Veertig.

Liewe Persoon,

Vir Pa se veertigste verjaardag het ons ‘n get-together (nie ‘n party nie, want die Willemses is en was nog nooit party animals nie) by my Ouma Ciel se huis in Viljoenstraat (Viljoenskroon) gehou. Ja man, daai huis met die swart sinkdak, die wit fantails (of dakk**ers soos my Ouma dié ongenooide geveerdes genoem het) en, die Pride of India by die hek.

Van die hele gedoente kan ek net sulke grepies onthou… dit was in die aand, daar was baie mense en nog meer snorre (ek onthou dit, want Afrikaner ooms dood mos oor ‘n klapsoen – of jy nou bloedfamilie, aangetroud of per abuis in die omgewing is), daar was borde vol cocktail-uitjies-met-‘n-kasie op ‘n tandestokkie en van daardie papier-fluitjies. En ek was omtrent net so hoog soos Ouma Ciel se sideboard in die eetkamer. Dié een met die geraamde foto van ‘n jong en oopgesig Sakkie in die Polisiekollege, ‘n foto van Oupa Basjan se boerekommando en die Willemse-familiewapen.

Anyway.

Ek het in my binneste geweet dat ‘n veertigste verjaardag ‘n groot affêre is.

Fast forward tot by Pa se vyftigste verjaardag. Nou dit was ‘n geleentheid wat helder in my geheue is: ek onthou tot my en die Juffrou se matching outfits (ons is immers ‘n tweeling). Pilletjie se kêrel van destyds, ‘n pastorieseun van Leeudoringstad, was ook daar. So ook die hele Willemse-clan: Ouma Ciel,  broer Sakkie en sy gesin en, suster Hanna en haar gesin. Ooms en tantes, niggies en nefies… Ek onthou dat ons glase by Western Cellars in Virginia gehuur het. Die stoele en stoelrokkies het ons by die myn se klub gekry.  Daar was nie uitjies-op-‘n-stokkie-nie, maar wel skaapboud, hoender en soutvleis genoeg om ‘n army kos te gee. Snaaks hoe die lekker eet my altyd by bly. O, ja. En die vragte skottelgoed…

Ek word binnekort veertig.

En ek moet erken – ek is nogal lugtig vir dié mylpaal. Wat as alles my ook in ‘n war verbygaan? So deurmekaar soos dinge deesdae is, is niks onmoontlik nie!  Ek lê snags en wonder oor my vrees vir veertig. En getrou aan my (melodramatiese) aard, wil-wil die groot vier nul my na ‘n snesie laat gryp. Tyd stap aan en wag vir niemand nie. En voor jy jou oë rol: ek weet, dit is die normale gang van die lewe. Miskien is dit omdat ek weet dat daar nie ‘n opskop in Viljoenstraat sal wees nie. Dat Pa nie vir my ‘You are my sunshine’ sal sing nie en, dat die Willemse-clan nooit weer voltallig by ‘n tafel sal aansit nie.

Ek is nie in sak en as hieroor nie. Net emosioneel… en miskien ook ‘n bietjie homesick na ‘n tyd en plek lank vergete.

Ma, Pilletjie, Juffrou en die Swaer sal daar wees. Ons sal lekker eet en ons sal lag en vrolik wees. Ons sal die verjaarsdae van vroeër onthou – soos die een in Sub-B toe Ma vir my en die Juffrou ‘n stoofkoek (!) gebak het en ons elkeen ‘n BMX gekry het.

Ons sal innig dankbaar wees.

En wie weet, miskien sorg Ma vir cocktail uitjies.

ideas-plan-40th-birthday-party-article-600x400

Advertisements

Drukkers wat nie wil druk nie

Liewe Persoon

Op varsity het ek ‘n dosent gehad wat net botweg geweier het om enige verskoning – hoe geloofwaardig ookal, te entertain. Hy sou met elke opdrag dieselfde waarskuwing gee: “Dames en here, moenie my probeer nie. Ek wil nie hoor van drukkers wat nie druk nie!”

En dit was toe ook so.

