die biduur… en nou dat ek daaraan dink, ou Fien het deesdae mos ‘n vroutjie wat met die huiswerk help! (Ouma Mien is totaal oorbluf) En dis die mense wat laas Krismis nog ‘n kospakkie by die kerk moes gaan haal!

Ouma Henna: Mens, en Fien was lanklaas by die Hersblare. Sy sit mos altoos langs my, dan gaan haal sy vir ons nog eetgoedjies.

Ouma Petronella: (Duidelik baie verlig) Dis so ‘n las van my hart af. (Sy vat nog ‘n beskuit) Wat gaan ons maak?

Ouma Henna: Loop roep vir dominees!

Ouma Mien: (Baie verontwaardig) Dominees .. met permissie gesê, se dinges! Ons moet self loop kyk – mens hol nie met als pastorie toe nie. Dominees Wiese is ‘n besige man, en onthou, ons is mekaar se hoeder (Sy kyk stip na Ouma Henna). Dit staan mos ook in die Woord, of hoe Henna?

Ouma Petronella:  (Sy kyk na die horlosie teen die muur) As ons moet gaan, moet ons nou gaan. Eenuur eet ek, en ek wil nie graag die middag-oordenking oor die draadloos mis nie.

Ouma Henna: Wag, laat ek net eers ‘n ander rokkie gaan oorgooi. Mien, ek sien jy het effe op jou bloesie gemoers, miskien moet jy ook maar ‘n verskoonseltjie oorgooi.

Ouma Mien: (Gluur Ouma Henna aan). Magtig Henna! Ons gaan nie kuier nie, ons gaan kyk!

Ouma Petronella: Nee Mien, ons moet gaan besoek aflê. Ek sal ‘n bordjie beskuit saamneem. 

Ouma Henna: Petronella, jy moet maar genoeg inpak, laat ons almal weer kan kry.

Ouma Mien: (Al effens geïrriteerd met Ouma Henna) Lyk my jou naarheid is darem aan die sak!

Die drie oumas stap die straat af. No 3 se hekkie staan oop en die stink Afrikaners hang verlep in die hitte. Ouma Mien druk haar vinger in die kurkdroë varing se pot en snuif hard. Ouma Petronelle maak vir haar groot oë en Ouma Henna plooi haar tandelose mond in ‘n groot glimlag. Sy klop aan die deur met die baie Toktokkie-plakkertjies. Die voordeur gaan op ‘n skrefie oop en Tant Fien, met ‘n kop vol krullers, loer om die deur.

Tant Fien:  (Duidelik uit die veld geslaan) My wêreld, dis nou ‘n saprais!

Ouma Mien: Dag Fien, en as jy nog in jou nagkabaai staan? Dit is al amper middag!

Tant Fien: (Slaan Ouma Mien speels op die skouer en lag) Nee vrou! Ek het die ou lappie-goed al jare, toe maak ek sommer vir my ‘n top en ‘n divided skirt. Piet sê ek lyk grênd.

Ouma Petronella: Môre Fien, kan ons maar inkom?

Ouma Henna: Fien, laat ek net sit, ek het so ‘n naarkol op die maag (Ouma Mien dop haar oë spierwit om)

Die sitkamer is deurmekaar. Op die vloer lê koeldrankblikkies, sjokolade-papiere en ‘n vetterige koerant met ‘n paar stukkies oorskiet vis en chips op)

Tant Fien: Sit mense, ek het ‘n bietjie laat gelê vanmôre. Vaa-aai-lit! (Sy roep in die rigting van die kombuis) Kom tel gou die goedjies uit die vloer uit op.

Ouma Mien: (Kyk groot-oog na die gemors op die vloer) Magtig, Fien!  Eet julle uit die keffie?

Tant Fien: Mens, gisteraand was Piet so lus vir fish en chips. Toe gaan koop ons maar.

Ouma Henna: Maar dis mos duur?

Ouma Petronella: Fien, hoe gaan dit met jou en Piet? Ons het julle lanklaas by die biduur gesien.

Vailit kom in, sy tel die gemors van die vloer af op. Sy glimlag, maar die drie oumas staar haar verstom aan)

Tant Fien: Vailit, maak bietjie vir die oumiese koffie.

