Tannie!

Liewe Persoon,

Ek sê jou, dit het sommer so oornag gekom – soos pes en skande dikwels doen. Die een oomblik was ek nog  Annette en ‘n oogknip later was ek “Tannie”. Let wel: ek is nie iemand in spesifiek se tannie nie, ek is ‘n tannie in die algemeen!

Dit is vir my ‘n bittere pil om te sluk – amper soos om ‘n Grandpa-poeier in ‘n droë keelgat af te gooi sonder ‘n druppel water. Of soos wanneer ‘n hardnekkige Panado-pilletjie in jou keelgat (of verhemelte) vasslaan… eeeuk! Dit veroorsaak die een rilling na die ander… so al met jou ruggraat af tot in die knak van jou kleintoontjie.

In my kop is ek verseker jonger as wat ek werklik is. En miskien is dit die probleem. Jy sien, liewe Persoon, na my oordeel is ‘n “tannie” iemand wat Oil of Olay (mature skin) gebruik, wat ‘n purple rinse het, wat winter en somer knee highs dra en wat in haar jeug volkspele beoefen het. Iemand soos Min Shaw. Of my tannie Lizzie. In kort: iemand wat die jubilee-uitgawe van Huisgenoot besit, die een met Charles en oorle ‘Diana se troukiekies.

Die groot 40 loer vir my, maar eerlikwaar: in my kop is ek niks ouer as 25-jaar nie. Om die waarheid te sê, dit voel vir my of ek iewers tyd verloor het. Daai 15 jaar tussen my kop en my lyf is vir my ‘n groot bron van kommer…

Maar om terug te kom na my tannie-tirade.

Vanoggend was dit weer tannie-tyd. Die kassier by die kafee – wat sonder twyfel ouer as ek is, het gevra of die “tannie” ‘n plastieksak wil hê. Vir ‘n oomblik het ek gedink sy praat met die ouma  agter my, maar ek is wreed teruggeruk na die werklikheid toe sy vir ‘n tweede keer skree-vra of  die “tannie” ‘n plastieksak wil hê. Uit pure skok (en misplaasde rebellie) weier ek toe ‘n sak – net om al skuifel-skuifel kar toe te loop met ‘n brood en melk onder die arm, ‘n koerant in my regterhand en my handsak en sleutels in die ander hand. Ek het ook ‘n pakkie pepperminte baie behendig (maar uiters onvroulik) tussen my tande vasgeknyp.

Toe bied die motorwag aan om die “tannie” met die arms vol proviant te help dra. Ek het op my tande gekners – deels oor die pakkie pepperminte, en iets gesis wat baie na ‘n outydse fluitketel geklink het. Needless to say, dit  het nie die motorwag afgeskrik nie.

Ek was skaars by die werk, toe huppel daar ‘n skoolkind die kantoor binne. So met die huppel saam trek sy los met ‘n relaas oor hul skool se koerant en ‘n moontlike borgskap. Ek het skaars die kloutjie by die oor toe begin sy met “tannie”. Skielik is haar Sound of Music facade iets van die verlede en sy “tannie” “tannie” “tannie” soos ‘n masjiengeweer. Ek het probeer om ‘n woord of ses in te kry, maar sy het die tannie-aksie so dik aangesmeer soos ‘n grondboontjiebotter- en strooptoebroodjie. Om die waarheid te sê: dit was so traumaties ek kon dié kind nie eens in die oë kyk nie.

Ek weier om vrede te maak met dié ge-tannie-tannie.

Ek werk by ‘n universiteit. As jy wonder wat om my te noem en jou gedagtes dwaal na “tannie”, noem my liewers doktor of professor. Mevrou kan seker ook werk (al het ‘n student my per geleentheid as “Sir” aangespreek in ‘n klasopdrag). If all else fails, noem my sommer net Annette.