Die hond kon jou referaat verslind, ‘n sjokolademelkie kon in jou klasdrafsak uitloop (en jou notas verwoes), ‘n rekenaarvirus kon oornag jou Documents-leêr opvreet, ‘n oorywerige mansvriend met ‘n verloofring in die Kaf kon jou voete onder jou uitslaan en, Pavarotti homself kon in die Amfi optree: geen verskonings is geduld nie.

En hier sit ek vandag, baie jare later, met ‘n drukker wat (regtig) nie wil druk nie én ‘n internet wat nie wil Google nie! En dit is erg frustrerend. My gedagtes dwaal ver terwyl die oukie van IT baie hard probeer om kalm te bly en die dinge weer aan die gang te kry, maar dit lyk nie belowend nie (nie vir hom nie, en ook nie vir my nie). En glo my, ek het elke trick in die boek probeer: ‘n ticket geskep op die sisteem, die IT-kantoor (male sonder tal) gebel en selfs ‘n hooggeplaasde (of ses) se naam roekeloos rondgeslinger.

Maar die drukker wil nie druk nie, en die internet wil nie Google nie.

Ek dink terug aan soortgelyke varsity trauma, en kry lag vir hoe diesulke krisisse vir my na die einde van die wêreld gevoel het. Hulle sê hindsight is a perfect science, en as ek nou aan daardie jare dink wil ek op ‘n stoel klim en vir my jonger self skree: Haal asem en ontspan die boude! Histerie is vir grootmense wat werk en belasting (en televisielisensies) betaal.

Daar is veral een voorval in my finalejaar wat my voorwaar binne enkele minute in ‘n verwese akademiese wrak verander het. Ek wonder of Karools en Elbie dit onthou? Dit was in September van 2001. Die opdrag was eenvoudig genoeg: skep ‘n webblad tydens ‘n praktiese klas met mnr van Rooyen. Dis nou die einste Meneer  wat geen verskoning geduld het nie.

Niks van my webblad wou werk nie, en ek was al lus om op te skop toe Elbie en Karools (versigtig) voorstel dat ek die Control+Alt-kombinasie uitprobeer. Met dié shortcut sou ek soos ‘n keyboard warrior van ouds beheer neem oor ‘n sisteem wat ek met vreemde en paniekerige coding in chaos gedompel het. (Min het ek geweet dat dit eintlik ‘n PICNIC probleem was: Problem In Chair Not In Computer, maar dit daar gelaat.)

Ek het nie op my laat wag nie, en het laat waai met dié raad. Skielik het my skerm begin flikker en my webblad het net daar en dan in die abyss van die interweb verdwyn.  Ek is seker die dosent kon my vrees ruik, want die volgende oomblik was hy daar om punte te gee. Ek het verduidelik dat alles net verdwyn het en dat ek regtig egtig ‘n webblad gehad het, ek kon dit net nie vir hom wys nie. Die feit dat my dokument die lagwekkende naam van ‘grootgesukkel1’ gehad het, het ook nie gehelp nie. Wie noem dan nou ‘n webblad so? En meer nog: waar is die bewyse dat dit inderdaad so ‘n gesukkel was? Die dokument was blank, die dosent genadeloos en ek was in trane.

Die resultaat: ‘n groot ronde nul! Laasgenoemde was natuurlik ‘n eerste vir my en ek het vas geglo dat ek my graad sou pluk en noodgedwonge by ‘n inbelsentrum sou moes werk.  In my geestesoog het ek gesien hoe ek in my ouers sy buitekamer intrek en vir die res van my lewe katjiebotter (peanutbutter) broodjies vir middagete sou moes eet.

Karools en Elbie het oogkontak vermy. Op pad kar toe het Elbie wel genoem dat ek moet ophou grens, want (1) dit behaag nie ‘n finalejaar nie, (2) my ma sou skrik en dink ek het iets verskrikliks oorgekom (al was dit wel die geval) en (3) my jaarpunt in webontwikkeling sou my nerf-af basvel red.

Einde van die storie: ek het my graad cum laude geslaag. En nee, tot vandag toe gee ek  my nie uit as ‘n webontwerper nie. Ek het ook nog nooit weer die Control+Alt doodskok gebruik nie.