Ouma Mien: Nee Fien, ek wil nie koffie hê. Jy weet mnos ek drink nie enige mense se koffie nie. (Ouma Petronella en Ouma Henna bedank ook die koffie hartlik. Ouma Petronella gee die bord met beskuit af)

Tant Fien: Vailit. Sit die beskuit in die kas weg, laat die customers dit nie sien nie.

Ouma Mien: (Geskok) Magtig, Fien! Wat gaat hier aan? Wat vir ‘n goed is ‘n customer?

Tant Fien: Ag vrou, dis eintlik meer soos kuiermense. Ek roep hulle sommer net op Ingels.

Ouma Henna: Mens, is dit weer jou oorle broer se kinders wat hier kuier?

Ouma Petronella: (Baie simpatiek) Siestog. Is dit weer daardie een met die horrelvoetjie?

Tant Fien: Nee, laat ek julle ‘n ding storie. Ek en Piet het mos nou ‘n besigheidjie. Jy kan maar sê ons het op ons oudag in die big time business beland.

Ouma Mien: (Stik amper soos sy lag) Besigheid! Jy en Piet weet bokkerôl van besigheid af. 

Ouma Henna: (Berispe vir Ouma Mien) Mien, wee die een deur wie die moeilikheid kom. Laat Fien praat.

Tant Fien: (Baie trots en selfvoldaan) Ons het ‘n sebien begin. Sommer hier agter in die kombuis.

Ouma Petronella: (Baie benoud. Sy hou haar sakdoek voor haar mond) Bensien? Fien, as daardie goed vlam vat brand die hele dorp af! Ek het altyd my oorle man se ouderlingspak met ‘n bensien-lappie afgevee, en eendag, toe steek klein Jaap die lappie aan die brand! Dit was ‘n vreeslike vlam, die arme kind het nie ‘n ooghaar oorgehad nie.

Ouma Henna: (Sy verstaan nou glad nie) Bak jy uit, Fien?

Ouma Mien: Die Woord sê in die laaste dae sal daar vreelike dinge op aarde gebeur, vreemde dinge. Fien, wat de duiwel is ‘n sebien? Ek ken magou, maar van sebien wis ek niks!

Tant Fien: My Piet het laas na die groot nagmaal ‘n vreeslike kop aan hom gehad. En oorle Ma het altoos gesê gimmer brannewyn is al wat vir so ‘n kop help. Julle sal nou nie vir my glo nie, maar Piet het sommer hier op die trap gesit en sy kop vasgehou! Shame.

Ouma Henna: (Baie bejammerend). Van so ‘n kop kan jy my niks vertel nie.

Tant Fien: Ons het nou wel gimmer, maar waar kry ons brannewyn, ou Lewinsky was al vergange toe. Dis toe dat Monkie, wat in die pastorie se tuin werk, ons kom help.

Ouma Mien: (Baie ontsteld) Moenie vir my sê ou Monkie suip by die pastorie nie! Weet dominees dit?

Ouma Henna: Haai, en toe?

Tant Fien: Ou Monkie sê toe daar is ‘n plek in die lokasie waar jy tot waffer tyd in die nag kan dop koop. Hy het toe vir ons ‘n half jêk gaan haal.

Ouma Petronella: Drank uit die lokasie!

Ouma Henna: ‘n Half jêk wat?

Tant Fien: Spotgoedkoop, sê ek vir julle. Dis toe dat ek en Piet besluit om die sebien oop te maak. Nou help ons anner mense, so ‘n help-mekaar besigheid.

Ouma Mien: Ja, Fien. Help die duiwel die warmplek stook!

Daar is ‘n klop aan die deur en iemand stap sommer in. Nog voordat die oumas iemand sien, ruik hulle ‘n suur-vuil reuk. Dit is Boetie Lodriet, en langs hom frommel Monkie sy pap hoedjie in sy hande op

Boetie Lodriet: (Baie voorbarig) Yes, yes! Issie ou aunties ook lus vir ‘n dop?

Ouma Mien: Magtig, Lodriet! Skaam jy jou nie? Kyk hoe lyk jy? Jou oorle Ma draai in haar graf om!

