Labor ipse voluptas

Liewe Persoon

Ek kan – tot my eie skok, net dié enkele reëltjie uit Virginia Volkskool se skoollied onthou: ...”Labor ipse voluptas, werk is my plesier!” En ek moet bieg, in 1986 het die Latynse frase baie soos “..Laborib se volop tas” geklink…

Ons het elke saalperiode met die skoollied afgesluit, voorafgegaan deur die volkslied. Dan het  Gesang 47 gevolg. “Op berge en in sandale…” – ja, ek weet nou na baie jare dat  die gesang eintlik niks met bergklim sandale te doen het nie.

Dit was goeie tye (al besef ek nou dat ek my eerste skooljare omgesing het!). Toe ons in sangperiode gesing het oor die groen lande van Natal, die maan wat sak in My Hartjie My Liefie en oor kalwerliefde in Suikerbossie. So nou en dan het Juffrou Elmien ‘n Andrew Lloyd Webber-liedjie afgestof en dan het ons ge-Memory soos niemand op die Cats-verhoog kon droom om te doen nie. En onthou, Virginia het nie  ‘n stadsaal gehad nie, so ons blootstelling aan musiek en toneelspel was beperk. Baie. (Die NG-kerksaal is gebruik vir Sondagskool, kinderkrans en matriek eksamen.)

Soos in die kerk, het sangperiode ook altyd gepaard gegaan met voorsangers. Dit was nou dié siele wat (na bewering) stemme so soet soos heuning gehad het… Juffrou Elmien sit die noot in, en die jonge soprane trek weg met die grasie van, nou ja, van ‘n standerd vier kind. Party van ons kon die noot goed hou en kon darem vir die grootste gedeelte saamsing. Shame. Party ander het weer net met die refrein ingeval. Dit was dan ook die geval met die skoollied. Die hele lied is in ‘n besadigde neurie gefluister tot ons by die volop tas gekom het, toe het die dak amper gelig….seker dié dat die res van die woorde nie eintlik vatplek kon kry nie.

Dan kom jy in standerd vyf en skielik is jy te grênd vir sangperiode. Nee. Dan word briefies uitgeruil, kyse gesmee en wiskunde huiswerk afgeskryf. So nou en dan – voor die jaarlikse kunswedstryd, sou die voorgangers hul solo nommers vir die res van ons pleeg. Dinge was toe al meer complicated.  Mens is mos dan al meer bewus van die in crowd (en die feit dat jy waarskynlik nie na Sonja se verjaardag genooi gaan word nie), en as ek reg onthou was brille en draaitjies toe al deel van die mondering.

Juffrou Elmien het eendag verskriklik met Pieter (ek kan nie sy van onthou nie) in die sangklas baklei – en nie omdat hy nie die woorde van Any dream will do  kon baasraak nie, maar omdat hy ‘n fanbelt in street fighting gehad het en van mening was dat regte mans (standerd 5, rerig?) nie musicals doen nie. En miskien het hy ‘n punt gehad, soos ek sê, ons het nie ‘n stadsaal gehad nie. Ma en Juffrou Elmien was egter van mening dat onkunde en arrogansie boesemvriende was… Pieter het dit nie verstaan nie.

My gunsteling onthou van Virginia Volkskool is waar ons, as haasbek sub-A’s (met lang skoolrokke en kronkel middelpaadjies), op Juffrou Lena se mat gesit het en die Opsitliedjie (van die padda en sy meisie) uit volle bors gesing het – met jazz hands die lot.

Weet jy, liewe Persoon, Virginia Volkskool moes ‘n rukkie terug sy deure sluit. Te min kinders, jy sien.

Ek reken dis ‘n geval van fluit-fluit sy storie is uit…

en dit is ‘n sad song!

volkskool

 

 

Advertisements

Ongeluksvoëls

Liewe Persoon,

Hulle sê weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie, maar ek het my bedenkinge. Ek skaar my eerder by die Engelsman wat meen “birds of a feather flock together”. En ek is seker hy praat van ongeluksvoëls. Ek vlieg mos terstond in die voorste linie van hierdie swerm.

Neem nou maar my geneigdheid om op ‘n plat oppervlak oor my eie voete te val. Ja, en meestal terwyl ek iets soos versierde kolwyntjies of bekers vol koffie saamdra. Op skool het ek alewig my kosblik laat val en dan  het die driehoekbroodjies – wat baie netjies in waspapier toegedraai was, uitmekaar gespat en botterkant na onder op die grond geval. Die polonie (wat in daardie jare ‘n baie vreemde skakering van pienk was en wat sweerlik vandag se polonie-pes bloedrooi sou laat bloos) het gevolglik die wêreld vol gespat. En dié onbeplande nadraai het gemaak dat ek maar eerder my botteltjie aanmaak-Oros smiddae by die huis gedrink het, want as ek nog my skoolrok vol koeldrank ook moes mors sou pouse darem baie lank en onguur gewees het.

