Selfbejammering

Liewe Persoon,

Selfbejammering is ‘n lelike ding.

Dit is iets soos ‘n harige moesie op ‘n skerp kennebak. Soos ‘n paar fluweelskoene met nerf-af punte. Miskien selfs ook soos ‘n pedigree poedel sonder ‘n staande afspraak by die hondesalon. In kort: dit is soos om wit sokkies by ‘n swart langbroek te dra.

Maar net so aardig as wat dié gevoeltenis is, so sterk is sy aantrekkingskrag. En ja, as dit kom by selfbejammering is ek ast’ware ‘n lam ter slagting. Ek embrace te maklik, jy sien. My goeie vriendin Aldine sê altyd ek trek myself dinge te persoonlik aan en dan, as ‘n tipiese analitiese linkerbrein denker, raai sy my aan om my interne lokus van beheer te vergroot. Drasties te vergroot. Upsize, please!

Ek en Selfbejarmmering het ‘n lief-haat verhouding. Saam is ons soos ‘n take away pastei en sooibrand. Soos babaolie en seesand. Soos ‘n vervalde lisensiekaart en ‘n padblokkade. It never ends good. 

So verkneukel ek my (al)weer vandag in selfbejammering. Ek voel ellendig (dramatiese sug). My aura is sekerlik gifgroen of galsterige geel (nog ‘n dramatiese sug).  Die lewe druk. Die ekonomie is in die knyp. Suid-Afrika het alweer ‘n nuwe Minister van Finansies. Allan Donald is lank reeds nie meer ‘n Protea nie.  En ja, ek gaan nooit my babavet afskud nie.

Dit het alles met my wekker begin.

Toe my wekker 05:30 aan die blêr gaan, toe druk ek die dismiss-knoppie behendig en pleks daarvan om op te staan, toe dink ek dit goed om nog ‘n bietjie terug te lê. Groot fout. Toe ek 06:30 wakker skrik, toe is dit chaos. Skielik het ek géén enkele kledingstuk wat nie stryk nodig het nie. My yl sliertjies wil nie krul nie, en in ‘n desperate poging probeer ek toe om die spulletjie ‘n goeie tease te gee. My gebrek aan tease ervaring en my oorgretigheid met die haarsproei is nou die rede vir my helmet hair. Trues bob, dit lyk of ek met ‘n motorfiets werktoe gery het en vergeet het om die helm af te haal. Terug by die werk is ek en my haardos toe van die een vergadering na die ander en, telkens is daar iemand wat altoos wil weet of ek iets ‘anders’ met my hare gedoen het!

Elke keer as iemand met ‘n gestrykte hemp of golwende lokke verby my loop dan gryp ek vir Selfbejammering en ons strompel so saam-saam kantoor toe. Ek besluit om iets by die kafeteria te koop om te eet, want eet laat my soms beter voel (Sies! Moenie oordeel nie). Ek besluit op olierige slaptjipsTerwyl ek in die ry staan, laat val ek die bakkie en die helfte van die tjips voeter vloer toe, en jy sien net olie spat. By die sousstasie is al die tamatiesous op en ek het ‘n keuse tussen sweet chilli en sweet chilli. Ek kies toe vir sweet chilli en gee die bottel ‘n druk, net om die sous op my (ongestrykte) hemp te spuit. Nou lyk dit of ek, behalwe vir my ernstige selfbejammering, boonop in die omgewing van my naeltjie gewond is. Swaar gewond is.

Kry jy my al jammer, liewe Persoon?

Ek gee eintlik nie om nie. Want op dae soos hierdie gee niemand mos om nie (of so verbeel ek myself)! Ek en Selfbejammering is vandag BFFs  en niemand sal my anders oortuig nie.

Het ek genoem dat ek vandag reeds twee keer my eie selfoonnommer gebel het… en ‘n telkens ‘n boodskap gelos het!

selfbejammering.jpg

 

 

Advertisements

Ook maar mens…

Liewe Persoon,

En daar stop toe ‘n regte-egte celebrity langs my by die petrolpomp vanoggend!

