Krismiswense

Liewe Persoon

Ek begin verstaan waarom die Engelse na hierdie tyd van die jaar verwys as Silly Season. Het jy geweet dat jy nou – behalwe vir ‘n oulike Krismis-bippie vir jou brakkie, ook ‘n rooi snoet en takbokhorings vir jou bakkie kan koop? Trues bob! Want watter self respecting volwasse man wil nou nie by die vendusie met ‘n paar Suidpool-horings rondhang nie?

Ek verstaan die opgewondenheid oor ‘n rooi Kersvaderpak. Ek doen. Maar hoekom sal jy vir Bruno – wie se ore reeds in die bloedige Vrystaatson hang, ‘n woltrui wil aantrek en die arme dier se siel versondig met ‘n bypassende mus én speelse Santa’s little helper-bip? Ek dink – néé ek weet, die murgbeen van die skaapboud is vir hom plesier genoeg…

Sodra die lede van Boney M in die winkels begin sing, en die stringe en stringe tinsel die winkelrakke laat kreun, dan kan jy maar weet: Silly Season is met ons. En ja, ek loop self  ook veel eerder in die Krismis-rakke as in die wasgoedpoeier en Stasoft laning. Die Juffrou kan ook terstond nie verby ‘n hoed of verspotte bril loop sonder om vir ‘n foto te pose nie. Net die ander dag het oud en jonk hulle in Woolworths vir ons verstom toe sy on the spot op ‘n mini shoot aangedring het. Dit was net blinkers en vere waar jy kyk…

Miskien kan ons, ons verwondering aan dié klatergoud toeskryf aan die feit dat ons nooit Kersfees met sulke tierlantyntjies gevier het nie. Ja, ons het ‘n boom gehad, maar selfs dié het verskil van dit wat in die winkels was. In ons huis het elkeen ‘n beurt gekry om ‘n boom voor te stel – en dit was pens-en-pootjies deel van die lekker. Vir Ma was dit altyd kerse en blomme en Pa het een keer – toe ons nog in Virginia gebly het, ‘n hengse Conifer in die sitkamer staangemaak. Die Juffrou hou weer van fairy lights terwyl Pilletjie – ‘n uithaler onthaler, elke jaar ‘n tema kies en dit dan deurvoer van die tafel tot die nagereg.  Ek hou van simboliek en iets wat met die hand gemaak is. Ek onthou een jaar – net na Ma-hulle Klerksdorp toe verhuis het, het ek ‘n boom uit denneboom-bolle gemaak. Die draad ‘lyf’ van daardie boom het my vingers bebloed gelaat en ek het maklik ‘n maand daarna nog gesukkel om die gom van die bolle uit die sitkamermat te kry (niemand het ook gesê dat daardie klein swart suikermiertjies in hul hordes hul intrek in dié simboliek sou neem nie… eish!).

Van Kersfeesmusse en die gepaardgaande bells and whistles was daar ook nie sprake nie. Klappers is onheilig en verstoor die rus terwyl crinkle paper mos net vir 21sts en skoolkonserte gebruik word. Come to think of it dit is ook vir ons matriekafskeid gebruik, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.

In ons huis werk Kersvader ook met ‘n streng budget, so my skimpe vir ‘n Volvo S80 val op dowe ore. So ook word die skrywes waarin ek pleit vir ‘n Gert-Johan Coetzee-skepping, ‘n vakansie op Oesterbaai en ‘n botteltjie Van Cleef Arpels met baie minagting ontvang. Maar eintlik verkies ek dit, want wenslysies is lekker, maar samesyn en tyd saam met hartsmense is onvervangbaar. En face it: dit help nie jy lyk soos ‘n droom en ruik soos ‘n adelike en jy sit vinger-alleen in jou Volvo…

‘n Rukkie terug, lees ek die volgende: “One of the most bittersweet feelings is realizing how much you’re going to miss a moment while you’re still living it.” En skielik tref dit my: vanjaar gaan Kersfees ‘n anderse gevoelte hê. Pa is mos nie meer hier nie. Hy gaan nie die skaapboud sny nie. Hy gaan nie aandring op soetkoekies (ouma Cielie se resep) vir ontbyt, middagete en aandete nie. Hy gaan nie in die dae voor Kersfees sorg dat die tuin eksie-perfeksie is nie. Hy gaan nie aan die Kerstafel bid nie.

Sien jy nou waarom Kersfees oor meer as verspotte tierlantyntjies gaan? Dit kan nie in blink geskenkpapier toegedraai word nie. ‘n Onbekostigpare prysetiket maak dit nie (meer) memorable nie. Dit gaan oor saamwees en tyd wat – vir ‘n wyle, vir die mensdom tot stilstand bring.

