Om totsiens te sê…

Liewe Persoon,

Om totsiens te sê suig en verandering is, myns insiens, die gebakte kool van die lewe.

Hanlie, my mater, kollega, medeskrywer, skaterlagter en koffieholis het bedank. En soos sy voorberei om op nuwe én groener korporatiewe gras te wei, probeer ek dink aan maniere om die angel uit totsiens te haal. Om die onvermydelike verandering wat volg, vir ‘n wyle te (probeer) stuit.

Jy sien, ek is nie groot op verandering nie. Inteendeel, as ek my sin kon hê sou ons steeds in Margaretstraat 81 gebly het.

Allan Donald, Gary Kirsten en Brian Mcmillan sou steeds ‘n protea op die bors gedra het, en Hansie sou nooit as te nimmer ‘n resiesperd met omkoopgeld gekoop het nie. Johan Stemmet sou steeds onooglike – maar plaaslik vervaardigde, onderbaadjies dra en Marietta Kruger sou steeds die nuus lees. Jy sou  ‘n  tweeliter-koeldrank én ‘n pak chutney-tjips vir R15 kon koop. Ons sal weer rooiworsies eet sonder om te vrees. En seker die belangrikste van alles:  ek en my Bibi-brak sou soos ouds weer kon snuggle.

Maar Hanlie het bedank en iemand het intussen die traliehek van nommer 81 ‘n verspotte geel geverf. So ons staar ‘n new normal in die gesig. Ek weet ek en die newby sal goed saamwerk, maar wat nou van al die sakke sout wat ek en Hanlie al verslind het? Trane, trauma en skande. Woede en frustrasie. Om nie eens te praat van al die binnepret wat al saam gepleeg is nie. Ons is kinders van dieselfde generasie. Ons het naaldwerk op skool oorleef, tik as ‘n vak op universiteit gehad en ons ken jou waarlik ook steeds Jollie en Ouboet se: “Poeksie Woeksie Worsie se Wapsie is nog baie lief vir jou!”

Ek dink ek verstaan nou hoe Pilletjie daardie jaar gevoel het toe ‘n eertydse kêrel vir haar ‘n Abba Gold-cd present gegee het. Ooooh. Dié cd het al die hits gehad: Dancing Queen, The Winner Takes it All, Fernando, Super Trooper en, my gunsteling: Waterloo. Die enigste probleem was dat ons op daardie stadium nog nie ‘n cd-speler gehad het nie…ons was nog op vinyls!

Soos ons die ure aftel tot die onvermydelike totsiens, wil ek vir Hanlie net die beste toewens, en haar herinner aan ‘n paar lewenslesse:

  • As kinders het ons sonder helmets fietsgery. Ons weet hoe om te survive.
  • Ons het male sonder tal water uit die tuinslang gedrink (veral wanneer ons sonder helmets die strate ingevaar het).
  • Fake it till you make it! Dié stukkie raak sal altyd goud werd wees. Net omdat ek nie die verskil tussen Star Wars en Star Trek ken nie, beteken dit nie dat ek (versigtig) my opnie sal gee nie. (En dis eintlik maklik: die een het ‘n prinses met twee bollas weeskante van haar gesig en die ander het Captain Spock – die ou met die short back and sides-haarstyl).
  • Pasop vir mense met vanne soos Logan, DeMira en Brady. Onvanpaste sepies propvol familietwis (en -liefde) en skelmstreke het ons hieroor geleer.
  • Jou sleutels is altyd op die laaste plek waar jy kyk. So begin jou soektog daar.
  • Potholes is hier om te bly (veral in Vereeniging en op die Ventersdorppad) so bly veilig en ry eerder op die sypaadjie.
  • Navorsing het bewys dat sjokolade en rooiwyn wel tot goeie hartswelstand bydra (Google dit, en sien vir jouself).
  • Onthou: as jy vir die Bulle skree, maak dit van jou ‘n Bloubulkoei.

Lief jou mater, en weet dat ek jou sommer baie gaan mis!

fotos (4).jpg

 

 

 

Lewer kommentaar