Kompleks

Liewe Persoon,

Het ek jou al vertel van my huisie in die lug? Die een in die kompleks? Ek noem dit my weeksnes, want naweke en vakansies spandeer ek mos by my hartshuis (lees: ma-se-plek).

Anyway. So ‘n kompleks-blyery vat nogals aan ‘n mens. Ek bedoel: dit is nie net ‘n kwessie van intrek en bly nie. Nee. Dit is ‘n komplekse issue… en dit is seker waarom hulle dit ‘n ‘kompleks’ noem. Vat nou maar die volgende uhm, maniertjies van my mede kompleks-bewoners:

  • Ek vermoed dat die  tannie en oom wat in die grondvloer-eenheid bly albei ‘n sagte dieët volg. Jy ruik dag en nag die reuk van gekookte kool, boontjiesop en – ek vermoed, gestoomde vis. Dis nie heeltemal onaardig nie, maar ek sou so nou en dan die reuk van ‘n gebraaide tjoppie of ‘n varsgebakte brood waardeer. (Sê ek terwyl ek my 2 Minute Noodles in die mikrogolf prop).
  • My buurman op die eerstevloer is beslis ‘n kontrakteur iewers in Afrika  óf ‘n undercover lid van die Krugersdorp-Wes mafia,  te oordeel aan die modder wat soos ‘n tweede laag verf aan sy 4×4 klou en die wrap around sonbril wat dag en nag op sy bakkies rus. En nee. Hy is nie ‘n boer nie. Altans, ek het hom nog nooit in ‘n khaki- of demin kortbroek en ‘n two-tone Senwes hemp gesien nie. En sy 4×4 (konstruksiewerker?) is van Franse afkoms (mafia?)… En anyway, net Nicholis Louw dra uit vrye keuse bug crushers – aka steel capped bootse. Dié buurman verdwyn klokslag vir twee weke elke maand. As hy dan wel terug is, dan braai hy ‘n vleisie op sy balkon. Net so, all by his lonesome.
  • Bo my het ‘n nuwe jong paartjie ingetrek. Ek vermoed hulle samesyn is óf te danke aan ‘n vrolike (en vryerige) verlowing óf die egpaar is elk vars van die rak na ‘n ernstige verhouding en is daarom besig om hul tweede kans met oorgawe te lééf. Ek sê vir jou, hulle klou aan mekaar soos twee nat magnete! Hoe weet ek? Wel, elke liewe aand geniet hulle die stilte voor my kombuisvenster oppad na hulle (liefdes)nes. Ek dink ernstig daaroor om die Hollandse kant voor my kombuisvenster met ‘n stuk plywood te vervang.
  • Langs die vryers – maar steeds bo my, is daar dan twee vroue. Susters. Hulle skuif hulle plekkie elke aand. Ek vermoed hulle speel Twister óf leef minimalisties en probeer om  feng shui in hul sitkamer te bemeester. Dit kan miskien nog geduld word, maar een van die susters dra pal hakskoene. Dit is voetstappe van vroeg tot laat. Word haar voete nie moeg nie? Sy sukkel beslis nie met bunions of eelte nie. Miskien is hulle loopplankmodelle en skuif hulle elke aand die meubels weg sodat hulle kan oefen om te loop? Miskien het een ‘n nuwe fitbit vir Krismis gekry en voel sy verplig om elke dag 40 000 treë te loop.
  • In die ry eenhede voor my kamervenster bly daar ‘n knapie van so twee- of drie jaar oud. Sy ma werk hard en as sy smiddae by die huis kom, dan sit sy met ‘n rooietjie in die hand op die grasperk. Dit is dan wanneer boetman sy plastiese scooter met mening oor die plaveisel laat sing. Sing? Nee! Dit klink omtrent soos donderweer wat uit die verte aangerol kom… Pla dit haar nie? En die passie waarmee daai laaitie die scooter skop voorspel vir hom ‘n toekoms as óf ‘n langafstand atleet óf as get away driver vir ‘n bende bankrowers.
  • Raak dit tyd vir 7de Laan, dan weergalm dié kenwysie so deur die kompleks jy sal verskoon word as jy dink jy is straks deel van die live audience. Dieselfde geld vir Noot vir Noot. Dit voel kompleet asof Johan Stemmet neffens jou op die bank sit terwyl hy kontantnote vir musieknote ruil.

Vir my as enkeling is dié woelinge soms net een te veel en smag ek na ‘n salige stilte. Aan die anderkant is dit amper soos ‘n soort berusting; die wete dat ek nie in my alleenheid oorgelewer is nie (ek is mos van nature verskriklik bang).

