Hier te lank en daar te kort…

Liewe Persoon

Ek het tot my eie ontsteltenis ontdek dat niks inderdaad average is nie. En met average meen ek nou ‘standaard’ of soos die Sjinese meen: “…one-size-fits-all” (laasgenoemde word ook verbloem met die woorde “free size”, wat my baie aan free range laat dink, wat my weer laat dink aan die bekende sê-ding: ek lyk so lekker, want ek eet so lekker!). Dit hier gelaat.

So betrek ek ‘n nuwe nessie. Alles is nuut en modern. Ek bloos so bietjie in die groot glas stort (lees: dit voel of ek in ‘n vertoonvenster moet skrop en skuur, en dit net met seepskuim en ‘n gesigmasker vir betaamlikheid), maar troos myself daaraan dat ek ten minste ‘n ruim vertoonvenster het en daarom vrylik kan bokspring as ek die koue kraan te groot oopdraai. So spog my nuwe badkamer ook met ‘n bad. En dit is hier waar ek die les van gemiddeldes ontbloot as net nog ‘n propagandiese leuen. Dis reg, liewe Persoon, ‘n leuen ge-formulate om die gekkegrens te toets.

So tap ek my nuwe bad vol water. Met badskuim. En ‘n ‘n goeie skeut laventelolie om die dag se stres en skuinsgeit te besweer. Dis net kerse waar jy kyk, want face it: na ‘n lang dag op kantoor wil jy nie onder ‘n skel buislig ‘n kopseer vertroetel nie. In kort, ek was so gretig om in dié versinnebeelding van my eie Turkse bad te klim, soos Chad le Clos in die swembad na ‘n besering.

En skielik is dit net water en (drywende) kerse waar jy kyk! Ek word weggeruk van die saligheid van ‘n Turkse bad tot in wrede werklikheid van Vanderbijlpark… en daarmee saam die skokbesef dat ek in die bad sit en dat die badwater en badskuim nou in die gang klots. Die bad is te klein vir my. Hopeloos te klein.  En nee, dit is nie net vanweë my gesonde beenstruktuur nie.

Die bad is toe wraggies nie standaard nie! Ek wikkel die prop met my toon los, en net daar word ek in dié badjie vasgesuig met ‘n force second to none. Gelukkig het die laventelolie die badjie (en my beenstruktuur) geolie en ek kon met moeite myself loswikkel. Nou hier moet ek bieg: ek was op ‘n stadium bang ek staan op uit die bad en lig die huis se vondasie saam met my op…

Daar staan ek toe en bibber langs die nie-standaard bad. Enkeldiepte in die water. Dankbaar om met my lewe – en my velle, daarvan af te kom.

Ek het eerlikwaar nie geweet dat boukontrakteurs deesdae sulke kabouterbaddens verkies nie. Geen wonder Helen Zille bad net tweekeer per week nie… sy sit dalk straks met dieselfde probleem! Maar nou weet ek. Niks is (meer) average nie. Ons leef in ‘n wêreld (met badkamers) wat óf uitspattig groot is, óf ellendiglik klein is. Skatryk óf brandarm. Barbiepop-mooi óf ‘n mooi persoonlikheid. ‘n Hemelbesem óf ‘n potjierol. Hier te lank óf daar te kort.

Average? Nooit gesien!

563afbe2600f9

Advertisements

Vox Populi…

Liewe Persoon

Soms voel dit of die hele wêreld gelyk aan die praat is. Die kantoortelefoon skreeu met ‘n skril stem. My selfoon vibreer en blaf die een notification na die ander uit – so ampers parmantig asof mnr Samsung begin ongeduldig raak oor die min aandag. Voete, gevolg deur pratende lywe stroom deur die kantoordeur en op Twitter is @PetroPraat besig om haar toys te gooi oor straatligte wat in die dag brand.

Slaan jy die koerant oop het almal van die parlement tot die poskantoor iets op die hart. O, en moenie vir ‘n oomblik van SAL vergeet nie. Dan is daar big data wat skielik bloedrooi in die openbaar bloos en Jan Publiek wat vir sy wickets moet keer nou dat sy ID-nommer, bloedgroep, skoengrootte en politieke affiliation aan al wat ‘n kuberkraker bekend is.

