Om ‘n lyn in die (digitale) sand te trek

Liewe Persoon,

Vir my eie selfbehoud – en dié van volk en vaderland, het dit tyd geword dat ek ‘n lyn in die sand trek. Tot hier toe en nie verder nie! Genoeg is genoeg!

En net voor jy vra: NEE, ek is nie net melodramaties nie! In fact, my bui het niks te make met die feit dat ek gekies het om ooptoon sandale op een van die mees renerige dae in die geskiedenis van Vanderbijlpark te dra nie. Dit het ook niks te make met die feit dat ek nou eers sien dat ek ‘n onderlaagmerk op my bloes het nie. Nee.

Hulle sê dit is die laaste strooihalm wat die kameel se rug breek, maar ek sê vir jou, dit is daardie soveelste (ondeurdagte) epos waarin die helfte van die republiek én die kabinet in ge-copy (CC) word, wat jou spoed breek. Jou dag bederf. Jou terstond van die Kategismus laat vergeet. Jou sonder effort in ‘n trol laat verander. En ek praat nie hier van storieboek-trolle nie. ‘n Kantoortrol is ‘n wilde en ongetemde ding…en in hierdie geval het sy koue tone en ‘n groot beige kol op haar bloes.

Daar behoort dissiplinêre stappe in plek te wees vir CC-ers. En verkieslik meer as ‘n piets op die hand wat die stuurknoppie druk. Ek meen: is dit regtig nodig om die dominee, die Minister van Vervoer en Padveiligheid, die kurator van die Klerksdorp Museum, die president van die Joolkommitee én die personeel van Voedseldienste te laat weet dat dat Dinsdag se vergadering oor beroepsveiligheid gekanseleer is? Ja, ek weet. Dié voorbeeld is oordadig, maar dit is hoe dit voel. Trues bob!

En ons almal maak ons hieraan skuldig – geleerdes, beleefdes, geliefdes en gevreesdes. Midde die spreekwoordelike oog van die storm is waar jy die meeste CC-ers sal vind. Ek dink dit is in hierdie oomblikke waar die gevoeltenis van do-or-die ‘n CC-er so beangs laat dat hy – of sy –  krampagtig glo in die berusting wat safety in numbers bied.

Maar dan, ten aanskoue van die hele wye wêreld sal een of twee of drie of sewe van die ontvangers (voortaan bekend as ‘medepligtiges’) hulself genope voel om wraggies weer daardie reply all -knoppie te druk om ‘n smiley te deel. Nee, mense! Deel ‘n blikkie Coke. ‘n Toebroodjie of selfs ‘n kommetjie koffie, maar moenie almal ter gelyke tyd in die digitale sandput speel nie. En bowenal: moenie sand aspris rondgooi nie.

Daarom het ek vandag (opnuut) besluit om ‘n lyn in die sand te trek – so to speak.  Ek stig sommer ‘n kommittee of ‘n taakmag om slagoffers van CC-ers te ondersteun én ‘n ondersteuningsgroep om CC-ers te bemagtig en te lei na enkel-ontvanger-eposse. Dit is werklik bevrydend: die druk om reg te spel is minder en statisties is jou kanse skraler om iemand in ‘n enkel-ontvanger-epos te ontstig.

Maar soos ek nou hier sit wonder ek: hoe gaan ek my goeie bedoeling én my call to action wyer bekend maak? Ek sal ‘n epos moet uitstuur… ‘n massa epos!

… ek sal maar ter wille van dié epos vir eers die lyn doodvee, maar sodra ek daardie CC-epos uitstuur, trek ek die streep. Finaal.

feet