Sponskoek

Liewe Persoon

Ek twyfel of daar iets op hierdie aarde is wat meer versatile is as ‘n sponskoek. Noem dit sommer die all-rounder van koeke. Jy kan dit kompleet – soos ‘n Gert-Johan Coetzee-nommertjie, optof vir die rooitapyt én terselfdertyd – met ‘n paar pumps en ‘n ligte lipstiffie, haar down-style ,en so die kollig by ‘n skoolbraai steel.

Of sy nou met marsepein spog, snoesig onder botterversiersel rus of, sommer net in ‘n stropie baai, sy bly ‘n staatmaker. My ouma het sponskoek-se-kind altyd met appelkooskonfyt gesmeer en Krismis is gekookte kondensmelk nader getrek. As dinge flop – wat selde met ‘n sponskoek (kan) gebeur, dan maak jy koekstruif. Laasgenoemde is egter nie ‘n persoonlike gunsteling nie, daar is na my mening hopeloos te veel geure, kleure en teksture wat dan saamgedwing word… en vla kan net soveel fix.

Maar iets wat my dwars in die krop steek, is as sponskoek haar lyf tert probeer hou!

Net gister is dit een van daardie ek-soek-nou-koek-dae. Jy weet, daardie dae met die hutsmerk #koekmynou of #koekvirpresident anyway... So tel ek letterlik die sekondes af tot etenstyd en vlieg teen ‘n onbehoorlike spoed – saam met my bestie, na Mugg & Bean. Ek kon letterlik hulle peppermint-crisp tert proe, en het byna soos ‘n hondsdol meerkat om die mond geskuim. Ek was reg vir aksie en my insulienpen was oorgehaal.

En daar is die deure styf toe, en die ligte is af… beurtkrag! Ellende!

Ek was op die punt om ‘n tantrum te gooi wat die mees gesoute kleuter in verwondering sou laat staar. Dit het gevoel of ek wil hiperventileer en ek het skielik ‘n skelhoofpyn hier neffens my lewer ontwikkel. My en bestie se koeklus het toe ook sommer in overdrive gespring, want dis is mos hoe dinge werk…

Ons besluit dat kettingwinkel-koek ook die ding sou doen, en bespring die naby geleë winkel. En wat sien ek toe ek by die koektoonbank kom? ‘n Gesonde sny perpermint-crisp tert. Reeds hier moes ek onraad vermoed het, maar my maag het die dinkwerk gedoen en nie my verstand nie. Die prys – ‘n derde van wat dit by die koffiewinkel kos, het dalk ook tot my onbesonne besluit bygedra. Ek koop terstond ‘n blok en betaal met ‘n honger greinslag die R16.50. Bestie besluit op iets wat lyk soos ‘n merske koeksister met vla.

Terug in die kar kan ons nie wag om te begin smul nie… en dit is net hier waar die ontnugtering my vol in die gesig (of is dit nou, maag?) tref! Dis ‘n blok (baksteen) sponskoek met groen versiersel… van peppermint-crisp is daar nie sprake nie! Dié groen bekleedsel proe pure tandepasta en skielik wil die lepel vol droë sponskoek ook nie ‘n holte in my kies kry nie. My sluk trek skoon toe…

Dis in tye soos hierdie wat ek Ouma Cielie se gesegde van  ‘iemand vir ‘n eendvoël aansien’ onthou en my onmiddelik  aan selfbejammering oorgee.

Maar wat staan ‘n koeklustige vrou te doen? Ek eet toe maar aan dié pretentious tert, want daar moet nooit gesê word dat Annette Willemse nie probeer nie. Ek kon net die helfte van die affêre gesluk kry. Ek verbeel my toe sommer ook terstond dat my maag gevaarlike draaie maak en ek onthou boonop dat ‘n oordosis tandepasta jou in jou spore kan stuut. Vir altyd. Kapoet. End of the line!

Dit kom nou daarvan as ‘n sponskoek haar lyf tert hou!  Hier waar ek nou sit, proe ek steeds tandepasta en so dan en wan val daar ‘n druppel sweet van my voorkop. My maag is beter – ek dink dit is van al die roosterbrood en flat Coke.

Om te dink dat ‘n sponskoek, ‘n koeklus nou so (kwaadwillig) kan bederf…

sponskoek

 

 

Advertisements

Bladsy 3

Liewe Persoon,

Hulle sê elke nuwe jaar is soos ‘n nuwe hoofstuk wat wag om geskryf te word.  As dit so is, dan kan ons regstaan (bontstaan) vir ‘n wild ride in 2019. Ek meen, met die jaar skaars uit die wegspringblokke blyk dit reeds of die reënboognasie ‘n prutpot vol drama, komedie en vreemder-as-fiksie-oomblikke stook.