Ouma Henna: (Baie opgewonde oor die vooruitsig van ‘n ietsie om te proe) Dit klink vir my heel lekker, dankie!

Ouma Petronella: (Vat-vat aan haar hart) Kom julle, meng jou met die semels en die varke vreet jou op!

Tant Fien: Ag nee! Dis maar Boetie se manier, as hy eers ‘n paar doppe in het is hy heel skaflik.

Boetie Lodriet: Ek sê auntie Fien, is die ou toppie ager, ek en Monkie soek iets vir die keel.

Ouma Petronella: (Vee haar gesig met haar sakdoek af en druk haar vinger tot byna onderFien se neus) “De wijn is een spotter, de sterke drank is woelachtig, al wie daarin dwaalt, zal niet wijs zijn”. Dit staan in Spreuken 20, ek het dit nog in my katkisasie klas geleer.

Ouma Henna: (Kyk Ouma Petronella met verwondering aan) My hene, Petronella. Ek onthou net die custard slices van oorle Mevrou dominees De Wet. Van katkisasie wis ek nie meer.

Ouma Mien: Magtig, Fien! Skaam jy jou nie? Jou pa en ma was eerbare mense. Ek onthou nog jou pa het op die railways gewerk. Jou ma was sinnelik en skoon op haar huis. En nou hou jy ‘n dronknes saam Boetie Lodriet en Monkie!

Tant Fien: (Baie kwaad) Hoor hier, Mien Stywenek, laat ek jou iets vertel. Jy hou jou verniet so hoog heilig. Jou oorle Stoffel het ook maar gelaaik van sy sonondertjie, nogal so skelm agter die waenhuis se muur lat jy hom nie moet sien. Ten minste geniet ek en my Piet so saam-saam ietsie.

Ouma Petronella: Wat sal dominees sê? ‘n Adder in ons boesem. Berge bedek ons en heuwels val op ons!

Ouma Henna: (Baie seker van haarself) Ek weet nou nie van dronknes hou nie, maar my huisie is netjies, en ek vat gereeld so ‘n eetlepel whiskey op melk vir die naarheid op die maag.

Ouma Mien: (Baie ontnugter deur Ouma Henna se reaksie) Jy steek net die mense verder aan in hulle gesuip… Fien, maar maak julle darem geld?

Tant Fien: Ou Mien, wanneer laas het jy keffie kos gehad? (Baie sarkasties) Seker net op pensioendag. Ek en my Piet eet uit net wanneer ons wil, met cool drinks daarby.

Ouma Henna: Ja, daardie rooies is baie lekker...

Ouma Petronella: Julle kan spring soos julle wil, maar dis ‘n adder gebroetsel waarmee julle besig is.  (Sy staan ergerlik op en loop. Die ander twee kyk na mekaar, maar sak verder terug in hulle stoele)

Ouma Henna: Weet julle waarvoor is ek nog so lief? Vir ‘n lekker soetetjie Sondae. Oorle Pa het geglo dis goed vir die bloeddruk.

Ouma Mien: (Skuif belangstellend nader) Fien, hoeveel wins maak julle? Hoe werk dit?

Tant Fien: Moenie worry nie, ek skink vir ons ietsie en dan lê ek die saak vir julle uit.

Ouma Mien: Dit val my nou net by, ek onthou mos tog ook ‘n teksie van toentertyd. “.. en die een het kwaad gerucht voortbrengt, is een zot” (Sy kry ‘n slinkse glimlag op haar gesig) Met ander woorde mens moet maar partykeers jou mond hou. Fien, waar draai jy dan so met die drinkgoed?

738x387xScreen-Shot-2014-12-10-at-9.01.54-PM.png.pagespeed.ic.KjHR0MlBgG

‘n Paartie-koning is koel én kalm

Liewe Persoon,

Jy sal nooit raai wie ek in die haarsalon raakgeloop het nie? Wel, eintlik het ek hom raakgesit, want ek was klaar onder die droër besig om kaiings te braai en ‘n peroxide hoofpyn weg te wens. Toe, raai!