Die oukie van IT is onrusbarend stil. Min weet hy dat ek reeds vantevore met kompertrauma te doen gehad het. Ek is ‘n sterk (maar ongeduldige) baba. Ek bel hom sommer nou weer, want die drukker druk (steeds) nie en die internet wil nie Google nie.

when_there_is_a_problem_2993

Om totsiens te sê…

Liewe Persoon,

Om totsiens te sê suig en verandering is, myns insiens, die gebakte kool van die lewe.

Hanlie, my mater, kollega, medeskrywer, skaterlagter en koffieholis het bedank. En soos sy voorberei om op nuwe én groener korporatiewe gras te wei, probeer ek dink aan maniere om die angel uit totsiens te haal. Om die onvermydelike verandering wat volg, vir ‘n wyle te (probeer) stuit.

Jy sien, ek is nie groot op verandering nie. Inteendeel, as ek my sin kon hê sou ons steeds in Margaretstraat 81 gebly het.

Allan Donald, Gary Kirsten en Brian Mcmillan sou steeds ‘n protea op die bors gedra het, en Hansie sou nooit as te nimmer ‘n resiesperd met omkoopgeld gekoop het nie. Johan Stemmet sou steeds onooglike – maar plaaslik vervaardigde, onderbaadjies dra en Marietta Kruger sou steeds die nuus lees. Jy sou  ‘n  tweeliter-koeldrank én ‘n pak chutney-tjips vir R15 kon koop. Ons sal weer rooiworsies eet sonder om te vrees. En seker die belangrikste van alles:  ek en my Bibi-brak sou soos ouds weer kon snuggle.

Maar Hanlie het bedank en iemand het intussen die traliehek van nommer 81 ‘n verspotte geel geverf. So ons staar ‘n new normal in die gesig. Ek weet ek en die newby sal goed saamwerk, maar wat nou van al die sakke sout wat ek en Hanlie al verslind het? Trane, trauma en skande. Woede en frustrasie. Om nie eens te praat van al die binnepret wat al saam gepleeg is nie. Ons is kinders van dieselfde generasie. Ons het naaldwerk op skool oorleef, tik as ‘n vak op universiteit gehad en ons ken jou waarlik ook steeds Jollie en Ouboet se: “Poeksie Woeksie Worsie se Wapsie is nog baie lief vir jou!”

Ek dink ek verstaan nou hoe Pilletjie daardie jaar gevoel het toe ‘n eertydse kêrel vir haar ‘n Abba Gold-cd present gegee het. Ooooh. Dié cd het al die hits gehad: Dancing Queen, The Winner Takes it All, Fernando, Super Trooper en, my gunsteling: Waterloo. Die enigste probleem was dat ons op daardie stadium nog nie ‘n cd-speler gehad het nie…ons was nog op vinyls!

Soos ons die ure aftel tot die onvermydelike totsiens, wil ek vir Hanlie net die beste toewens, en haar herinner aan ‘n paar lewenslesse:

  • As kinders het ons sonder helmets fietsgery. Ons weet hoe om te survive.
  • Ons het male sonder tal water uit die tuinslang gedrink (veral wanneer ons sonder helmets die strate ingevaar het).
  • Fake it till you make it! Dié stukkie raak sal altyd goud werd wees. Net omdat ek nie die verskil tussen Star Wars en Star Trek ken nie, beteken dit nie dat ek (versigtig) my opnie sal gee nie. (En dis eintlik maklik: die een het ‘n prinses met twee bollas weeskante van haar gesig en die ander het Captain Spock – die ou met die short back and sides-haarstyl).
  • Pasop vir mense met vanne soos Logan, DeMira en Brady. Onvanpaste sepies propvol familietwis (en -liefde) en skelmstreke het ons hieroor geleer.
  • Jou sleutels is altyd op die laaste plek waar jy kyk. So begin jou soektog daar.
  • Potholes is hier om te bly (veral in Vereeniging en op die Ventersdorppad) so bly veilig en ry eerder op die sypaadjie.
  • Navorsing het bewys dat sjokolade en rooiwyn wel tot goeie hartswelstand bydra (Google dit, en sien vir jouself).
  • Onthou: as jy vir die Bulle skree, maak dit van jou ‘n Bloubulkoei.