Ons hou vergaderings oor vergarderings en as dinge nie tot ‘n punt kom nie, dan reël ons ‘n vergadering waar daar werkkomitees en fokusgroepe in die lewe geroep word. Want: praat moet daar gepraat word. En as  praat in die raadsaal nie wil werk nie? Dan praat ons in die strate, met plakkate en brandende buitebande. Ons praat op die maat van Umshini wami en Die Stem… en tydens Oppikoppi, Aardklop en Rocking the Daisies praat ons met alternatiewe musiek, liberale kuns en Heinekin. Baie Heinekin.

Op Vleisboek (ja, Facebook) word daar nou nie net meer met eksotiese vakansies, blinknuwe motors en voorbeeldige skoolkinders gespog nie, maar ook met Live Streaming . Laasgenoemde is soos ‘n outydse dagboek- of joernaalinskrywing met twee groot verskille: jy praat jou ding (enigiets van jou mening oor Blou Bul rugbyondersteuners, die ewige stryd om ‘n good fitting baaikostuum te vind en hoekom Joost vir Amor uit sy testament gelaat het) en jy gee nie om wie jou hoor nie (dagboeke is mos diep onder die matras weggesteek).  En dit bly nie net by praat nie. Nee. Om tussen die pratende massas uit te staan met jy ‘n gimmick hê: jy moet óf vloek soos ‘n matroos met skeurbuik of geklee in net jou onderbroek op die maat van Robbie Wessels se Mphe Di Hoenor in die hoofstraat dans.

Al dié gepratery laat ons ore suis… selfs bloei. Ons dink onsself suf aan antwoorde op die retoriek van elke dag. Ek wonder: het praat (en baie praat), nie maar net ‘n gewoonte geword nie? ‘n Manier om te oorleef. ‘n Selfverdedigingsmeganisme. ‘n Manier om elke oomblik van die dag te vul.

Is ons dan so bang vir stilte? Vir die moontlikheid dat ons vervang of vergeet sal word. Dat ons met ons eie gebreke sal moet deal en durf ek sê: vrede daarmee (probeer) maak.

Vox Populi.

Die stem van die mensdom is loud, opinionated en swetsend. 24/7/365…

being-too-social

 

 

As die kroon gly…

Liewe Persoon,

Ek lees gister in die Volksblad dat Kroonpark, Kroonstad se eie Sun City, deesdae ‘n kopseer is vir die plaaslike munisipaliteit én die toerismeraad. Dié eens gesogte oord sal glo miljoene kos om reg te maak, want dit wat die vandale nie kon wegdra nie, het hulle afgebreek. Kroonpark se kroon het geglip, en te oordeel aan die foto’s wat saam met die artikel gepubliseer is, is die kroon skoonveld!

Dit is baie hartseer.

In 1992 was Kroonpark dié plek om te wees – veral vir ons Blikore wat mos nie eintlik water gewoond was nie. Jy kon as ‘n dagbesoeker die warmswembad geniet (en wees nou eerlik: kleintyd was ‘n heated pool all the rage), as gesin kon ons ‘n chalet huur (omdat glamping toe reeds gewild was én omdat Ouma nie ‘n kampmatras sou oorleef nie) of, jy kon soos die destydse mynkaptein –  die een met die vyf orrelpypies, jou Sprite two berth-karavaan haak.

Almal was welkom by Kroonpark. Die braaivleisvure het hoog gebrand. Die katrolle het gesing soos die manne met die babers baklei. Mammies van oral-oor het bakke vol aartappelslaai gemaak en in die son gesit en fotoverhale gelees. Die kinders was in die verhitte swembad.  Die chloor het ons sinusse oopgeskroei en ons het ge-goof tot ons vingerpunte soos gestoofde pruime gekreukel het. Dit was die lewe. Dit was goed.

Die standerd 5-groep van Virginia Volkskool is in 1992 vir ‘n dag Kroonpark toe. Vir ons afskeid. Eers daar, sou ons ‘n Chinese-braai hou en, you’ve guessed it: in die verhitte swembad swem. Ek en die Juffrou het dieselfde costumes gehad: sulke kuise swart-en-wit eenstukke met ‘n laerug en ‘n strukkie op die sitvlak. Ma het vir ons anti-son ingepak met ‘n beskermingsfaktor van 50+ (ons tan nie, ons brand bloedrooi en lyk dan soos gerookte speenvarkies) en ons het nuwe jelly-sandale vir die geleentheid gekoop. Onthou jy daardie deurskynende jelly-sandale met die dik sole? Dit was vreeslik gewild, maar het jou bewegings drasties ingeperk omdat dit jou soos ‘n sandhaai gekarnuffel het.  Anyway. 