Vir Pietie* – die oudste van die Lotterkroos. Ja man, jy weet: Devon* en Bokketjie* (my Ma se bure). Dis hulle wat die off-white Opel Kadett ry en die rooi 250cc motorfiets op ‘n Sondagoggend skoonbrand (of eerder, brul). Anyway.  

So tussen die foils deur hoor ek toe dat Pietie* – wat daar was vir ‘n skeer en ‘n over comb,  nou genoeg gehad het van matriek en dat hy die skoolbanke voortydig vaarwel geroep het. Dit was ‘n dom besluit as jy my vra, want daar is net drie maande oor van die skooljaar en matriek moet tog makliker wees die tweede keer – of hoe? Pa het altyd gesê as jou uitveër voor jou potlood klaar raak, moet jy weet jy het probleme. Dit was dan seker ook so, met Pietie* en die boeke.

Pietie* of Pietman soos die haarkapper hom noem, is glo nou ‘n belowende platejoggie (‘n DJ) en daar is nie ‘n opskop in Stilfontein en omgewing waar hy nie die vinyls draai nie.

Nou teen dié tyd toe lê ek al amper met my kop (vol foelie) op Pietman se skouer, want ek kan mos nie so lekker hoor nie (lees: en ek vrek van die nuuskierigheid). Dit het hom (Pietman) gelukkig nie gepla nie. Shame, ek dink hy is ook maar uitgehonger vir ‘n bietjie aandag en liefde. Ek moet ook byvoeg: sy nuut gevonde status as plaaslike paartie-koning het hom so selfversekerd soos James Small na die Bokke se oorwinning in ’95 (en ek hoop daarom nie dat hy my belangstelling verwar het met beheptheid nie… oeps!).

Dis toe dat ek van Pietman se groot score en sy bad luck met twyfelagtige vriende te hore kom. En skielik lyk die lewe van ‘n idol nie meer so jolig.

Hy was glo net die vorige aand, dis nou Vrydag, die DJ by een of ander bash in Stilfontein wat goeie geld betaal het. Soos hy aangegaan het was dit omtrent ‘n party op steroids, want die meisies was sick (?) en die tunes het gepomp. Waar in jou lewe het jy van só ‘n affêre gehoor? En dit op Stilfontein? Ek en die haarkapper met die diamantneusring het aan DJ Pietman se lippe gehang…

Ek was bly dat hy ‘n geldjie kon verdien, synde sy toekoms maar bleek lyk so sonder matriek, maar die siek meisies en die twyfelagtige vriende is tog nog ‘n bron van kommer. Hy vertel toe dat hy nie sy geluk kon glo toe hy hierdie gig ge-score het nie, maar dat sy manne hom lelik gedrop het. En hier, liewe Persoon, praat ons nie van drop tussen die pale deur nie. Ons praat van pens-en-pooitjies-in-‘n-miskoek-drop.  Terwyl hy die vinyls draai en Dispasito en Baby Tjoklits oor die luidsprekers blêr, het sy vriende toe mos mooitjies die kroeg bekruip en soos Pietman dit stel: “die bar-fridge ge-rade“. In kort: hulself vergryp (of is dit nou versuip) sonder om te betaal. Maar nou ken jy ook die jongetjies. Dit was glo nie lank nie, toe die manne (blink gedrink) sommer dieselfde (nou leë) bar-fridge agter-op ‘n Datsun-bakkie laai en elders gaan paartie. (Dis ook net in ‘n beskonke toestant dat ‘n leë yskas rede genoeg is vir ‘n celebration).

Net voor ek wasbak toe is vir my spoel, hoor ek hoe die haarkapper vir Pietman vra of die yskas weer sy verskyning gemaak het – synde dit tegnies, gesteel is. Pietman sê hy was baie kwaad (so kwaad, dat ek nie sy presiese woorde hier kan herhaal nie), en dat hy al sy earnings net so moes terugbetaal om vir die yskas en die drank te betaal.

Hy is egter nie ‘n ou wat ‘n grudge hou nie, en hy en die manne gaan juis vanaand ‘n dop klink in Klerksdorp. Dis maar hoe hy is, sê Pietman, so kalm soos ‘n daggawalm…

* Skuilname is gebruik, want sonde met die bure kan liederlike gevolge inhou…

glasses_king_gold_1000