Lief jou mater, en weet dat ek jou sommer baie gaan mis!

fotos (4).jpg

 

 

 

Oor snorre en simptome…

Liewe Persoon,

Ma het so ‘n rukkie terug gebel, doodsbenoud. Reken, die diaken het ‘n geswelde klier! Nou, voor jy soos ek die ergste verwag en paniekerig wonder waarom Ma so begaan is oor die geswelde klier: relax.  Wat sy eerste moes noem is dat sy Saterdag moet help pannekoeke bak by die laerskool se sportdag omdat die diaken ‘n seer oor het en daarom nie kan help met die pannekoek-aksie nie.

Sien. Hy reken dat al wat sy klier nodig het om oor te sit in virale longontsteking, is die koue trek daar langs die rugbyveld se hoofpaviljoen. Sy dramatiese exit vanaf die pannekoek-komitee bevestig my vermoede dat alle mans daartoe geneig is om snorre en simptome (en soms ook visvangstories) te oordryf.

Kyk nou maar vir die Adams met die onderstreepte neuse: ‘n snor is òf welig en woes òf yl en uhm… grillerig. Kyk nou maar vir Tom Selleck en sy lipmatjie… en loer dan na Chris Chameleon (wat toe soos die res van ons gewone sterflinge, maar ook net ‘n Bles-aanhanger is) se ses gekrulde snorbaarde.

Maar om terug te kom by skete.

Voor ek verder vertel, moet ek jou darem vergewis van die aard van ‘n skeet: ‘n skeet is nie lewensbedrygend nie. ‘n Skeet het nie ‘n herhaal-voorskrif nodig nie. ‘n Skeet kan òf vergeet word òf vertroetel word – amper soos ‘n geweerskoot wat jou in die voet  tref. Jy is straks self verantwoordelik vir die besering (deur oorhaastig die skoot af te vuur voordat die loop in die lug was) of jy was die slagoffer van ‘n dramatiese jagtragedie (waartydens jou vriend met die wingerdgriep se korrel uit was en hy jou vir ‘n slapende bok aangesien het). Eersgenoemde skeet, word liefs vergeet terwyl die laasgenoemde skeet – dis nou jou linkervoet sonder gevoel, vertroetel word.

Hetsy Adam nou ‘n snor of snorbaarde het, ek kan jou verseker hy het ‘n paar skete wat hom al lankal pla. En nee. Dit hou hom nie uit die slaap nie, en dit verhoed hom nie om sy rugby met oorgawe te geniet nie, maar dit sorg vir diep gesprekke om die braaivleisvuur saam met die manne. Tydens die tradisionele reënboogbroodjies-samesyn na ‘n begrafnis. Tussen smoke breaks tydens hospitaal besoektye en, dan meer onlangs ook tydens huisbesoek.

Pa en sy goeie vriend Osie het ook graag skete bepraat, uitprobeer en selfs met tye gedramatiseer vir die nodige effek. Dié twee – wat mekaar as jong vakleerlinge leer ken het, het mos onderskeidelik die oog- en die oorkwaal gehad. Osie kan, tot vandag toe, nie baie goed sien nie en Pa, wel hy kon nie baie goed hoor nie. So tref ons eendag die twee manne – wat terloops altwee ook snorre gehad het, in die kombuis aan besig om die nuwe stoof te bedraad: Pa en Osie sit voor die stoof en pas al om die ander beurt mekaar se brille aan – om beter te sien, verstaan. Toe die TurboFan se oondwaaier aangaan, toe het elkeen weer een van Pa se gehoorapparate in die oor – om beter te hoor, verstaan. Jy sien, die twee was sulke goeie vriende dat hul straks skete uitgeruil het.