My wens vanjaar?

‘n Gees van genoegdoening. ‘n Vonk van vrolikheid. ‘n Getuienis van dankbaarheid.

article-2078077-0F4371E800000578-257_634x436

 

Advertisements

Oor myntinins en lektrikils

Liewe Persoon

Pa se hande het vir niks verkeerd gestaan nie.

Behalwe miskien vir Ma se 19-voertsek Kenwood menger wat sy nog as ‘n trougeskenk gekry het (lees: 1970)

Onthou jy dié menger se spoedknoppie het gelol, met die gevolg dat hy binne sekondes van ‘n koppie melk ‘n klont botter kon maak. Pa het die Kenwood uitmekaar gemaak en dit waarlik reggekry om die spreekwoordelike brieke aan te draai. Daar was net een probleem: daardie metaalmengbak het van daardie dag af jou stopsels los geskok! Dit was nie lank daarna nie toe het dié model op een van die rakke in die garage beland, kompleet met sy spatskerm, K-menger, klitser, deeghaak en spaanskraper. In sy plek het ‘n nuwe Kenwood gestaan. ‘n Witte…van plastiek. Pa was nie ‘n man vir elektrisiteit nie. Vir hout, ja. Vir yster en staal, ja. Vir enjins, ja.

Ek moet ‘n paar dingetjies by my nessie laat regmaak, en ek kom agter dat D.I.Y nie ‘n talent is wat vir almal van ons beskore is nie (tensy jy dit as Destroy It Yourself vertaal). Pa het dit so maklik laat lyk.  Maar die kalf is in die put en so begin ek soek na ‘n nutsman. Makliker gesê as gedaan.

Nou voor ek jou van my nutsman-nagmerries vertel, verstaan my mooi: ek is nie vol strooi nie. Ek weet wat ek gedoen wil hê én ek het ‘n goeie idee van hoe dit gedoen moet word – daarvan het my Pa seker gemaak.  Ek bedoel. Jy verf die nuwe hek met ‘n ordentelike onderlaag (red oxide) en daarna ‘n laag heavy duty olieverf. Jy maak seker dat die welding netjies afgeskuur word en nie soos ‘n vrag duiwemis teen die hoekpaal hang nie. As jy nuwe putty in die vensterrame sit, vee jy die venster skoon (en jy trap ook nie die hele bedding  Angel Wings dood nie). As jy die tuinslang gebruik het, rol dit weer op. En as dit te veel gevra is, draai ten minste net die kraan ordentelik toe!

Die belangrikste les wat ek tot op hede geleer het is dat jy nooit moet aanneem dat jy en jou gehuurde nutsman op dieselfde bladsy is nie. In fact: dit kan gebeur dat julle nie eens in die selfde genre is nie! So laat ek my voorhek verstel, want om die hek oop te kry het jy omtrent die jaws of life nodig. Lang storie kort. Nadat die hek, baie netjies, vervang is en na my spesifikasies geverf is, kom ek met ‘n skok agter dat ek nie eens met ‘n kruiwa deur die hek sal kan loop nie. Maak nie saak watter kant ook al jy die hekke oopstoot nie, dit gaan nie verder as ‘n skrefie oop nie. Die skarniere sit op die verkeerde plek! Ja, tot ek wat my brood in ‘n kantoor agter ‘n komper verdien, kan sien dat die mees basiese reëls van fisika nie hierdie equation kan en sal toelaat nie. Miskien sou ek nie so kwaad gewees het as die nutsman net sy fout erken het nie, maar nee! Dood – of ‘n stram voorhek, het altyd ‘n oorsaak. Hmph!

Gisteraand terwyl ek my vertrapte Angel Wings probeer vertroetel en om lewe smeek, merk ek iets op in die posbus. Ek kon nie anders as om te lag nie. Die liewe Vader het voorwaar ‘n sin vir humor. Daar staan ek met ‘n flyer in die hand, en dit lees:

Handy Man

Ek spesaliseer in:
– Swembadens
-Filters
-Pompe
– Myntinins
-Plaming
-Lektrikils
-Huis dake
EN MEER!

Nikse werk tegroot of teklein. Ale werk het ‘n 10jaar waarborg

Beskikbaar 24/7 dag of nag

Niemand bied my pryse nie

Nou ja. Ek reken dit is ‘n saak van skoenmaker hou jou by jou lees. Ek skryf vir ‘n lewe, daarom sal ek verby die foutjies op die flyer kyk. Want wat weet ek nou in elk geval van plaming, myntinins en letrikils?

shutterstock_387309934