Aanstellerigheid

Liewe Persoon,

Ek kan baie dinge handle, maar aanstellerigheid is die een ding wat my hare laat rys. My bloed laat kook. My skoon skeel laat kyk.

Hier waar ek nou sit wil ek sommer my vuiste bal en my voete stamp. Jy moet my maar vergewe, maar ek moet dié klippie uit my skoen kry en gou ook. Ons almal kom die wêreld in op dieselfde manier: kaalbas, skreeuend en met ‘n gesnak na asem. Eers kruip ons, dan waggel ons en uiteindelik slaag ons daarin om sonder hulp – óf toesig, die plek op horings te neem. Op die eerste dag van skool klou ons aan ma se rokspand, en op ons 40 days  in matriek besnotter ons mekaar – en belowe om elke maand te skryf.

Dan raak ons doenig met die lewe. Ons begin worry oor ‘n trouring, ‘n huisverband en wrintie-waar ook oor karavane of tyddeel in Margate. Soos ek sê: ONS ALMAL GAAN DEUR PRESIES DIESELFDE – of jy nou in die bo-dorp of langs die treinspoor bly.

Maar ‘n  aanstellerige Ansie sal dié universele waarheid natuurlik ten sterkste ontken. Nee. Sy en haar (model) gesin hou in die Kaapse wynland vakansie. In die winter verkies hulle die wildtuin terwyl sy en manlief ook graag elke jaar ‘n draai by Alpe d’Huez in Frankryk maak. Die feit dat manlief ‘n password op sy slimfoon het, sy ‘n staande afspraak by ‘n holistiese welstandsterapeut (want ‘n gewone sielkundige sal nooit deug) het, en boetie slegs ‘n reserwe vir die onder 14 C-span is. Good life problems, sou my vriendin Keleabetswe sê.  En ja, elke huis het sy kruis, maar aanstellerige Ansie moet altyd beter en blinker – selfs in tye van skade en skande.

Daar is ‘n verskil tussen aanstellerigheid en spog (alhoewel die meeste aanstellerige mense ook graag spog). Spog is vir my amper soos goeie nuus op steroids. Jy kan met rede spog as jy jou klas se toppresteerder is. As jy jou doelgewig bereik het. As jy vir die eerste keer ‘n souflé gemaak het wat nie ingslaan het nie.

Dit is oomblikke van vreugde.

Daar gaan egter ‘n tyd kom wanneer hierdie prestasies se spogwaarde afneem en jy – soos die res van die mensdom – na nuwe oomblikke van ekstase moet soek. Dit is nie die geval met aanstellerigheid nie.

Aanstellerigheid is niks anders as voortslepende fake-geit nie. Wanneer niks meer vir jou wow is nie. Dit is ‘n ewige gejaag na meer. Na groter en beter. En natuurlik gaan hierdie strewe gepaard met ‘n klankbaan wat 24/7 gespeel word. Skielik is ‘n nuwe motor of ‘n huis net nog alledaagse regmerkies op ‘n moet-hê-lys. ‘n Verloofring is nie meer ‘n belofte van ‘n toekoms saam nie, maar eerder ‘n bate met ‘n (karaat) waardasie by die versekering. Ek-het-die-beste-van-alles-houding word ‘n leefstyl. Hoe sê daardie advertensie nou weer? O-ja: you’re worth it!

Dit alles laat my dink aan ‘n grappie wat ek onlangs gehoor het. ‘n Klomp skaapboere het saam om die vuur sit en kuier. Dit was  – soos dit maar laataand om ‘n braaivleisvuur gaan, ‘n gespog vir die beker. Die een boer se merino-ram was die wenner van die landbouskou. Die ander boer se kudde het A-gradering wol gelewer. Dis toe dat die derde boer breëbors vertel dat sy skape – behalwe vir goeie prestasies op die landbouskou en kwaliteit wol, boonop nog ongelooflik slim is ook. Reken, sê hy. Sy trop skape vrek nie net in die veld soos gewone skape nie, nee. Hulle loop ses dae agter ‘n slang aan net sodat slang-se-kind hulle kan doodpik.