So weet ek ook van ‘n liewe oom in Virginia wat na ‘n groot rugoperasie vir ses weke in die bed moes lê. Ten einde laaste het sy vrou hom lê-gemaak in die sonkamer sodat hy darem besoekers kon ontvang. Hy raak hy een middag kaalvoet aan die slaap op die dagbed. Die volgende oomblik ervaar hy ‘n ongelooflike steekpyn aan die regterkant van sy lyf – ‘n hartkramp, jy sien. Net daar besef hy dat sy skete hom ingehaal het, en dat hy die ewigheid sal moet in met ‘n back brace. 

Siestog. Dit was toe al die tyd Flippie, die gesin se African Grey-pappegaai, wat hom aan sy kleintoontjie gebyt het…  Is dit hoe oom Toon (‘n ongenaakbare bynaam na afloop van die gebyt) dié dag beskryf? Nee. Hy begin nog al die jare die storie met die feit dat sy hart reeds van jonkmansdae af ‘n skeet het…

snorre en streke

 

 

Om ‘n lyn in die (digitale) sand te trek

Liewe Persoon,

Vir my eie selfbehoud – en dié van volk en vaderland, het dit tyd geword dat ek ‘n lyn in die sand trek. Tot hier toe en nie verder nie! Genoeg is genoeg!

En net voor jy vra: NEE, ek is nie net melodramaties nie! In fact, my bui het niks te make met die feit dat ek gekies het om ooptoon sandale op een van die mees renerige dae in die geskiedenis van Vanderbijlpark te dra nie. Dit het ook niks te make met die feit dat ek nou eers sien dat ek ‘n onderlaagmerk op my bloes het nie. Nee.

Hulle sê dit is die laaste strooihalm wat die kameel se rug breek, maar ek sê vir jou, dit is daardie soveelste (ondeurdagte) epos waarin die helfte van die republiek én die kabinet in ge-copy (CC) word, wat jou spoed breek. Jou dag bederf. Jou terstond van die Kategismus laat vergeet. Jou sonder effort in ‘n trol laat verander. En ek praat nie hier van storieboek-trolle nie. ‘n Kantoortrol is ‘n wilde en ongetemde ding…en in hierdie geval het sy koue tone en ‘n groot beige kol op haar bloes.

Daar behoort dissiplinêre stappe in plek te wees vir CC-ers. En verkieslik meer as ‘n piets op die hand wat die stuurknoppie druk. Ek meen: is dit regtig nodig om die dominee, die Minister van Vervoer en Padveiligheid, die kurator van die Klerksdorp Museum, die president van die Joolkommitee én die personeel van Voedseldienste te laat weet dat dat Dinsdag se vergadering oor beroepsveiligheid gekanseleer is? Ja, ek weet. Dié voorbeeld is oordadig, maar dit is hoe dit voel. Trues bob!

En ons almal maak ons hieraan skuldig – geleerdes, beleefdes, geliefdes en gevreesdes. Midde die spreekwoordelike oog van die storm is waar jy die meeste CC-ers sal vind. Ek dink dit is in hierdie oomblikke waar die gevoeltenis van do-or-die ‘n CC-er so beangs laat dat hy – of sy –  krampagtig glo in die berusting wat safety in numbers bied.

Maar dan, ten aanskoue van die hele wye wêreld sal een of twee of drie of sewe van die ontvangers (voortaan bekend as ‘medepligtiges’) hulself genope voel om wraggies weer daardie reply all -knoppie te druk om ‘n smiley te deel. Nee, mense! Deel ‘n blikkie Coke. ‘n Toebroodjie of selfs ‘n kommetjie koffie, maar moenie almal ter gelyke tyd in die digitale sandput speel nie. En bowenal: moenie sand aspris rondgooi nie.

Daarom het ek vandag (opnuut) besluit om ‘n lyn in die sand te trek – so to speak.  Ek stig sommer ‘n kommittee of ‘n taakmag om slagoffers van CC-ers te ondersteun én ‘n ondersteuningsgroep om CC-ers te bemagtig en te lei na enkel-ontvanger-eposse. Dit is werklik bevrydend: die druk om reg te spel is minder en statisties is jou kanse skraler om iemand in ‘n enkel-ontvanger-epos te ontstig.