Ek het probeer om nie te staar nie, maar ek kon nie anders nie – deels omdat hy ‘n regte-egte celebrity is én omdat hy ampers my kantspieëltjie met sy monstertrok (Ford op steroids) afgery het. .. dis juis toe dat hy vir my kyk (terwyl ek probeer om te loer sonder om gesien te word..).

Getrou aan sy silwerskermpersona flits hy vir my ‘n skitterwit glimlag – en vreemd genoeg, ek wonder dadelik of hy dan nou sy koffie altoos deur ‘n strooitjie drink. Miskien is hy op ‘n liquid diet, fluister my onderbewussyn. Intussen probeer ek so normaal as moontlik asemhaal en my beste poging tot ‘n pruilmond-glimlag laat my lyk asof ek aan ‘n witasyn fopspeen suig. Aaaagh!

Terwyl die petroljoggie om Vlam doenig is, hop Meneer Celebrity uit sy monstertrok en sny ‘n lyn kiosk toe. Dadelik sien ek dat hy nog nie ‘n kam deur sy kapsel getrek het nie. Sy t-hemp is ook nie gestryk nie. Sy broek het nie stryk nodig nie (nooit nie), want dit span soos ‘n tweede vel oor sy extremities.

Shame. Ek wil my kop in ongeloof skud, maar die groupie in my reken dié man het seker skaars tyd om met sy ma oor die foon te praat let alone om vir ure te groom – veral net voor sewe smôrens. Ek merk egter op dat hy wel sy Bulgari-horlosie onthou het. En skielik wonder ek of daai broek nie sleg is vir sy bloedsomloop nie…

En toe sien ek dit.

En dit, is onvergeeflik.

Waar sy Levi jeans se (baie nou) pype ophou, begin die wolle van sy slippers! Ja. PANTOFFELS! Sulke ek-was-eens-wit-maar-nou-is-ek-voos-gedra-so-ek-gee-nie-meer-om-nie wol gedoentes. Van agter af lyk dit of hy probeer om op die kante van sy voete te loop. Amper soos ‘n ballerina. Net baie anders. Die wol lyk ook al soos ‘n vergete poedel na twee somers sonder ‘n sny (of ‘n bad). Van bolletjies wol is daar nie sprake nie. Nee. Dit is kloste wol.

En net daar gril ek. So ‘n aanhoudende gril wat al langs jou ruggraat afloop…

Nou ek is nie regtig iemand met baie fiemies nie (trues bob), maar wraggies! Pantoffels – en sulke onooglike paar op die koop toe! Ag-nee!  My groupie-stemmetjie was nog besig om te redeneer dat hy dalk ‘n ingroei toonnael laat verwyder het, ‘n fondamentvrat laat afvries het (synde hy so snaaks loop), óf dat hy sy voete troetel omdat dié so hard werk om hom voor die kameras te kry. Ghmph! 

Ek is baie dankbaar toe die petroljoggie uiteindelik my R200 neem… net om ten aanskoue van die celebrity, die noot teen die lug te hou om seker te maak dit is nie vervals nie. Nou hoekom sou hy dit doen? Lyk ek verdag, wonder ek dadelik. Dis jou kantpaadjie, fluister my onderbewussyn en ek sien al hoe Ma kwaai na my kyk.  Ek draai Vlam se sleutel en besluit om eerder te ry, voor die petroljoggie dalk Vlam se VIN-nommer wil sien.

So ja. Nes die celebrity is ek ook maar net mens . En nes die gepantoffelde celebrity word ek ook soms met die spreekwoordelike houtoog aangekyk. Verbeel jou, ‘n vervalste R200 noot!

pantoffels

 

 

 

Hygend hert!

Liewe Persoon,

Trek die handrem op, of sit ten minste net ‘n klip agter die wiel! Die wêreld wikkel op sy as en almal se varkies wei (saam die koeitjies en kalfies van ons tyd), in  toegegroeide munisipale-parkies.

Ek voel kompleet soos Rip van Winkel wat een middag gaan skuinslê het en, toe twintig jaar later wakker skrik met die wete dat die wêreld halsoorkop verander het. Soos Van Winkel, kry ek terstond ook nie die spreekwoordelike kloutjie by die oor nie.