Sien wat ek bedoel?

aanstellerigheid

Advertisements

Skree!

Liewe Persoon

Nee! Ek kan net nie wen nie! Vandag is (weer) een van daardie dae wat rooi lipstiffie, nuwe skoene, Belgiese sjokolade én Allan Donald nie ‘n verskil kan maak nie.  Trues bob!  Alles is ‘te’: te klein, te stowwerig, te warm, te min, te kwaai, te veel, te duur en ja, te befoeterd.

Ek weet jy het ook al sulke dae gehad. Dae wat jou lus vir skree op die grond sleep…

Dae wat loop soos ‘n Valuim-verslaafde slak oor skuurpapier. Dae wanneer dit voel asof jy kaalvoet deur ‘n morg erdwurms moet wroeg. Of nog erger: dae so droog soos ‘n Huisgenoot Wenresepte-sponskoek sonder botterversiersel.

Dit het al vanoggend begin toe ek net mooi niks kon kry om aan te trek nie. Ek was skaars by die werk toe mors ek koffie op my (spier)wit hemp. Instede van ‘n personeelkaart wat moet lees: ‘personnel’ word ek toe sommer ge-issue met ‘n kaart wat lees ‘pensioner’. Die fout is dadelik aangemeld, en vir al my moeite is ek vergoed met nog ‘n pensionariskaart. Teen die tyd wat die kaart reg gelees het, was my hare – van pure frustrasie, al papnat gesweet en nou lyk die foto op my personeelkaart asof ek ‘n langafstandatleet is.

Dis snaaks hoe sulke dingetjies sommer gou in grootse grille verander. Ek probeer dit nie eens meer wegsteek nie: op dae soos hierdie kry ek myself baie jammer. Ek wil – my lompheid in ag genome, sommer op die kantoor se dak klim en vir hoor en sien skree: LOS MY UIT! Dit terwyl ek eintlik net ‘n drukkie soek. En miskien ‘n blokkie fudge… Maar hoe gemaak? Ek kan nie net my kollegas gryp en (be)druk nie… dit sal ‘n lelike ding afgee.

So nou skryf ek maar vir jou, want ek weet jy sal verstaan. Môre hou die Augustus-winde op en bloeisels begroet ons van alle kante. Ek staan dalk met ‘n huppel in my stap op en gryp na my geel-frokkie – wat straks nog pas na die winter, en met ‘n lied in my hart. Ek besluit dalk om tog agt glase water te drink en my koffie sonder drie (opgehoopte) teelepels suiker te sluk.

As die winde egter nie ophou waai nie, en daardie geel-frokkie beklemmend om my middellyf klou, dan kan ons dalk ‘n herhaling van vandag op hande hê. Wie sou kon sê, want dis hier te lank en daar te kort, en my stem is hees geskree.

Te veel

 

 

 

 

 

Verknog(ter)

Liewe Persoon,

So besluit ek om ‘n daadwerklike poging aan te wend om ligter te leef (lees: my huis lyk soos ‘n museum: alles blyk op uitstalling te wees). Die eerste stap was natuurlik om ‘n vertrek in die huis te kies en te begin gooi: weggooi, rondgooi, uitgooi en ook toe amperse (tou)opgooi … Jy sien dié aksie om ligter te leef is ‘n baie swaar taak. Vir my, ‘n haas onmoontlike taak.

Jy weet reeds dat ek ‘n propperse klotterklaas is, maar wat jy dalk nog nie weet nie (maar vir jare al vermoed) is dat ek ook ‘n verknogter is. En ja, ek weet daar bestaan nie so ‘n woord nie. Maar daar moet. Ek is verknog aan amper alles behalwe ‘n leë toiletrol en botterbone. So, dan is ek mos ‘n verknogter; iets soos ‘n versamelaar op steroids.

