Gulsige-gunsies

Liewe Persoon,

Het jy al opgelet hoe verkoopsdames in klerewinkels altyd in verkleinwoorde praat? Jy strompel die aantrekhokkie binne met ‘n size 38 (plus) rok oor die arm en pluk die gordyn – wat soos ‘n lendekleed tussen jou en die wêreld hang, toe (of altans so toe soos wat ‘n gordyn kan) net om agtervolg te word deur ‘n stemmetjie met swart blinkleer hakkies en te veel haarsproei wat skree: “Kan ek die rokkie vir jou in ‘n ander kleurtjie ook bring?” of nog erger: “Onthou daardie is die grootste rokkie wat ons winkeltjie het!”.

Ek sien jy verstaan, liewe  Persoon. Goed so, want net soos wat daai stemmetjie jou frustreer, net so frustreer gunsies my. Mense vra mos nooit vir ‘n guns nie. Nee. Hulle vra ‘n gunsie.  En so saam met die ekstra klinkers, so kry gunsies stertjies en oortjies en meer en meer goedjies by.

So bied ek mos nou die dag aan om – as ‘n gunsie – vir iemand te help met die skryf van ‘n redenaarstoespraak. Aanvanklik was dit net hulp met die ontleding van die onderwerp – so ‘n soort van ‘n exploration van moontlikhede.  Toe dié gedoen is, toe moet ek – as ‘n gunsie, net die inleidingsparagraaf pleeg – net om die toespraak aan die gang te kry. Dit het ‘n bietjie verbeelding gekos, want ek was jare terug in Standerd 2 én die wêreld het handomkeer verander sedert 1989, maar so gesê , so gedaan.

Dit was seker so twee dae later, toe bevind ek my skielik in ‘n redenaars WhatsApp-groepie.  Laasgenoemde is natuurlik die achilles heel van die mensdom. Dit is die broeiplek vir skinder en skade. Dit vreet nie net data nie, maar knibbel ook aan jou senuwees en medemenslikheid. In kort: dit laat jou geheel en al van jou maniere én die kategismus vergeet. Anyway.  Na die soveelste getjirp van my selfoon, besef ek dat my gunsie nou in ‘n allemintige barmhartigheidsbediening verander het, want skielik het mense uit alle oorde raad nodig.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek help baie graag, maar moenie my  – soos my Ouma Cielie altyd gesê het,  vir ‘n eendvoël aansien nie. Gunsies is nie (kul)kunsies nie. ‘n Gunsie is iets wat met liefde en oorgawe gepleeg word.

Punt.

Gunsies is nie wenstreintjies wat by elke stasie van hier tot in De Aar stop nie.

Nee!

Die Ingelse meen die paadjie na die warmplek is geplavei met gunsies en goeie bedoelinge, en ek stem saam. Wat begin het as ‘n liefdestaak kan baie gou in ‘n frustration frenzy verander. ‘n Klassieke geval van gee die pinkie en word aan die hand gegryp. Meer nog: gulsige-gunsies gee galbitter returns.

gunsies

 

Advertisements

Posbus plesier

Liewe Persoon,

Ek is absoluut versot op posbusse. En pos. En veral pakkies en boksies wat  in bubble wrap toegedraai is. Dié voorliefde kom van ver. Ek en die Juffrou het destyds (1986) elke maand ‘n Japsnoet-pakkie in die gehuurde posbussie langs die biblioteek in Virgninia gekry. Daar was twee leesboeke in die pakkie.  Pilletjie het in daardie tyd ‘n “Makeup made easy”-pakkie ontvang (waarvan die wenkbrou-krultangetjie my all time favourite was). Jy sien, Ma wou my en die Juffrou aan die lees kry, en die oorgang na hoërskool vir Pilletjie ‘n bietjie vergemaklik. (Ek wonder steeds wat blou eye shadow en groepsdruk in gemeen het).