Maar soos ek sê, ek is maar die voor vlieër van ‘n hele swerm ongeluksvoëls. Nou die dag hoor ek hoe vertel die haarkapper van een van haar kliënte, ‘n bejaarde dame, wat so bad luck het. Reken, teen laat middag loop die tante in haar tuin en kry dit so wrintiewaar reg om op die tande van die tuinhark te trap waar dié veilig teen ‘n muur staan gemaak is. Ja, haar voet was seer, maar nie naastenby so seer soos haar voorkop waar die hark se steel haar ‘n koek hou geslaan het nie. Shame. 

En tog is dit die einde niet (ons swerm is mos altoos berug vir ons epic fails wat vir ons tweede natuur is, amper soos asemhaa vir jou is): Reken, volgens die haarkapper, het dieselfde tannie net nou die dag so ‘n nare onderonsie met haar skottelgoedwasser gehad. Sy wou die skottelgoed wegpak, maar toe sy die deur van die skottelgoedwasser oopmaak gly haar voet op die nat teëls, sy steier vorentoe en maak kop eerste kennis met die skoongewaste breekgoed. Ja, sy het wéér haar kop gestamp, maar die dokter was meer verlig om vas te stel dat die vleisvurk wat in haar long gesteek het nie permanente skade gelaat het nie!

Ek glo nie bad luck is geneties nie, altans ek hoop nie so nie. O, jinne! Ek besef nou eers dat ek en die Juffrou al twee aan die swerm behoort… in teen deel, ek dink ons het platinum membership! DIT IS GENETIES!

Die Juffrou het net mos net so ‘n flair vir die dramatiese soos ek. Sy koop mos ‘n paar sindelike sandaaltjies vir haar gradeplegtigheid. Alles het goed gegaan tot sy op die verhoog moes stap, toe die dekaan haar naam lees toe breek een van die bandjies net daar op die plek! Haar trots stewig in plek is sy toe maar sleepvoet-sleepvoet oor die verhoog, graad en al. So koop sy  haarkleursel op ‘n (ongelooflike) uitverkoping, met tragiese gevolge. Die kleur was vir maande fantasties, maar die bleikmiddel het haar byna poenskop gebrand! Sy moes noodgedwonge ‘n over comb dra, maar genadiglik begin die nuwe hare nou soos donsies by haar slape uitgroei.

Soos ek sê: die skade en skande kom vanself.

Geen pretensie.

Geen beheer.

funny-bird-pictures

 

 

 

Van nukkerigheid kom nederigheid

Liewe Persoon

Ken jy daai liedjie van oorle Randall Wicomb, die een van die witbroek? Ja, man! Dink mooi. “Die witbroek sit nie nice nie,  want die witbroek het nie size nie. Die witbroek sit nie mooi nie, want die witbroek het nie plooi nie!”

Ek weet nie mooi hoekom nie, maar vanaf die naweek se dinge bly dié song in my kop speel.  En so saam met die wysie, is daar – in my verbeelding, ‘n man in ‘n safaripak (!) besig om die drumpeldans te doen.

Hoe bedoel jy, jy weet nie wat die drumpeldans is nie?

‘n Drumpeldans kan ook as ‘n nippertjie-nommertjie beskou word. Dit is ‘n danspassie, nes die Madiba shuffle – net anders. Die drumpeldans speel af in stereo en 4D net voor groot gebeurtelikhedeDis nou voor die spreekwoordelike kalf in die put beland. Voor jy die verhoog moet bestyg by ‘n kunswedstryd nadat jy jou bladmusiek in jou tas vergeet het. Net na die bruidspaar die dansbaan geopen het, en jou aangetroude neef reeds onder die prop is.  En net na jou wasmasjien se waarborg verval het.

Nou net so onvanpas soos ‘n wit safaripak is die gewoonte wat die uwe het om met haar hond te wil spog. Die gesegde waarsku mos juis dat jy nooit as te nimmer met jou kinders of jou honde moet spog nie, want skande en skade sal jou beloning wees. Maar ek luister mos nie. Nee. Ek moet eers voel (en ‘n fool van myself maak).

Saterdag neem ek en Steve – die Willemse-pekignese, aan ‘n troeteldierstap deel. Nou vir die van julle wat nog nie vir Steve ken nie: hy verbeel hom hy is ‘n paleishondjie, net soos sy oeroupa in Sjina. Om dié rede meng hy nie graag met ander vierpotiges nie (lees: glad nie). Hy verkies om in sy stootwaentjie (!) rondgestoot te word eerder as om – soos ‘n alledaagse Buksie, Kolletjie of Vlekkie, aan ‘n leiband rondgelei te word. Hy het ‘n krat vol sagte speelgoed. Verskeie frokkies – vir winter én somer. En ja, sy  polar fleece pajama-jurkie is van Superman-materiaal gemaak. Anyway.