In ‘n poging om my aan te help, laat weet Ma dat ek dalk met my (kostuum)juwele moet begin. Ek het mos ‘n manie oor blink klippies en bonkige houtkrale, soveel so dat dit regdeur my huis hang.  Trues bob. Daar hangs selfs ‘n string krale in my kombuis.  Maar dit daar gelaat. Met groot moeite dra ek elke hangertjie en string krale kamer toe, om met die groot wegmaak aksie te begin. En net daar, op die kooi, tref ‘n verskriklike hartseer my. Ek sê jou, ek grens vir die beker. Hoekom?

Jy sien, al is die klatergoud al besig om plek-plek sy nerwe te wys, is elke liewe stringetjie – selfs die een met die seeskulp van ons gesinsvakansie in graad 5 (!) vir my ‘n hartsbesitting. Hoe op dees aarde kan ek nou daarvan ontslae wil raak? Ek bel vir Ma. Sy reken ek moet sterk wees en my besluit grond op hoe gereeld ek dié (twyfelagtige) stringetjies dra. Dit klink na ‘n plan.

Maar nee.

Ek is seker Ma verstaan nie.

Ek los vir eers die stringetjies en die trane. Ek is letterlik omring deur juwele, en kan net ver genoeg strek om my nuwe tydskrif raak te vat. En asof die heelal my ‘n stootjie in die regte rigting wil gee, sien ek ‘n artikel waar Nataniël vertel van lig-leef. Wow! En raai bietjie wat sê hy? Hy reken as mens so ver kan kom om van hartsgoed ontslae te raak, moet jy altyd in ag neem dat ander mense (lees: ontvangers) genoeg moeilikheid en trauma van hulle eie het en NIE noodwendig joune by jou wil oorneem nie.  Ek bel dadelik vir Ma met die goeie nuus.

Sy is nie beindruk nie.

Jy sien. Die eens silver hangertjie met die uil is die laaste stukkie blink wat Pa vir my uitgekies het. Die riempie met die klippie-kruis het ons nog by die Bloemfontein-skou gekoop. Die string wit krale was oorle’ Ouma Jannie sin, terwyl die borsspeld met die missing zirconia aan my pa se oorlede suster, Rien, behoort het (die feit dat ek haar nooit geken het nie, ter syde). En hoe kan ek die (nou pikswart aangeslaande) pewter hangertjie wegmaak wat ek vir my voorstelling in die kerk gedra het? Nee. Ma verstaan nie.

Ek sal maar net nie nog juwele koop nie. ‘n Soort van ‘n sabbatical vat van versamel.

Gister loop ek en die Juffrou in die mall. Daar is letterlik morge uitverkopings. Ek het probeer, maar soos die Groot Boek sê: …die gees is gewillig, maar die gees is swak.

Die nuwe krale hang vir eers in my hangkas. Net tot na Ma se kuiertjie Saterdag.

‘n Verknogter, sê ek jou.

Sorry Ma.

juwele1.jpg

Rigtingverward

Liewe  Persoon,

Ek hoef jou niks te vertel nie, want jy weet mos al te goed hoe rigtingverward ek kan wees.  Dit is vir my niks vreemd om uit die dokter se spreekkamer te loop, ‘n verkeerde draai (in ‘n amperse reguit gang) te maak en in die verbandkamer op te eindig nie. Net nou die dag weer het ek ‘n bebloede rugbyspeler in die eindste verbandkamer gevang waar hy besig was om ‘n selfie van sy besering – ‘n oopgekloofde oogbank – te neem. Ek reken die hutsmerk #skenkbloedspeelrugby of #educationisimportantbutrugbyisimportanter  sou sommer gou ge-trend het te oordeel aan die bloed op sy gesig…