Kroonpark se kroon was blink gepoets. Die gras was lowergroen. Die ablusiegeriewe was spotless – die deure het nog almal handvatsels gehad, die toiletpapierhouer was nie met ‘n ketting aan die muur vas nie, daar was seep in die dispencer en jou wraggies Hollandse kant met huisies en blommetjies voor die venster.

As ek vandag terugdink aan toentertyd dan is dit met heimwee en ‘n traan. Kroonpark – of dit wat daarvan oor is, is eintlik net nóg ‘n simptoom van die tye waarin ons leef. Niks het meer waarde nie. Miskien maak ouderdom ‘n mens sinies… As jy die onskuld en sorgvryheid van jou kinderlewe opweeg teen die rat race  van vandag, dan wil-wil ‘n rebelsheid in jou binneste nesskop.

Vandag laat ‘n warmwaterswembad my net aan een ding dink: voetskimmel. Ek gaan nie sommer by ‘n ablusieblok in nie en, jy sien my nie dood in ‘n costume nie.

Het my kroon nie dalk ook geglip nie?

Wat van joune, liewe Persoon?

20171017_085117

 

 

Hokaai, stop dié lorrie!

Liewe Persoon

Mens en dier spoel weg in Durban. In Johannesburg ruk die wind dakke af en tol ‘n Chevy Spark al langs die highway saam met die stormwind. Terug in die Kaap stort Helen Zille net elke derde dag om water te spaar. En in Barkley-Oos bank die kinders skool om sneeumanne te bou.

Wat is aan die gang?

En asof dié weer nie genoeg rede tot kommer is nie, lees ek gister dat Patricia Lewis al wraggies 50 jaar oud is! Hoe is dit moontlik? Net gister het haar ster nog helder geskyn toe sy aan Knight Rider (David Hasselhoff) se arm gehang het en baie gewaagd as ‘n eietydse meermin in ‘n public spuitfontein iewers in Johannesburg vir ‘n tydskrif gepose het.

Dit voel of ek dit van die bergtoppe wil skree: STOP! HOKAAI! DRAAI BRIEK AAN!

Tyd snel deesdae vinniger as voyager miles vir staatsamptenare. Jy dink nog jy gaan op vakansie, dan kyk jy reeds met verlange (en rooi verbrande skouers) terug na die foto’s op Facebook.  Ek het nog nie eens mooi my nuwejaarsvoornemens neergepen nie, en Checkers het al wrintiewaar Kersfeesversierings op die rak. Dit is net ‘n kwessie van sekondes voor hulle met Boney M gaan begin!

Pa is al ses maande weg.

Ek en die Juffrou mik pylreguit na 40. Ek sal Pilletjie die trauma spaar en haar nie op hierdie stadium herinner aan haar volgende mylpaal-verjaardag nie. Face it: om almal gelyk te ontstig gaan nie help nie. Dit is nou eers Woensdag, die naweek lê nog ver.

Ek wil my verbeel dat dinge nie altyd so gejaagd was nie. Of hoe? Waar is die dae toe ons by die Poskantoor in ‘n ry gestaan het om seëls te koop? Toe ‘n Desembervakansie ‘n leeftyd lank was? Toe jou sjampoo en conditioner tergelyke tyd opgeraak het?  Toe ‘n vyfdag-kriekettoets actually soos vyf dae gevoel het en nie soos ‘n daily highlight package in verteerbare brokkies opgebreek word nie.

Wat ek eintlik wonder is of ons steeds in dié dolle gejaag die lewe na behore waardeer. Proe ‘n koppie boeretroos en anysbeskuit in ‘n fênsie koffiewinkel regtig so lekker (en eg) soos om Ouma se kombuistafel langs die koolstoof? Ruik ons nog aan Lady Di-rose en laat dié fluweelgeur toe om ons na kleintyd se speel voor Ma se spieëltafel terug te voer? Was kinders nog op ‘n Saterdagmiddag die kar vir Sondag se kerk? Drink mense nog Kersfees aan gemmerbier wat hulle self gemaak het?