Maar soos ek nou hier sit wonder ek: hoe gaan ek my goeie bedoeling én my call to action wyer bekend maak? Ek sal ‘n epos moet uitstuur… ‘n massa epos!

… ek sal maar ter wille van dié epos vir eers die lyn doodvee, maar sodra ek daardie CC-epos uitstuur, trek ek die streep. Finaal.

feet

 

Vertel my meer van jouself…

Liewe Persoon,

Ek het dié vraag verwag. Ek bedoel, wat is ‘n werksonderhoud nou sonder die ‘vertel-my-meer-van-jouself’- wals? En jy ken vir my. As dit by dans kom het ek pastorie voete…

Jy sien, dié vraag sit my skuins. Bedoel hulle nou my persoonlike lewe, my werksetiek of ‘n gedwonge kombinasie van die twee? Hulle vra mos nooit spesifiek nie, nee. So waar begin jy? Of nog erger: waar trek jy die lyn tussen have to know en need to know?  Dink ‘n bietjie daaroor…

As jy mooi dink, raak dié vraag al hoe gevaarliker, hoe ouer jy word.

As (onervare) jongmens aan die begin van jou loopbaan kan niemand jou mos iets leer nie! Dan loop jy mos ast’ware met akademiese geleerdheid as ‘n superhero mantel rond – reg om diesulkes (soos byvoorbeeld 30-jariges met meer praktiese ondervinding) op die smal weg van toepaslike teoreë en wetenskapsleer te hou.  In jou dertigs is die vuur en passie steeds daar, maar jy het die wysheid (en kalmte) van lewenservaring. Teen jou veertigs het jy al ‘n rondte of twee in die kryt van val-en-opstaan gehad… en voel jy soos Rocky in daai scene waar hy ‘n gevriesde karkas laat les opsê. Op vyftig bid jy vir pouse of oorweeg jy drastiese veranderinge: miskien koop jy ‘n Harley Davidson Fat Boy op skuld. Miskien vat jy sak en pak die pad Nieu Bethesda toe om daar ‘n organiese kaktus-boerdery te begin. Miskien koop jy ‘n vlugkaartjie Meksiko toe – voor daardie staatsman met die Piz Buin aanspry-tan en die yl haartjies – begin om aan sy muur te bou.

So. Om terug te kom na daardie vraag.

Maak dit regtig saak of ek meer van die Lord of the Rings-movie gehou het, as van die boek? Is dit belangrik om my vrees vir warm skoene en tweedehandse matrasse met ‘n voornemende werkgewer te deel?  Of wat van my imposante versameling geel plastiek eendjies? O, en dan moet ek bieg: ek het ‘n morele probleem met platters wat beide hoenderboudjies én hardgekookte eiers aan honger kantoorpersoneel bied. Ek loooove rooi skoene. Ek verpes onderarm-aanrol advertensies (sies!) net soveel as wasgoedpoeier foefies (niks anders as propoganda!).

Nee. Ek is nie getroud nie.
Ja. Dit is my keuse.

En dan is daar nog familiebome (en -bomme). Berugte en gerugte oor vriende. Die het-jy-gehoor-van-stories en die lavish detail oor ‘n sekere aardrykskunde toets in standerd 9, koshuispartytjies in jou eerstejaar en twyfelagtige mode keuses (al wat saak maak is dat ek aangeneem en voorgestel is in die Kerk, en nié dat ek ‘n paar spierwit patent leather platformskoene aangehad het nie). Enough said.

Wat ek eintlik vir mnr. Werkgewer wil sê is dat ek meer is as my grille en geite. Dat ek elke dag my bes probeer. Dat ek, soos my Ouma Sielie gesê het, sindelik is. Dat ek in technicolor droom. Dat ek bereid is om te leer.

En seker die belangrikste: dat ek dié job baie nodig het as ek ook eendag ‘n Harley wil hoor brul…

interviews.jpg

 

 

Sponskoek

Liewe Persoon

Ek twyfel of daar iets op hierdie aarde is wat meer versatile is as ‘n sponskoek. Noem dit sommer die all-rounder van koeke. Jy kan dit kompleet – soos ‘n Gert-Johan Coetzee-nommertjie, optof vir die rooitapyt én terselfdertyd – met ‘n paar pumps en ‘n ligte lipstiffie, haar down-style ,en so die kollig by ‘n skoolbraai steel.