So slaan ek ‘n bekende Sondagkoerant oop en – getrou aan my nuushond-opleiding en onblusbare nuuskierigheid, mik ek dadelik vir blasy twee en drie want, almal weet mos dis hier waar die hardenuus kom nesskop. En ek staan verslae. Woorde het ek nie… net ‘n behoefte om onbedaarlik te giggel.

Dit is te vroeg vir April Fools.  En skielik dink ek (met innige simpatie) aan die arme subredakteur wat dié koddige nuusversameling moes laat werk. Met die uitleg van die bladsy skort niks: ‘n tradisionele vier blok uitleg met ‘n groot fokusfoto. Dis juis dié foto wat tot die bladsy se komieklikheid bydra. Drie Ingelse manne – ampers so naak soos die dag toe hulle skreeuend hul aankoms in die wêreld aangekondig het – met plakkate wat strategies hul uhm… talente verberg, staan langs mekaar en glimlag. Reken, dié drie latte – almal pierewaaiers van formaat (of so laat die berig jou verstaan) bokspring gehore in Engeland aan die brand.

Anyway. Dit is juis dié uitbundige bokspringery wat hulle en ‘n “ouma” van Suid-Afrika nou saam in die hof laat beland het. Jy sien, die “ouma” (soos die koerant na haar verwys), het ‘n oogbesering opgedoen tydens ‘n jolifikasie in die land van komkommertoebroodjies en graafskapkrieket. En nee, sy het nie deur ‘n sleutelgat geloer nie. Haar eyewitness account van dié manne se mannewales het haar – terug in Suid-Afrika, ‘n trip na ‘n oogspesialis gekos. Ek dink dit is een van daardie gevalle waarteen Ouma Jannie ons altyd gewaarsku het: moenie jou gesig so trek (of in hierdie geval jou oë so groot rek) dat dit vir altyd so sal staan as die klok twaalfuur sou slaan nie. Luidens die berig, het een van die manne se broek, seker van al die bokspring, losgekom en hy het dié stukkie lap eenvoudig vir die gehoor vol jillende vroue gegooi en in die proses vir “ouma” in die oog getref. Miskien het hy net iemand gesoek om die nate vir hom toe te stik…

Ter nabetragting besef hy nou dat dit dalk nie so ‘n slim plan was nie. En die “ouma”, wel, ek dink nie sy woon nou meer live shows by nie.

In ander nuus, op bladsy 3 het drie mynwerkers van my tuisdorp, Virginia, tot die redding van ‘n losloper koei gekom nadat sy in ‘n sloot water beland het. Die koei, gedoop “Mina Moo”, het blykbaar verskriklik gespartel en geskukkel om in die stroom water haar kop bo die water uit te steek. Die polisie se watereenheid het nie kans gesien vir Mina en die sterk stroom water nie, maar soos almal weet: myners is vindingryke mense. Net neffens Mina was daar juis ‘n hyskraan wat ook in die stroom beland het en gevolglik in die modder vasgeval het. En daar, soos Wolraad Woltemade van ouds, trek die myners nie net vir Mina uit die sloot, maar ook sommer die hyskraan. Eezy peezy. En ek haal aan: “…dit gaan beter met Mina nadat sy ‘n vitamien-inspuiting gekry het”.

En dan, dan is daar die berig oor die kleinflaminkkolonie van Kimberley en die onmin wat daar nou tussen ‘n gerekende ornitoloog en Mike Bolhuis – ‘n passievolle voëlredder (onder andere) uitgebreek het. Mike het van die flaminkkuikens gehoor en terstond ‘n privaat straler gekry om miljuisende van dié bondeltjies vere na sy plot in Pretoria te vervoer. Hy – Bolhuis, is uit elke oord geloof vir sy vinnige optrede en spog nou nie net met ‘n trop flaminke nie, maar ook die titel as SA se Flamink-Pappa. Die ornitoloog reken die reddingspoging was voortydig en dat daar nou ‘n wanbalans in die ekosisteem is (in Kimberley en in Pretoria… letterlik ‘n geval van hier te lank en daar te kort). Soos dit met alle verhoudings ook dan gaan, het Bolhuis terstond die ornitoloog van die Flamink-WhatsApp-groep verwyder (nadat hy ook eers foto’s van sy voëls die wêreld ingestuur het).

Soos ek die berig verstaan het geen flamink nou meer privaatheid nie. Snags bekruip ekoloë, ornitoloë, nuuskierige agies en Bolhuis-agente die broeipare van elke hoek en kant. Amper soos Area 51 daar in Amerika.

En om te dink, dit is net op bladsy 3! Teen die tyd wat jy die agterblad bereik het jy óf berading óf ‘n slukkie versterkwater nodig. Only in South Africa!

bladsy.jpg