My weekshuis verskaf my plesier én frustrasie. Ek voel tuis én volksvreemd in dieselfde asem. Ek lag oor my bure se mannewales én voel lus om as singleton hartstogtelik aan die tjank te gaan elke keer wanneer die Vrolike Verliefdes so hartstogtelik van mekaar afskeid neem (onder die stoeplig reg voor my kombuisvenster). Ek raak aan die kwyl as my buurman braai én raak bleek om die kiewe as die oom en tannie aan die stoom raak (dis nou die vis, en nie in vlees nie).

Dit is ‘n komplekse affêre, sê ek jou.

Kompleks!

flats-clipart-19

Advertisements

Verstik my die wals…

Liewe Persoon,

Ek is bra versigtig vir drama (in enige vorm). En ja, ek weet: dit is ‘n vreemde bekentenis van ‘n oud-joernalis, gegewe die feit dat drama (en trauma) vir ‘n groot deel van my lewe ast’ware my brood en botter was.

In die Namakwaland praat mense altoos van “fyntjies lopers“. Dit is nou mense soos ek, wat nie met voorbedagterade na drama en moleste gaan soek nie. Iemand wat die ambulans se nommer uit haar kop ken (en nie haar eie nie) en, wat altyd seker maak dat indien sy in ‘n groep beweeg sy weet wie in die groep noodhulp-opleiding het. Ek sal daarom nie die persoon wees wat aanbied om die drupsakkie vas te hou of ‘n bloeiende wond te verbind as ‘n mediese-moles sy (dramatiese) verskyning sou maak nie.

Maar, liewe Persoon, nou ken jy ook my geluk in die lewe: ek en drama trek mekaar aan soos weerlig en water. Soos daardie keer toe ‘n vriendin (nou net ‘n kennis) tydens ‘n geselligheid flou geword het en ek aangesê is om ys te bring om teen haar voorkop te hou. Ek het so ge-panic. Ek het vrieskas toe gehardloop en die eerste die beste koue ding  waarop ek my hande kon lê gegryp en dit in ‘n vadoek toegedraai. Ek het teruggehardloop en in die proses die “ys” ‘n bietjies te ywerig op die arme vrou se voorkop neergeplak… en natuurlik toe eers besef dat ek ‘n blok gevriesde maalvleis gegryp het! Shame! Sy was skaars uit haar floute geruk, toe haar oog begin opswel. Dit is nooit gesê nie, maar ek weet; daai shiner het ons vriendskap gekos.

Nou so sit ek die vakansie en televisie kyk saam met my hartsmense. Rustig. Ons eet springmielies en vergaap ons aan ‘n krismisfliek wat handel oor die wel en weë van ‘n dowe hond. Skielik steek ‘n tante van my haar arms in die lug. Die Gautenger in my se eerste gedagte was dat ons die slagoffers van ‘n roof gaan wees en dat sy haar hande in die lug hou as ‘n teken dat sy haar nie teen die booswigte sal verset nie. Toe nie (waaroor ons baie verlig was).

Toe dag ek sy probeer geesvang, jy weet, met die Mexican wave... maar die fliek was hopeloos te hartseer vir so iets. Dit is toe dat my Ma opspring. Die trane loop toe al oor die tante se gesig en ek besef sy is besig om te verstik. My Ma gee ‘n rughou wat John Cena soos ‘n liggewig laat lyk. Die tante hoes, haar oë so groot soos gholfballe. Ek sien dinge gaan vinnig nêrens en besluit om die Heimlich toe te pas.

Nou, neem kennis: Ek weet van die Heimlich en het my nooit as ‘n expert voorgedoen nie…

Ek spring op en gryp die tante om die middel. Ek druk en hop en spring dat die sweet spat terwyl die tante hoes soos ‘n Lister-enjin nie kan droom om te doen nie. Dit is toe dat ek my Ma in die oog kry, en amper het ek ‘n floute van my eie: sy is bloedrooi in die gesig en suig aan haar asmapompie asof haar lewe daarvan afhang. Nou vra ek jou met trane in my oë, wie help jy en wie los jy?

En toe besef ek; my ma is besig om haar skoon uitasem te lag! Seriously?! En so tussen die lagbuie vra sy: “Wil jy met haar dans?” En toe besef ek… ek staan voor my tante en nie agter haar soos die Heimlich maneuver veronderstel is om uitgevoer te word nie. Ek spring om en so gou soos nou toe vlieg daar ‘n springmieliepit deur die lug.