Fabio is vanjaar 60 jaar oud! (Sê asseblief vir my jy weet wie Fabio is, want ek sal nie die trauma van nog ‘n ontnugtering kan hanteer nie – altans nie sonder medikasie nie). My jonger kollegas pleit bewusteloos oor Neil Diamond en sy Porcupine Pie en prins Harry staan op trou met ‘n diva uit Hollywood. In Sjina het wetenskaplikes twee apies gekloon (wel tegnies is een apie gekloon en sy kloon deel nou ‘n hok met hom[self?]). Platform-tekkies is weer hoogmode en ek hou my asem op vir wanneer kaasdoekhemde (met oprygtoutjies by die nek) weer ‘n draai in die winkels gaan maak. Lets face it, behalwe vir Antonio Banderas (wat ook al aan die verkeerde kant van 50 staan) in Zorro, lyk niemand goed in oordadige kaasdoekskeppings nie. Nee. Dit werk net vir sexy Italianers. Ek en jy lyk soos liggaamsbouers van die Wesrand wat terstond in ‘n bad geklopte room geval het… Enough said.

Net die anderdag verstik ek amper aan my rooibostee toe ek sien dat mens nou wrintiewaar vir jou fake aanplak neushare kan kry. Ja, jy het reg gehoor: neushare! Dan loop jy rond soos iemand wat ‘n donsveer raak gesnuif het. Dit is kamstig mode in Europa, maar ek het my bedenkinge…dit is mos gans te stowwerig in ons kontrei om met so ‘n klossie rond te loop, of hoe?

En, liewe Persoon, het jy agtergekom hoe vinnig tyd deesdae verby ons snel? Daar is nie ‘n manier hoe ek of jy, en selfs ‘n spoedvraat soos Usain Bolt, kan byhou nie. Dit is nog vroeg in die jaar, maar Januarie is reeds iets van die verlede! Ek hardloop al klaar nie meer saam nie, en soek eerder ‘n koelteplekkie onder ‘n boom vanwaar ek dié gejaag kan dophou. Om die waarheid te sê, ek sukkel nog om Krismis se ekstra kilos af te skud (skrik), en die winkelrakke kreun reeds onder nuwe (en baie stywe) wintersdrag. Om my huidige situasie aan jou te verduidelik, imagine ‘n Nataniël turducken:  laag op klewende (vetterige) laag…

Onthou jy toe ons kinders was? Ons was nie onwillig om vir elke dag se lekkerkry te wag nie. En hoekom sou ons? Vir kinders hou elke dag mos net pret en plesier in. Ek weet nie van jou nie, maar ek het nie kleintyd slaap verloor oor Jan Taks nie én ek kon nie minder omgee oor die stand van die plaaslike eenheid nie. Nee. Ons was sorgeloos. Ons was gelukkig.

Ons was tevrede.

En vandag? Vandag laat beleggings ons rondrol in die nag. Die koste van kruideniersware veroorsaak dat ons kopverloor en eerder meer drank as kos koop. Die kinders se skoolfonds gee ons hartpulpitasies. Ouma kort nuwe kunstande. Sussa se matriekafskeidrok dwing ons om ‘n tweede verband op die huis te neem. Petrol is straks duurder as vleis. O, genade… my bors trek skoon toe!

Die wit patent leathers wat ek na my geloofsbelydenis gedra het, is wraggies vandag weer mode (dit nadat my Ma gemeen het dat dié skoene haar altoos aan ‘n melkery laat dink, so met die wit en die blinkgeit saam). Die Juffrou se klassie van tien kinders het oor die jare gegroei tot ‘n massa van 45 jillende kleingoed. Daar is vandag grassnyers met ‘n sterker enjin as my eerste karretjie (Bekkie, ‘n wit 1000cc Chevy).

Net gister was  Pappa nog met ons, en vandag bêre ons die kissie met sy as in die kluis.

Waar gaan alles eindig?

Hygend hert!

nosehair