Anyway. Ek is tot vandag toe vas oortuig dat ‘n posbus baie oor sy eienaar verklap. My oorle’ ouma Cielie se posbus in Viljoenskroon het altyd ‘n perdeby of ses gehuisves. En dit was dan ook so dat Ouma nie tyd gemors het by die  posbus nie – dit was deurtjie oopmaak, pos uithaal en omdraai voordeur toe. In Jukskeilaan het Pa vir ons ‘n posbus gebou wat nes ‘n huisie gelyk het. Ek vermoed ‘n skooltaak wat ek en die Juffrou in Sub B gehad het, waar ons ‘n huis of skuiling moes bou, was sy inspirasie.  Ek moet net byvoeg – die  posbus was ‘n work of art, baie anders as die grasdak rondawels (lees: papier hutte met gras en sand beplak) waarmee ek en die Juffrou vorendag gekom het.

Dan was daar die standaard mynhuis-posbus: ‘n silwer blikposbus met ‘n gleufie vir koeverte. Die koerante is altyd opgerol en in die draad gesteek. Almal se huise was met draad omhein, mure en barb wire het eers later gekom.

Mettertyd het van die myners begin om afgesnyde staal silinders aan die blikposbus te sweiss, vir koerant-se-kind. Teen die vroeë 1990’s was posbus ontwerp ‘n hot topic in die Goudveld. Van die mynkaptein tot die skofbaas (en die vakleerling met die warm gemaakte Ford Escourt) het hulself as posbus-bouers voorgedoen; die een posbus meer uhm, ekstreem (die woord ‘eksoties’ kom ook in my gedagtes op) as die ander. So was daar in die straat voor Laerskool Volkskool ‘n posbus wat van ‘n winkelpop gemaak was. Dit was ‘n vreeslike vreemde affêre – dié mannekyn sonder hemp of haar, met ‘n koeëlronde gat in sy maag (vir die pos, natuurlik). Daar was oopgesaagde melkkanne, ou kampketels, uitgebrande toasters en ek het selfs per geleentheid ‘n traktaatjie van die Sondagskool in ‘n veselglas dolfyn se pens gegooi.

Toe tref sementposbusse die Goudveld.  As jy naby die gholfbaan gebly het, dan het jy ‘n ronde gholfbal op ‘n tee gehad. As jy in die hoofstraat – of in die konsistorie gebly het, dan het jy ‘n mollige cherub gehad wat so oor jou (sement) posbus gehang het. Tot vandag toe glo my Ma dat dié cherub probeer om die pos te gaps, en meen sy dat die spesifieke mould in ‘n onbedagte oomblik die lig gesien het. Onthou jy die sementposbusse wat soos stewels gevorm was? Ek sê jou, daardie posbusse is gemaak om te hou.

Die enigste probleem met die sementposbusse is dat dit huisbewoners se vingers laat jeuk het om met verf aan diesulke skeppings te karring. So is daar vandag duisende vleeskleurige cherubs met Noord-Transvaal blou ogies, ‘n galsterige geel krullebol en ‘n giggel groen druiweblaar neffens hul naeltjies. Pa het per geleentheid mos ‘n tuindwergie so met die verf bygedam. Ons lag nou nog daaroor…. in die dorre Vrystaatse winter het die Willemses se tuindwergie met sy rooi tuitmondjie, ligpienk koorsagtige wangetjies en ek-verlang-na-jou ogies elke dag met ‘n (aangeverfde) vreugde aangedurf.

In Stilfontein het Pa se buurman vreeslik las gehad van bosduiwe. Jy sien, die duiwe sou op sy posbus sit en die wêreld vanuit ‘n hoogte beblerts. Van al die blertse het die posbus later soos ‘n tuitmiershoop begin lyk én met elke skoonskrop het die verf tot op die red oxide onderlaag afgedop. Buurman bedink toe ‘n slim plan: hy het sy posbus beveilig deur haaitande (skerp yster off-cuts) daarop aan te bring. Het dit gehelp? Ja. Die duiwe blerts nou eerder op die stoep. Is die posbus gebruikersvriendelik? Nee. Die posbus is nou ‘n skerp gevaarte wat geen vingerpunt ontsien nie.

My posbus is in die middelste ry van ‘n hele blok posbusse. Tipies kompleks-styl: almal dieselfde.

Ek kyk elke dag of daar pos is.

posbus3.jpg