Einde van die storie? My maneuvering het gemaak  dat my tante vir twee dae aaneen mank geloop het en te bang was om diep asem te haal in geval sy ‘n gekraakte ribbetjie (of ses) het.

Ek is net bly ‘n fyntjiesloper soos ek kon help.

verstik my die walk

 

 

 

 

Nuwejaarsvoorneme

Liewe Persoon,

Die oujaar se lus is geblus en 2017 hang verlep rond saam met die faux fur trend van 2016. Ek gaan eerlik wees: ek is verlig. Verlede jaar was rowwer as Brixton op die vooraand van Guy Fawkes. Of nog erger: ‘n karsiek peuter wat hals oor kop in ‘n pak kaaskrulle ingeduik het.

Die nuwe jaar gaan beter wees. Dit moet net!

Ter voorbereiding van alles nuut, vars en onbekend (maar fantasties en geheel lekker) het ek vanjaar my lys met nuwejaarsvoornemens met entoesiasme saamgestel. Jy sien, daar is ‘n trick – soos met so baie ander dinge in die lewe (dink maar net aan die perfekte mikrogolf popcorn: die pakkie sê een minuut en 40 sekondes, maar dit is eintlik twee minute en 30 sekondes), en hoe gouer mens die voornemens game verstaan hoe beter.

Dit is baie belangrik om nie al reeds met jou eerste voorneme jouself in die voet te skiet nie. NEE. Jy kan onmoontlik nie ses dae van die week in die gym spandeer nie, tensy jy daar werk. Wees realisties. Jy sal jouself innig dankbaar wees hier teen die tweede week van Januarie wanneer jy reeds meer tyd in die gym as by die kerk spandeer het en die stokmannetjie-skuifel jou nie eens toelaat om te nies of ‘n kuggie te gee nie – altans nie in die openbaar nie. Laasgenoemde is te danke aan stywe kuitspiere en ‘n chroniese brandpyn as jy probeer asemhaal.

So. Ek gaan meer oefen as in 2017. As jy in ag neem dat ek in 2017 meestal net gesit het – voor die rekenaar, voor die televisie, in vergaderings en in die motor, is ENIGE fisiese aktiwiteit al ‘n verbetering! So is elke tree wat ek gee ‘n prestasie, of hoe?

Dan. Geen voornemenslys is sy sout werd sonder om melding te maak van óf gewigsverlies óf ‘n nuwe (kits) dieët nie. En weereens – moenie jouself reeds in Januarie die josie in maak vir die arme kassier by die groentewinkel nie. Hy/sy werk net daar en moet uit die aard van hul beroep jou komkommers, blaarslaai, blomkool en wortels hanteer. Ek ken mense wat baie drasties (en dramaties) kan wees as dit kom by sake van die heupmaat: daar is die  US Army Diet met baked beans en swart koffie, die – met permissie gesê, die Afblaas-dieët in die vorm van ‘n seldery,- kool- en botterboonsop, en dan die “Ek-eet-niks-met-oë-nie-dieët (wat eintlik meer van ‘n geit is as ‘n properse dieët).  Onthou net, aartappels het ook ogies.

So. Ek gaan minder eet. Ja, van my etes sal ‘n boerbok laat kwyl, maar ek gaan myself nie uithonger nie. Ek sal byvoorbeeld kaalgat grondboontjies eet opposed to Woollies se grondboontjie-Chuckles, maar ek trek die streep by bros gebraaide krulkool (kale).

Het jy die trick agtergekom? Wees minder spesifiek, maar committed. Dink mooi daaroor: oujaarsaand het ‘n manier om ons almal ‘n bietjie (lees: baie) broos en bevange te maak. As die vrugtekoek klaar is, die vonkelwynproppe deur die pool gobbler opgeslurp is en die bure (eindelik) die laaste bomb cracker afgeskiet het, dan tref dit jou: nog ‘n jaar is verby. Ek word nie jonger nie. Ek is steeds nie getroud nie. Ek moet óf vrede maak met my dubbelken óf plastiese snykunde oorweeg. Ek is vergangklik. Vandag hier…môre no more.

Nou ja.

Ek sit hier en teug aan my glasbottel vol water (sies vir plastiek!) en loer na my Provitas – sonder kaassmeer, maar ek is happy – voornemens en al.

Mag 2018 vir jou ook happiness inhou!  

New-Years-Resolutions