Anyway. So moet ek vir diens aanmeld by ‘n konferensiesentrum iewers aan die buitewyke van Vanderbijlpark. Lees: plot-wêreld. Ek het my bes probeer om aanwysings via die komper te soek, maar is uiteindelik die vlaktes in met slegs ‘n straatnaam.  Nou vir die van julle wat nie bekend is met plot-wêreld nie, dit is ‘n nagmerrie om jou links van jou regs te onderskei, wat nog te sê jou noord van jou suid. Satelliet Saartjie (my gewillige maar dikwels onbetroubare GPS) het sommer dadelik begin gil: “Unmarked road!”, en haarself sommer kapabel verklaar en vir die res van die avontuur nie ‘n enkele geluid gemaak nie.

Selfoonopvangs is in dié geweste ook so skaars soos hoendertande – om nie eens van bordjies met straatname te praat nie. Elke plot het wel ‘n naam: ‘Toggekry’, ‘Sukkel-Sukkel’, ‘Stoepsit’, ‘Jan Pieterse en Moeder’, en my absolute gunsteling – ‘Highland Manor’.  So gebeur dit ook dat dieselfde huis meer as een adres kan hê, trues bob! Ek ken ‘n onderwyseres wie se huis, afhangende van watter rigting jy kom, twee verskillende nommers en gepaardgaande straatname het. Praat van confusing!

So kry ek hond se gedagtes toe ek ‘n klipperige sinkplaatpad moet aandurf. Dit lyk dan of niemand hierdie pad in jare gery het nie? Maar nogtans voeter ek voort, terwyl ek kliphard bid vir die welstand van my bande…

Uiteindelik sien ek lewe – en met dit bedoel ek ‘n swetterjoel krulstert hondjies en ‘n Bloubul-vlag wat parmantig punt-in-die-wind wapper.  Ek stop, sommer by die voordeur vir ingeval ek vinnig moet laat spaander (face it, ons leef in vreemde tye). Die hondjies hardloop nader en al is dit toe nog nie eens elfuur nie, hoor ek hoe Nicholas Louw naarstigtelik na sy Baby soek.

“Is jy van die universiteit?” vra ‘n oom met ‘n pyp in sy mond my. Ek knik instemmend en skud sy hand. “Ek ken nie daai plek waarna julle soek nie,” antwoord hy en ek voel hoe my moed in my skoene sak. Ek try toe my luck en vra hom in watter rigting die ander soekendes gery het. Maar nee. Hy kan nie onthou nie. Ek sien hy kyk na die Days of our Lives omnibus en besef dadelik dat die slinkse Brooke seker sy aandag aftrek. Een ding is egter seker: ek troos myself met die wete dat ek nie alleen is in my rigtingloosheid nie.

Ek vat toe letterlik die road less traveled en na wat soos ure gevoel het, sien ek weer ‘n flikkering van beskawing. Maar helaas, dit is ‘n donkie- en perd sanctuary . Net daar besluit ek dat as dit dié plek is, ek vandag liefs net pepermente sal kou…

Weer keer draai ek om, want die sanctuary bied vir almal ‘n veilige hawe, behalwe vir ‘n kommunikasiebeampte sonder ‘n sin vir rigting. Teen die tyd was ek al rooiwarm en my arme karretjie toe onder die stof (lees: dit het terstond gelyk of ek besig was met ‘n forced removal, maar sommer met my eie landbougrond en al). Dit is toe dat ek my wip en besluit om liewers terug te gaan kantoor toe.

En wat gebeur?

Op die snelweg is ‘n lewensgrootte bord met die konferensiesentrum se naam EN  rigtingaanwysers. Genade! Dit het my 45 minute se ronddwaal gevat, net om te besef dat daar ‘n geteerde pad vanaf die snelweg tot by Ontvangs is.

As ek nou net die konferensielokaal kan opspoor…

#rigtingverward #waariseknou

i am lost