Tannie

Advertisements

Straat sonder naam en ‘n V8-verwarring

Liewe Persoon,

En daar gaan doen ek dit weer: ek slaan my naam met ‘n plank! En ek praat nie nou van ‘n tikkie op die skouer nie. Nee! Ek praat van ‘n Mike Tyson-uitklophou. En glo my, daar het ook meer as net splinters en nerwe gewaai…

Wat moet die mense van my dink? Nog erger: hoe moet ek vir myself sin (probeer) maak uit hierdie blaps? Is daar rede tot kommer? Moet ek nie straks mediese raad inwin nie?Ek voel sommer hoe my wange bloedrooi gloei as ek net daaraan dink!

Ek weet ek is soms ‘n bietjie verstrooid (lees: BAIE), en dat ek dalk nie altyd die skerpste potlood in die pakkie is nie – maar: as ek eventually agter die spreekwoordelike kap van die byl kom, dan het ek hom en laat los ek nie sommer nie. Amper soos ‘n Jack Russel wat uiteindelik ‘n Volla ingehardloop het en dan met oorgawe aan die mudguards kou.

So sit ek nou die ander aand by mense vir wie ek troufoto’s moet neem.  Oppad na hul huis het ek reeds met my (gebrek aan) rigting gesukkel, en was ek amper laat vir die afspraak… die feit dat ek al 18 jaar in Vanderbijlpark bly, nieteenstaande. Soos die gesprek vorder vra die toekomstige bruid of ek my adres vir haar sal gee – no problemo!

Maar skielik twyfel ek. Ek weet verseker dat ek in Vanderbijlpark bly, maar net daar en dan is my kop so leeg soos die Spur in Pretoria as die Bulle speel. I kid you not, daar kan ek nie my straatadres onthou nie. Ek sien die straat – en die allemintige pothole voor die hoërskool se hek, so duidelik soos daglig, maar ek het nie ‘n benul wat die straatnaam is nie. Ek dog toe dat die kompleks se naam dalk vir haar ‘n aanduiding kan wees, maar ons almal weet wat het dog gedoen! Jip! Daar slaat die groot niks my weer: ek weet nie wat die kompleks se naam is nie! Teen hierdie tyd het ek al begin kriewelrig raak, en die arme bruid was ook al spyt dat sy gevra het. Al wat ek vir haar kan sê is dat ek amper seker is dat die straat met ‘n “R” begin, dat dit naby die hoërskool is en dat ek in nommer 22 bly.

Die res van die gesprek het verby my gevlieg, want al waaraan ek kon dink is hoe op aarde ek by my huis gaan kom as ek dan nou skielik nie weet waar dit is nie!

So tref dieselfde lot my Ma toe sy onlangs haar testament by die bank gaan opstel. So tussen die begunstigdes, die bates en die bereking van die boedelbelasting word sy gevra of sy nog self bestuur. Natuurlik bestuur sy self, en die makelaar maak ‘n nota. Op die volgende vraag het sy geantwoord dat sy ‘n Chevrolet bestuur (en dat dié bekendstaan as ‘Vlam’ – omrede dit rooi van kleur is). Die gelol het gekom toe hy wil weet watter model Vlam is. En net daar tref dieselfde ek-het-geen-idee-kriewel vir Ma. Sy sê sy het lank nagedink en al wat sy met sekerheid geweet het – en toe aan die makelaar meegedeel het, is dat dit NIE ‘n Chevrolet Lumina SS V8 is nie.

Huh?

Jy sien, liewe Persoon, Pa het altyd van ‘n Lumina gehou – veral van die SS V12. Ek het nie eers geweet dat Ma van ‘n Lumina weet nie, wat nog te sê van ‘n V8? Die man van die bank het glo – amper soos in die Mannetjies Roux-liedjie, net sy kop geskud. Hy moes glo ook baie hard op sy onderlip byt om nie onbedaardelik aan die lag te gaan nie.  Nou, weke na dié komiese tragedie (want dit is presies wat dit was), weet ma dat Vlam ‘n Aveo is.

Net soos ek ook nou weet dat ek in Ramsbottomstraat bly.

Chev.jpg