Liewe Persoon
Nee! Ek kan net nie wen nie! Vandag is (weer) een van daardie dae wat rooi lipstiffie, nuwe skoene, Belgiese sjokolade én Allan Donald nie ‘n verskil kan maak nie. Trues bob! Alles is ‘te’: te klein, te stowwerig, te warm, te min, te kwaai, te veel, te duur en ja, te befoeterd.
Ek weet jy het ook al sulke dae gehad. Dae wat jou lus vir skree op die grond sleep…
Dae wat loop soos ‘n Valuim-verslaafde slak oor skuurpapier. Dae wanneer dit voel asof jy kaalvoet deur ‘n morg erdwurms moet wroeg. Of nog erger: dae so droog soos ‘n Huisgenoot Wenresepte-sponskoek sonder botterversiersel.
Dit het al vanoggend begin toe ek net mooi niks kon kry om aan te trek nie. Ek was skaars by die werk toe mors ek koffie op my (spier)wit hemp. Instede van ‘n personeelkaart wat moet lees: ‘personnel’ word ek toe sommer ge-issue met ‘n kaart wat lees ‘pensioner’. Die fout is dadelik aangemeld, en vir al my moeite is ek vergoed met nog ‘n pensionariskaart. Teen die tyd wat die kaart reg gelees het, was my hare – van pure frustrasie, al papnat gesweet en nou lyk die foto op my personeelkaart asof ek ‘n langafstandatleet is.
Dis snaaks hoe sulke dingetjies sommer gou in grootse grille verander. Ek probeer dit nie eens meer wegsteek nie: op dae soos hierdie kry ek myself baie jammer. Ek wil – my lompheid in ag genome, sommer op die kantoor se dak klim en vir hoor en sien skree: LOS MY UIT! Dit terwyl ek eintlik net ‘n drukkie soek. En miskien ‘n blokkie fudge… Maar hoe gemaak? Ek kan nie net my kollegas gryp en (be)druk nie… dit sal ‘n lelike ding afgee.
So nou skryf ek maar vir jou, want ek weet jy sal verstaan. Môre hou die Augustus-winde op en bloeisels begroet ons van alle kante. Ek staan dalk met ‘n huppel in my stap op en gryp na my geel-frokkie – wat straks nog pas na die winter, en met ‘n lied in my hart. Ek besluit dalk om tog agt glase water te drink en my koffie sonder drie (opgehoopte) teelepels suiker te sluk.
As die winde egter nie ophou waai nie, en daardie geel-frokkie beklemmend om my middellyf klou, dan kan ons dalk ‘n herhaling van vandag op hande hê. Wie sou kon sê, want dis hier te lank en daar te kort, en my stem is hees geskree.
Askies dat ek hier sit en smaail – dis darem ‘n hoogs simpatieke glimlag. Dankbaar jou dag het tot grootse grille gelei en nie tot grootse gille nie… O, en glo my maar goed, liewers lyk soos ‘n langafstandatleet as soos ‘n pensioenaris!
LikeLiked by 1 person
…grootste gille, dit klink half lekker!!
LikeLiked by 1 person
Jy het dit nou so oulik geskryf! Toemaar, môre gaan dit beter.
LikeLiked by 1 person
Dankie!! En ja, vandag lyk stukke beter!
LikeLiked by 1 person
Gelukkig is dit naweek en dan kan dit net beter!
LikeLike
Jy skryf vrek oulik, die mees alledaagse goeters word snaaks, dankie
LikeLiked by 1 person
BAIE dankie vir dié groot kompliment… 🙂
LikeLiked by 1 person
Ek het net begin hoop dat jy ‘n windvoorspeller van formaat is en dat die wind regtig môre gaan ophou met waai … *sug* Dankie vir die smaail wat jy op my bakkies geplak het.
LikeLiked by 1 person
‘n Smaail is altyd lekker!
LikeLike