Los geskud

Liewe Persoon

Dit het alles begin toe ek gister oggend baie onseremonieel uit die bed geval het. Letterlik. Hoe dit presies gebeur het, is nie ter sake nie – want niks wat ek ter versagtende omstandighede kan voorhou sal my disposisie kan verduidelik nie, maar een ding weet ek: ek het meer as net my wind los geskud.

Teen die tyd dat ek die grond gesig eerste tref, het ek reeds geweet dat dié val vir ten minste ‘n dag se hinkepink verantwoordelik gaan wees. Face it. Op die rand van 40 voel só ‘n gatslag veel erger as op 20! En daar het ek dit toe: ‘n bloukol op my voorkop en ‘n kramp in my rug. Maar die grootste suffering was die los skud van die woelinge in my hart.

Ja, ek weet ek is soms  (lees: altyd) dramaties, maar daar waar ek op die grond gelê het, neus teen die mat het ek sommer aan die tjank geraak. Ek het ordentelik gehuil oor alles en nog wat – oor 7de Laan se volksvreemde storielyn, die petrolprys, die verskuilde kleur-en-geurmiddels in Oros en die feit dat ons alweer ‘n nuwe minister van finansies het. En ja. Net daar laat ek die golwe van selfbejammering oor my breek. En soos ‘n Ingrid Jonker van ouds, het ek net dieper en dieper die (oordrewe)  see van emosies ingevaar. Willens en wetens…

Ek mis my baster-brak Biebie, ek besef ek sal nooit weer sien hoe Allan Donald vir Mike Atherton sledge nie, as diabeet kan ek nie meer onthou hoe fudge proe nie en, ek weet dat my voorliefde vir skreeugeel plastiek eendjies in sommige kringe as  kômmen gesien word. Ek huil oor ek die woorde van Baby Shark ken en dat ek nooit genoeg boekrakke sal hê nie.

Die trane spat oor oorle’ Pik en die einde van ‘n era. Oor jongmense wat kwaad rondloop, oumense sonder knie-komberse en, kinders sonder kos. Dit is ‘n gegrens vir die beker oor rondloper katte en die waarde van die Rand. Oorvol tronke. Leë kerke. Bacchus en sy cronies. Zuma en die Guptas. Dagga in skole.

Pappie.

Teen dié tyd was ek uitgehuil (met ‘n kopseer wat op die Richterskaal gemeet kon word), en het ek tot die besef gekom dat los skud nie altyd ‘n slegte ding is nie. Die woelinge is vir eers weer stil…

uit die bed

 

3 thoughts on “Los geskud

Lewer kommentaar op Tannie Frannie Kanselleer antwoord