Of sy nou met marsepein spog, snoesig onder botterversiersel rus of, sommer net in ‘n stropie baai, sy bly ‘n staatmaker. My ouma het sponskoek-se-kind altyd met appelkooskonfyt gesmeer en Krismis is gekookte kondensmelk nader getrek. As dinge flop – wat selde met ‘n sponskoek (kan) gebeur, dan maak jy koekstruif. Laasgenoemde is egter nie ‘n persoonlike gunsteling nie, daar is na my mening hopeloos te veel geure, kleure en teksture wat dan saamgedwing word… en vla kan net soveel fix.

Maar iets wat my dwars in die krop steek, is as sponskoek haar lyf tert probeer hou!

Net gister is dit een van daardie ek-soek-nou-koek-dae. Jy weet, daardie dae met die hutsmerk #koekmynou of #koekvirpresident anyway... So tel ek letterlik die sekondes af tot etenstyd en vlieg teen ‘n onbehoorlike spoed – saam met my bestie, na Mugg & Bean. Ek kon letterlik hulle peppermint-crisp tert proe, en het byna soos ‘n hondsdol meerkat om die mond geskuim. Ek was reg vir aksie en my insulienpen was oorgehaal.

En daar is die deure styf toe, en die ligte is af… beurtkrag! Ellende!

Ek was op die punt om ‘n tantrum te gooi wat die mees gesoute kleuter in verwondering sou laat staar. Dit het gevoel of ek wil hiperventileer en ek het skielik ‘n skelhoofpyn hier neffens my lewer ontwikkel. My en bestie se koeklus het toe ook sommer in overdrive gespring, want dis is mos hoe dinge werk…

Ons besluit dat kettingwinkel-koek ook die ding sou doen, en bespring die naby geleë winkel. En wat sien ek toe ek by die koektoonbank kom? ‘n Gesonde sny perpermint-crisp tert. Reeds hier moes ek onraad vermoed het, maar my maag het die dinkwerk gedoen en nie my verstand nie. Die prys – ‘n derde van wat dit by die koffiewinkel kos, het dalk ook tot my onbesonne besluit bygedra. Ek koop terstond ‘n blok en betaal met ‘n honger greinslag die R16.50. Bestie besluit op iets wat lyk soos ‘n merske koeksister met vla.

Terug in die kar kan ons nie wag om te begin smul nie… en dit is net hier waar die ontnugtering my vol in die gesig (of is dit nou, maag?) tref! Dis ‘n blok (baksteen) sponskoek met groen versiersel… van peppermint-crisp is daar nie sprake nie! Dié groen bekleedsel proe pure tandepasta en skielik wil die lepel vol droë sponskoek ook nie ‘n holte in my kies kry nie. My sluk trek skoon toe…

Dis in tye soos hierdie wat ek Ouma Cielie se gesegde van  ‘iemand vir ‘n eendvoël aansien’ onthou en my onmiddelik  aan selfbejammering oorgee.

Maar wat staan ‘n koeklustige vrou te doen? Ek eet toe maar aan dié pretentious tert, want daar moet nooit gesê word dat Annette Willemse nie probeer nie. Ek kon net die helfte van die affêre gesluk kry. Ek verbeel my toe sommer ook terstond dat my maag gevaarlike draaie maak en ek onthou boonop dat ‘n oordosis tandepasta jou in jou spore kan stuut. Vir altyd. Kapoet. End of the line!

Dit kom nou daarvan as ‘n sponskoek haar lyf tert hou!  Hier waar ek nou sit, proe ek steeds tandepasta en so dan en wan val daar ‘n druppel sweet van my voorkop. My maag is beter – ek dink dit is van al die roosterbrood en flat Coke.

Om te dink dat ‘n sponskoek, ‘n koeklus nou so (kwaadwillig) kan bederf…

sponskoek