Daar bevind ek en Steve onsself Saterdag midde die skare… dis net honde en tekkies waar jy kyk. In fact, ek dink die hele Klerksdorp was daar. Ek verkyk my nog so aan die Labrador met die engelvlerkies en sy eienaar met die fitbit en neonpienk kouse, toe Steve begin kerm. Pekignese kan mos ‘praat’ en die van julle met ondervinding sal weet, as jou Pekignese praat dan luister jy.

Ek haal hom uit die stootwaentjie en net daar gebeur dit: sommer so in die stap. Hy trek sy rug krom en hy kry so ‘n vae en tevrede uitdrukking op sy gesig, so asof hy wil sê ek het jou gesê hierdie is nie ons scene nie, maar jy luister mos nie! Ek besef gelukkig betyds dat Meneer nou sommer – sonder seremonie, die pad uhm… vir die res van die stappers gaan ontwrig en begin dadelik met my nippertjie-nommertjie. Ek pluk met die grasie (lompheid) van ‘n seekooi aan sy leiband en vir ‘n oomblik sien ek erge veragting en judgement in sy ogies. Ek hop, skip en jump en kry hom (en die stootwaentjie) net betyds uit die pad. Maar soos die duiwel dit wil hê, het hy toe reeds sy opinie van dié staptog net daar in die middel van die pad gelos. Nodeloos om te sê, maar met al die dansery het ek toe ook al reeds in sy … opinie… getrap én is ek vir my moeite beloon met ‘n groepsgiggel van omstanders, stappers én ek sweer ‘n grynslag van ‘n chihuahua net ‘n fake fur baadjie.

Ek stap toe die res van die roete met ‘n stywe been.

Teen die tyd wat ek en Steve die eindstreep – wat vir my baie soos die Poly Shortts-opdraende buite Pietermaritzburg gevoel het, bereik het blaas ek toe al soos ‘n vendusie-os. Steve se ogies blink en sy stertjie swaai. Ek probeer vir ‘n tannie met ‘n purple rinse en ‘n poedel met ‘n geel strik waarsku dat Steve nie daarvan hou om deur ander ge-cuddle te word nie, net om so tussen die sweetdruppels te sien dat Meneer op sy rug lê en skoon die bewerasies het soos hy dié tante se gevoefel geniet. Toe die volgende belangstellende nader staan om aan die “oulike hondjie in die pram” te vat, toe laat ek hul begaan. En net daar verander Steve in ‘n bloeddorstige wreedaard en is dit net tande! Dit was so amper-amper of daar was ‘n slagting.

Vir ‘n oomblik het ek gewonder of ek ooit die regte hond raakgevat het tydens my drumpeldans. Ek buk af en terwyl ek hom in die oë kyk – om te vra wat presies sy storie is, toe nies Meneer my bril skoon van my gesig af (soos wat nukkerige pekignese doen). Toe weet ek: ek het reg gegryp. Steve is maar net nie lus vir dié buitemuurse aktiwiteite nie. (Lees: hy sou veel eerder in die son op die sitkamerbank – waar net die dominee sit, wou uitstrek).

Teen die tyd het ek nie meer met Steve gespog nie, en om die waarheid te sê, hy was ook nie meer in ‘n spoggerige bui nie. En toe gebeur dit. Jungle justice, soos my vriendin Aldine sou sê.  Daar skrik Steve die dorpshond sy nukkerigheid skoon weg…

Jy sien, dié geleentheid was ten bate van ‘n plaaslike animal shelter waar verwaarloosde diere versorg word. En dit was juis een van daardie getraumatiseerde perde (wat gered is onderweg na ‘n slaghuis in Krugersdorp-Wes) wat Steve in sy eie opinie laat stik het. Perd-se-kind kom verby en al wat Steve natuurlik sien is die vier hoewe. Hy begin blaf en skree gelyk en die arme perd se maag maak so in die stap ‘n draai. Dié draai gee toe aanleiding tot ‘n gallop en ‘n  bletsstreep waarvan die reuk slapende babas kan wakker maak (en verf van mure laat skilfer). Toe verloor Steve dit heeltemal.

Shame. Ek dink daai perd se maag draai nou nog, nes Steve – die paleishondjie, nog nie weer sy blaf teruggekry het nie. Dat nukkerigheid nou so ‘n nederige nadraai moes hê…

En ja. Ek het my les geleer: ek en my hond, Steve, is nie gemaak vir groepsaktiwiteite nie.  En nee. Ek spog nie, ek  bely dié tekortkoming in alle nederigheid.

kom nederigheid