Die lesse langs die pad…

Liewe Persoon,

Wanneer laas het jy slapies getel? En nee, ek bedoel nie die slapies tot ‘n Vrydagmiddag nie! Dit is nog 30 slapies dan is dit ek, Mamma, die Juffrou en die waters van die koue benquela seestroom… Ek moet bieg: ek sien so uit na dié blaaskans dat ek sommer dadelik die kooi wil bekruip en my slape slaap.

Ek kan nie onthou wanneer laas ek slapies getel het nie. Die laaste twee jaar was brutal, om die minste te sê. Amper soos om deur nat teer te ry… jy is al vergange deur die teer, maar jou aangepakte bande veroorsaak dat jy elke tien kilometer stop om te kyk of jy nie straks ‘n pap wiel het nie. Onthou jy toe Pa ons BMX-fietse se inner tubes met permanent tubes vervang het? Jy kon soos die Swartkat van ouds onverstoord deur die duwweltjies ploeg, maar jy was kisboude getrap. Nou só was 2017 en 2018 vir die Willemse-vroue: ons het aanhou beweeg, maar die rit self was soms challenging.

Hulle sê mos altoos; “…life is a journey, enjoy the ride!”

Ons buurman in Virginia – Oom Chris Kavanagh, het ‘n ding raak gesê toe hy eendag vertel dat derdeklas-ry beter is as eersteklas-loop. Ek dink ek verstaan dit nou eers regtig. Ja, dit is dalk beter om agter in ‘n Bentley te grens as voor op ‘n fiets se handle bars, maar die lewe is nie altyd net maanskyn en rose nie.  Dit is nie altyd vakansies in Ballito en losie rugby op Nuweland nie. Maandae is selde toegedraai in bevordering, net soos nederigheid nie aldag in ‘n paar Jimmy Choo stilettos aangestap kom nie.

Geluk is nie ‘n troupand nie. Fopspene en teething rings waarborg nie happy endings nie.  Die regte adres (die een aan die regte kan van die spoorlyn) en duur Duitse motors is niks anders as doodgewone loopgrawe nie, want niks kan jou teen die lesse van die lewe verskans nie.

As die lewe jou ‘n les leer, dan betaal almal van ons dieselfde skoolgeld. En dan is dit meestal ‘n eersteklas-loop. Met jou voete plat op die warm aarde, jou oë toe en jou hande bakhand. Jy wéét – met ‘n amperse kinnerlike geloof – dat jy nooit versaak sal word nie, maar dat die bitter, die seer en die teleurstelling nie vir altyd sal aanhou nie. Maar in the moment wil jy gryp na geld en goed. Na titels en geleerdheid. Na aanvaarding. Na ‘n quick fix.

Veral hierdie tyd van die jaar. Soos die uurglas leegloop, so is baie van ons se nerwe dun geskaaf. Ons is moeg. Die blink geskenkpapier en flikkerende liggies laat ons stywer aan ons beursies en ons sanity klou. Ons loop die pad…

Maar ek moet ook erken: padlangs het ek vanjaar geleer van selfstandig wees, van hoop wat nooit beskaam nie, van aanhou en uithou, van resilience. Ja, die laaste twee jaar het ons met rukke en stote die les van eenvoud geleer. Liefde is regtig-egtig genoeg.

En as die les geleer is, dan kyk jy terug en word jy gevul met ‘n gees van dankbaarheid. ‘n Gees van omgee en verstaan. Van aanvaar en bewaar. En jou waarlik, dan begin jy slapies tel, want goedheid en guns lê altoos om die draai en wag.

People-Woman-Legs-Barefoot-on-Dusty-Road-at-Sunrise-Medium

 

 

Advertisements