Ek sê weer, op ‘n drafstappie: hokaai, stop dié lorrie!

stop-loss-strategy

 

 

Vrou vertel (ekslusief) van martel-maand!

Liewe Persoon,

Sjoe! Het ek nou na jou verlang!

En voor jy raas omdat ek vir so lank stil was – en jou tong vir my klap, weet net dat ek ampertjies nie die laaste drie weke oorleef het nie. As ek ‘n Huisgenoot-voorblad was, sou die opskrif dit uitskree: ‘Vrou vertel (eksklusief) van martel-maand’.

Dit het begin met my komper. Dié all-in-one se skerm het skielik, op ‘n Donderdag in September, begin flikker soos die ligte by ‘n Boksburg rave. Ek het aanvanklik gedink ek het dalk iewers op ‘n advertensie geklik en dat dié kleurvolle sensoriese oorstimulering dalk ‘n aankondiging voorafgaan dat ek straks die Britse Lotto gewen het (die feit dat ek nie ‘n kaartjie gekoop het nie, des nie teenstaande).  Dit is eers toe die blue screen of death sy opwagting gemaak het, baie soos ‘n ontydige SARS-aanslag, dat ek regtig benoud geword het… en nie sonder rede nie.

Die oukie van IT-dienste het regtig sy bes probeer om my komper weer op die been (lessenaar) te kry, maar sonder enige sukses. Saam het ons die amper vyf-ure van diagnostics omgewag. Liters koffie is gedrink en ons beide se lewers protesteer nou nog. Spertye het gekom en gegaan. Eers het ek histeries gelag, toe ‘n bietjie gehuil en later… wel, later was daar net stilte in die kantoor.

Jy sien, liewe Persoon, ek is nie die back-up tipe nie. Ek het dit nie eers oorweeg nie. Ek weet nou dat ek naief was. En onverskillig.  Man, sommer net dom-astrant! So tussen die flikkerende skerm en die diagnostics verloor ek toe mos amper ses jaar se werk.  Ja, jy kan maar  na jou asem snak, ek het gedink dit is my einde…  Die oukie van IT-dienste het dit maar moeilik gehad: ek was soos ‘n zombie op steroids. 

Shame, hy het meer as sy bes probeer, maar is uiteindelik met my oorle’ komper hier weg na die plek waar alle gekrokte kompers gaan… Liewe Persoon, ek kry sommer trane in my oë hier waar ek voor my laptop sit. Net my skrywer-maats sal verstaan, maar ek mis die musiek van my sleutelbord. Die manier wat die knoppies onder my vingers gesing het. I will have you know, dit vat lank om ‘n sleutelbord na smaak in te breek.

Tussen deur alles, het ek nog boonop myself liederlik misgis met die linkerhoekpaal van my afdak by die huis. Ek dog nog ek draai toe is ek al besig om teen die paal op te klim. Dit was die mees vrees-aanjaendste geluid; dié van splinternuwe kar op rooi-geverfde ysterpaal. Het ek genoem dat dit die Juffrou se kar was? En asof dit nie reeds traumaties genoeg was nie, het ek weereens daarin geslaag om my naam (en in hierdie geval die Juffrou se Ford) voor ‘n skare mense te vermorsel. My buurman wou naderkom, maar ek het soos ‘n wafferse millenium-vrou bloot die deur toegemaak  (asof paalklouter die normaalste ding ooit is) en met mening op die huis se voordeur afgepeil. Ek klap die deur toe en begin sommer dadelik bid en huil en smeek… sommer so tegelyke tyd. Seblief moenie dat die skade  baie groot wees nie! Seblief moenie laat die Juffrou raas nie! Beskerm ons (maar veral vir my) van onheil en gevaar (Juffrou se reaksie)!

Met Buurman veilig agter slot en grendel gaan beloer ek die skade. Eish! Dit lyk of ‘n Kalahari-leeu die deur met sy allemintige poot raakgekrap het. Ellende. As ek die Juffrou was, sou ek briesend gewees het. Gelukkig kon ek met Braso, ‘n lap en intensiewe elbow grease die paal se verfstrepe wegvryf. Die duik op die agterdeur klou egter soos ‘n goedkoop sintetiese romp aan sykouse.

Soos ek sê: ‘n martel-maand soos min!

682c8d915a31c8b3817f634628e9940c--quotes-images-betty-boop